Die mense is ‘n kuddedier – dit leer ons al van kleins af. Jy staan nog skaars tien bakstene hoog en jy word reeds na ‘n groep toe by die kleuterskool gedwing: “Kom nou liefie, moenie net daar staan nie, gaan speel met die maatjies.” Word deel.
Zerelda Esterhuizen
Ek was nog nooit ‘n tropdier nie, hoewel ek hard probeer het om een te wees. Ek onthou nog in die kleuterskool wou ek nie doen wat die ander maatjies doen nie – ek het die skopfietse gehaat en wou net graag by die klein stofie en met die aantrek-klere speel. Ek was mal oor storietyd – ek wou veel eerder na Juffrou luister as om in die groep te dans en sing.
Latere jare het ek hierdie geneigdheid in myself raakgesien en probeer konformeer. Ek wou ook gewild wees – ek wou ook behoort. Ek het probeer. Ek het gedog as ek dít doen en dát doen sou ek ook tog net cool wees. Pure simpelgeit weet ek nou, maar toe was my “maats” se siening van my die belangrikste ding ooit.
Soos ek ouer geword het en genadiglik meer oor die lewe, die liefde en die wêreld begin leer het, het ek besef die trop is nie altyd reg en goed en gaaf nie. Soms moet jy juis stroomop swem en nie stroomaf nie – en soms is dit baie beter (en veiliger) om eenkant te staan en kyk.
Skrywer Hans du Plessis sê in ons 22 Julie-uitgawe iets wat my weer opnuut na die onderwerp laat kyk het: “’n Tropmens was ek nog nooit, maar ook nooit ’n renegaat nie. Ek verkies om van buite af te kyk, want van binne af voel dit vir my of ’n mens net toegelaat word om kollektief te sien. Ek verkies dit om self te kyk en self te sien – al is dit nie altyd wat die trop sien nie.”
Die lewe het mos maar die geneigdheid om jou soos ‘n klip te skuur en ek het ook al besef dat ek self moet kyk, moet dink en moet sien. En wat ek van myself dink, is baie belangriker as wat ander van my dink..
Maar nou is ek ‘n ma en ek vang myself dat ek van my eie kinders kuddediere probeer maak. Jongste wil niks weet van rugby nie, maar ek betaal vir buitekurrikulêre klasse “sodat die kind tog net iets kan doen en deel van iets kan wees”. Oudste wil tientalle dinge nie doen nie (en laat my dit mooi verstaan), maar ek probeer haar stuur waar ek dink sy moet wees. Na die groep toe. Oudste wil soms nie met sekere maatjies speel nie, maar ek probeer haar stuur, want ek ken die ouers en ek voel dis “die regte maats vir haar”. Na die groep toe.
Soms is dit nie sleg vir kinders (en hul ma’s) om randfigure te wees nie, want van die randjie af kan jy mooi sien, wyd kyk en vir jouself dink. En soms moet ‘n mens jou kinders ook net toelaat om hul eie bootjie te stuur – of dit nou weg van die groep is of nie.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.