Wanneer is dit oukei om jou kind die besluite te laat neem?
Zerelda Esterhuizen
“You have brains in your head. You have feet in your shoes. You can steer yourself any direction you choose. You’re on your own. And you know what you know. And are the one who’ll decide where to go …” ? Dr Seuss, Oh, The Places You’ll Go!
Die hemele weet, ons wil dit nie altyd weet nie, maar dr Seuss is reg. Kinders kan hulself in enige rigting stuur wat hulle wil en hulle kan self besluit waarheen hulle wil gaan. En dit geld nie net vir groter kinders nie … Al is hulle in graad 1, droom hulle oor huise vir hul Barbies, lees hulle nou eers ’n Maat vir Jan en is baie trots as hulle hul ma se nommer onthou. Ek weet tieners glo hulle is superslim wesens, maar ek ken ‘n graadeentjie wat dink sy het reeds die wêreld se kennis in pag. En soms leer sy haar ma ook ’n ding of twee …
So gebeur dit onlangs dat ’n sekere dogtertjie die een na die ander aktiwiteit wat sy eers met groot entoesiasme begin het, wil staak. Sy is nou moeg vir als.
Sy wou laas jaar ballet doen en ek het ten duurste by ’n danswinkel tutu’s, tights en balletskoene gaan koop. Ek sou eers later uitvind dat jy dit baie goedkoper by ’n bekende afdelingswinkel kan koop … Dieselfde met koor. Sy was net nie meer lus om dit te doen nie, want sy moet te lank daar staan, haar bene word moeg en die liedjies is regtig baie boring. Sy wil dit nie oor en oor sing nie, Mamma verstaan mos?
Ná ’n lang beraadslaging en ’n vurige debat tussen Pa en Ma van die Jaar oor of ons ’n demokrasie of outokrasie in die huis het, is daar besluit dat sy dit maar kan los.
So kom dit toe dat ons besige bytjie een aand aan die skool se Spelling Bee moet deelneem en die volgende aand ’n gedig by die eisteddfod moet opsê.
Dit klink vir haar lekker, maar Ma van die Jaar maan (die redenaarsfiasko nog vars in my geheue) sy hoef regtig nie aan als deel te neem nie, maar sy wil.
Hoe nader aan die week, hoe meer krimp haar entoesiasme. Noudat sy sien dit verg oefening en werk, is sy nie meer lus vir die storie nie … Ek sê vir haar: “My liewe suster, kom ons maak ’n deal. Van nou af, kan jy enigiets stop as jy vir my al die geld teruggee wat ek al daaraan bestee het. Jy gee dus vir my deposito’s en dies meer terug.” Ek kan sommer sien hoe werk haar brein in die hoogste versnelling en sy glimlag selfvoldaan.
“Mamma, jy het R30 vir die Spelling Bee betaal. Ek het geld, ek sal dit vir jou teruggee en dan gaan ek nog R20 kleingeld hê!” Sy besluit tog om deur te druk.
Intussen speel sy ook hokkie en ek koop vir haar die hokkieskerms vir die bene en betaal vir ’n hokkiekliniek by die skool. Ek kom agter dat sy nie eintlik veel oefen nie en sy het kort-kort ’n ander verskoning daarvoor. Die hokkiejuffrou was nie daar nie, sy het haar hokkiestok by die huis vergeet, hulle het haar nie by die naskool kom roep nie, ensovoorts.
Ek lees haar die leviete voor en ruk ’n preek daar uit oor hoe belangrik dit is om aan oefening deel te neem, hoe goed dit is om met iets deur te druk en blablabla. Ek oortuig amper myself.
Dis toe ek een middag by die skool stop dat ek dit heeltemal verloor: “Hoe was hokkie?”
“Ek was nie daar nie, Mamma. Ek het my stok by die huis gelos.”
Wat? Ná ’n lang dag by die werk, skree ek op die kind oor hoe jy goed moet bywoon en as sy dit nie nou gaan besef nie, is dit verby en en en …
“Mamma, ek het gesê ek hou nie van hokkie nie. Net omdat jy van hokkie gehou het, beteken dit nie ek moet ook daarvan hou nie. Net omdat jy dit op skool gespeel het, beteken dit nie ek moet dit ook doen nie.”
Doodse stilte. Ek hap lug … Wat?
Dit was vir my ’n Catch 22-situasie, want ek wil dit nie eintlik erken nie, maar sy het ’n punt beet. Ek het van hokkie gehou en wou graag hê dat sy dit ook moet geniet. Maar los ek haar, dink sy nie dan net dat sy met iets kan begin en dit net weer kan los nie?
Ek het tog besef dat ek haar moet los om haar eie besluite te maak. Ons kan nie ons kinders in rigtings in dwing nie. Ons kan ons kinders lei en ons kan hulle die paaie wys wat ons dink hulle moet loop, maar hulle moet hul eie paadjie uitkerf en self leer dat hulle kanse het; dat hulle keuses het en dat daai keuses ook sekere gevolge inhou. En dan kan ons net soos dr Seuss sê: “You’re off to great places. Today is your day! Your mountain is waiting, So … get on your way!” En hoop dat hulle die regte berg sal bestyg en die regte pad daarheen sal vat.
Bron: Dr Seuss se Oh, The Places You’ll Go!
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.