‘n Kollega deel onlangs met my ‘n stuk uit Margaret Atwood se Cat’s Eye waar sy oor giftige meisies skryf:
Zerelda Esterhuizen
“On the window ledge beside mine, Cordelia and Grace and Carol are sitting, jammed in together, whispering and giggling. I have to sit on a window ledge by myself because they aren’t speaking to me. It’s something I said wrong, but I don’t know what it is because they won’t tell me. Cordelia says it will be better for me to think back over everything I’ve said today and try to pick out the wrong thing. That way I will learn not to say such a thing again. When I’ve guessed the right answer, they will speak to me again. All of this is for my own good, because they are my best friends and they want to help me improve …
“[Later] I stand outside the closed door of Cordelia’s room. Cordelia, Grace and Carol are inside. They’re having a meeting. The meeting is about me. I am just not measuring up, although they are giving me every chance. I will have to do better. But better at what? …
“Hatred would have been easier. With hatred, I would have known what to do. Hatred is clear, metallic, one-handed, unwavering; unlike love.”
Hierdie meisies in die verhaal is nege jaar oud. Nee, hulle is nie moerige tieners nie. Hulle is nege jaar oud. Ek wens ek kon gesê het dat hierdie soort meisies net in die binneblaaie van boeke bestaan, maar helaas. Giftige dogtertjies bestaan.
Ek onthou nog my skok toe ek ‘n tranerige dogtertjie eendag by die kleuterskool opgelaai het. “Mamma, hulle wou nie vandag met my gespeel het nie, want ek het nie pienk tekkies aangehad nie.” Wat?
Toe weer ‘n ander keer: “Vandag het Nina* net met die dogtertjies gespeel wat lang, blonde hare het …” Wat?!
Vir mense wat twee breinselle het (en nog ‘n paar ekstra) klink dit mos nou belaglik, maar vir ouers van skoolgaande meisies, is dogtertjiedramas ‘n realiteit.
My oudste is nou in graad 2 en ek moet kort-kort van die vele vetes hoor. Haar gesig in die middag kan die toon vir ons hele middag aangee en kan eintlik net mooi haar ma se hele aand bederf. Want daai bewolkte gesig as ek haar optel, beteken gewoonlik net een ding: Daar is weer drama in die “Days of a school girl’s life”.
Ag, mamma daai ene wil nie meer met my speel nie en daai ene wil die heeltyd die “baas van die game” wees en daai ene het gesê “ek is vieslik en sy wil my nooit weer sien nie”. Ek kon al vir my ‘n vakansiehuisie op ‘n Griekse eiland gekoop het as ek maar net ‘n rand kon kry vir elke keer wat ek moes bedaar en beraad. “Toemaar Sussie, dis nie so erg nie. Speel net môre met ‘n ander maatjie.”
Ek het nog altyd gehou van die idee van ‘n sisterhood – dat ons vroue aan mekaar verbind word. ‘n Band wat sal beteken dat jy vir ander vroue sal opstaan. Nie mekaar skade sal berokken nie – eintlik mos nie vir enige geslag nie.
My vriendinne is vir my goud werd. Dit beteken nie dat ons altyd oor die weg kom nie, nee kyk, ons sal mekaar aanvat as dit die dag nodig is, maar ons sal mekaar nooit slegsê, verkleineer of beledig nie.
Hoekom is ons dogters dan van kleins af so gemeen en so giftig? Wat leer hulle by hul ma’s – wat sien hulle by ander vroue? Wat sê jy voor jou dogter oor haar maats en oor ander vroue? Hoor sy hoe jy ander vroue slegsê? Dalk iets oor hul gewig of klere? Ag, genade ek preek …
Maar kyk, ons weet dit almal: Die tong is ‘n belangrike wapen en ons moet sekere leuses by ons meisiemense indril: Leef en laat leef. Wees goed vir ander. Wees goed vir jouself. Moenie met woorde aftakel nie. Ons is almal verskillend, maar moenie dit wat anders as jy is afbreek nie. Aanvaar. Wees lief.
Dalk kan ons dan van die skoolgrond-Days of our lives wegkom en bietjie minder sepie en meer menslikheid sien.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.