Ek onthou een Oukersaand glashelder. Ek het die oulikste klein beerhuisie gekry met ‘n Pappa Beer, ‘n Mamma Beer en ‘n Sussie en Boetie Beer …
Zerelda Esterhuizen
Ek onthou een Oukersaand glashelder. Ek het die oulikste klein beerhuisie gekry met ‘n Pappa Beer, ‘n Mamma Beer en ‘n Sussie en Boetie Beer. Die huisie het in ‘n klein tassie toegemaak en daar was die oulikste, piepklein meubeltjies. Maar nog belangriker: Dit was ‘n vredige Kersfees by my geliefde Kaapse ouma – ‘n ouma wat jou altyd so sag teen haar vasgedruk en na rose geruik het. Ons geskenke was wonderlik, maar dit was die rustigheid van daai aand wat my nou nog, ná al die jare, bybly. Ek onthou ook met nostalgie ander spesiale Kerstye op ‘n rooibosteeplaas by my tannie-hulle waar ons die Kersverhaal opgevoer het en ek as Maria my klein plastiek-“Jesus” vertroetel het …
Dié Kerstye staan vir my uit, want ons kinderjare was maar onstuimig en Kersdae dikwels ook. Kersfees het deur die jare sy wonder vir ons verloor en ek het as volwassene hard probeer om weer daai gevoel van welbehae te beleef. Dit het my bly ontwyk tot ek ma geword het.
Hoewel ek steeds ‘n effense gevoel van mistroostigheid en melancholie op Kersdag beleef, is dit nou vir my ‘n voorreg om elke Kersfees my kinders se opgewonde gesiggies en dié van familie se kinders te sien. Ek probeer hard om die magic van hierdie kosbare tyd vir my kleinstes lewendig te hou deur briewe vir Kersvader te pos en grootoog te fluister oor elwe wat hard werk aan geskenke en natuurlik na die geluide van hoewe op die dak te luister. Natuurlik kan ons nie daai Europese wit Kersfeeste beleef en a la Hollywood vir Kersvader deur die kaggel sien steun nie, maar selfs hier met ons somer-Kersfeeste is dit belangrik om hul verbeelding te stimuleer. En kyk, ons gaan groot. Dis die een dag van die jaar wat ek my lyf Nigella hou en al van vroegdag af kosmaak. Ons versier die huis, versier die tafel en kuier ‘n koekhou.
Natuurlik weet ek dis nie waaroor Kersfees gaan nie, maar gaan dit my daarvan weerhou om die wonder van hierdie tyd vir my kinders lewendig te hou’n Glad nie. Ek dink dis so belangrik om ons kinders se verbeelding te prikkel, hulle te laat droom en die gevoel van fantasie vir hulle te skep. Daai opwinding … daai afwagting. Daar gaan nog baie tyd wees om lewenslesse in te bou en hulle gaan beslis nie as eiewyse 16-jariges met oorfone in hul ore na Kersvader se voetstappe op die dak luister nie …
Kom ons probeer ons kinders so lank as wat ons kan kinders hou. Leer hulle wat jy voel hulle moet leer. Voer die Kersverhaal op, lees vir hulle die Kersverhaal, sing Kersliedjies, maar moenie die koekies vir Kersvader en die water vir sy takbokke vergeet nie. Laat iets op die stoep “ritsel”, wees kreatief en bou só herinneringe wat jou kinders vir jare sal onthou. En bo alles, geniet die vrede en samehorigheid van hierdie dag saam met jou geliefdes. Dalk sal jou kinders ook nog vir baie jare hul herinneringe van daai een perfekte Kersfees koester.
Geseënde Kersfees.
Loer hier op Pinterest na ‘n oulike inskrywing hoe om Kersfees vir die kleinstes spesiaal te maak:
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.