Ek en my pa is in die besige Kaapstad op ‘n straathoek, ek weet nie waarheen ons gaan nie en hy ook nie meer nie. Ek herken die verwilderde kyk in sy oë. My hand voel klam in syne. Ek’s nog klein …
Deur: Zerelda Esterhuizen
Ek en my pa is in die besige Kaapstad op ‘n straathoek, ek weet nie waarheen ons gaan nie en hy ook nie meer nie. Ek herken die verwilderde kyk in sy oë. My hand voel klam in syne. Ek’s nog klein. Te klein om te weet wat aangaan, maar oud genoeg om te weet daar’s groot probleme. Ek soek my ma, maar sy’s by die huis. Hy wou my iets gaan wys, dalk ‘n museum, dalk ‘n mooi skildery agter ‘n venster, maar hy kan nie onthou waar hy is nie. Ek kyk rond vir bakens, hoe gaan ons weer by die treinstasie uitkom’n Hy haal ‘n paar munte uit sy sak, hy prewel onsamehangend. Ek voel hoe ‘n groot yskoue hand oor my keel vou, my bors begin roggel en ek hoop net nie ek kry ‘n asma-aanval sonder my ma nie. Wonder bo wonder, bly die asma weg en ons is later weer veilig op die trein en terug na die huis. Terug na my ma.
My pa is skisofrenies en manies depressief. Hy was glo ‘n wonderlike man en pa voor hy siek geword het, maar daarna het dinge uitmekaargeval. Sy lewe, my ma se lewe, ons gesin en gelukkige kinderjare. Hy wou nie op medikasie wees nie, hy wou nie behandel word nie, hy het geglo hy’s oukei, maar hy was nie. Hy was altyd ‘n sensitiewe mens, fynbesnaard, hy het gedigte aangehaal, wonderlike stories vertel, die mooiste oudste seëls en munte gehad en allerlei skatte in sy geelhoutlessenaar tussen sy honderde boeke gehad. Maar dit was die een kant van hom. Die ander kant was minder mooi en goed en gaaf. So minder mooi en goed en gaaf dat my oudste broer nie eens sy naam noem nie. Dalk, en ek sê dit soveel kere vir myself, was dit nie sy skuld nie. Maar ‘n siekte wat meedoënloos vernietig. Als vernietig wat mooi en goed vir ons was.
Ons kinderjare was allermins idillies, maar tog beter as duisende ander mense s’n. Ja, ek het stories van hoe ons in ‘n tannie se huis vir hom weggekruip het, hoe ek in die middae huis toe geloop het en die heelpad vir Liewe Jesus gebid het dat hy tog net nie daar moet wees nie, hoe ons gesukkel het, hoe ek en my boetie in die koue in die akkerboom gesit het en geluister het totdat die geskree stop, hoe die polisie ons straatadres geken het, hoe die welsyn vir ons kospakkies en Kersgeskenke gebring het, maar daar is ook goeie herinneringe. ‘n Ma wat ‘n herberg vir ons was. Stories en woorde en ‘n baksel koekies uit die oond. My ma se boontjiesop, ‘n lieflike ouma se sagte arms en sagopoeding. ‘n Musiekjuffrou wat my aan Mozart en Bach bekendgestel het. ‘n Biblioteek wat ‘n wegkruipplek was. ‘n Gawe tannie wat kersies by ons voordeur gelos het.
As kind het ek van ‘n white picket fence-huisie gedroom. Ek wou net ‘n normale huis met ‘n gewone ma en pa gehad het. Vandag het ek laventel voor my huis in plaas van die gesiggies soos in my droom. Daar is grys palissade in plaas van ‘n wit heining, maar daar is ‘n ietwat gewone ma en pa wat baie saamlag en droom en mekaar liefhet en twee kinders wat meer soene en drukkies as lekkergoed kry.
Ons almal weet dit. Ons kinderjare het ‘n impak op ons. Al wat menswees-, verhoudings- en ouerskapsartikel predik dit. Hoe jy moet weet dat jou kinderjare jou manier van kindgrootmaak beïnvloed. Jy probeer die bagasie afskud, jy wil dit los, maar dan hoor jy jou ouers in jou stem. Ek het my eie demone om mee te stry. Die donkerte wat soms oor my kom wanneer ek dit die minste verwag, die skielike onthou wat my melancholies maak, die woede wat opborrel, die raas wat by my mond uitkom en my laat skrik, die groot vrees. Kinders verdien ouers wat hul bagasie los waar dit hoort. In die verlede. Dis ‘n konstante stryd, maar dis nodig.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.