Ek vou die pienk kolletjiesduvet mooitjies onder my oudste se ken in. Ek’s haastig. As ek die een kind in die bed het – klaar gepiepie en klaar gestorielees – is dit die ander ene se beurt en haar jonger boetie is nie so maklik om in die bed te kry en daar te hou nie.
Zerelda Esterhuizen
“Nag my liefste Ziani, lekker slaap.”
“Nag, Mamma.”
Sy roep my terug toe ek omdraai deur toe: “Mamma, Juffrou sê ons moet redenaars doen, weet jy dit?”
Ek weet “Juffrou” weet deesdae baie meer as wat ek weet en het my binne ’n week as die belangrikste vrou in haar lewe vervang, maar daar maak Juffrou seker nou ’n hengse fout.
“Nee, man, Ziani. Dis nie vir julle kleintjies nie. Dis vir die groot kinders. Dis vir die kinders wat graag voor ander mense wíl praat.”
Ek was nooit een van die welsprekende kinders op skool wat sonder skroom hul sê kon sê nie. Ek kon letterlik voel hoe golwe van rooi hitte oor my spoel as ek my mond in ‘n saal moes oopmaak. Ek kon die toespraak skryf, ja, maar ek voel my lewe lank al veel veiliger (en baie gelukkiger) agter die skerms.
Ek het die redenaarsbriefie raakgesien, maar dit natuurlik nog nie mooi bestudeer nie. My brein het ‘n wonderbaarlike vermoë om iets blitsvinnig as “admin” te identifiseer en daarna op iets anders te fokus. En natuurlik het ek nie die briefie as krities belangrik geëien nie, want sekerlik is graadeens nog nie welluidend genoeg om ‘n onderwerp te beredeneer nie.
Dis eers die volgende oggend in die verkeer wat ek dit mooi lees. Ek lees dié keer elke reël en een spesifieke ene laat my eers koorsig en toe bewerig voel. “Elke leerder word verplig om aan die redenaars deel te neem.”
Kyk, elke ma dink mos haar donkie is ’n resiesperd en ek glo my, ek dink my twee kinders is die wonderlikste, slimste wesens onder die Afrikason, maar ek ken ook darem hul beperkinge. So spraaksaam soos wat my sesjarige kan wees, so skaam kan sy wees. Praat voor ander mense? En nie net in die klas voor haar maatjies nie, maar voor ‘n saal met beoordelaars en ouers? Nee, nou rook hierdie skool mos hul sokke!
Maar soos almal weet, gebeur die onvermydelike mos maar altyd en toe ek weer sien, moet ek ‘n redenaarstoespraak skryf. Natuurlik glo ek dat ouers nie hul kinders se werk vir hulle moet doen nie, maar ’n graadeentjie wat nou eers Lin se vis begin “lees”, kan skaars haar eie van baasraak, wat nog te sê van redenaars skryf.
Die kleintjies mag darem prentjies vat om hul toespraak te onthou aangesien hulle mos nog nie kan lees nie. Die temas vir die toespraak, het nie vreeslik verander die afgelope 20 jaar nie en is steeds op idiome en dies meer gegrond: “Lekker is ’n vinger lank (Wat de …?”);
“Een vrot appel steek die ander aan”, “Met grysheid kom wysheid”, “Kinders moet gesien en nie gehoor word nie”, en dies meer. Ziani dink haar oumas is die coolste mense ooit en as sy oor hulle kan praat, sal sy dit dalk beter kan onthou, dink ek. So kies ons “Met grysheid, kom wysheid”. Ek skryf, ek dink, ek druk oulike prentjies uit, plak dit netjies op karton en voel eintlik heel ingenome met myself. Ek raak nou goed met hierdie skoolstorie!
Toe ek weer sien, skop my kompetisiebrein in en ek begin my arme bloedjie soos ’n sersant dril. Die kind kan ons mos nie in die skande steek nie. Ek lees dat sy tot twee bronverwysings moet hê en my kollegas volg die redenaars-sage met verwondering en luister simpatiek na my jeremiades. Ja, natuurlik is dit onredelik dat hulle dit van graadeens verwag!
Hulle is met my.
My geduldige man dink dis wonderlik. Sy gaan soveel selfvertroue kry, dit gee haar ’n goeie grondslag vir die toekoms. Ek bly die arme kind dril en ek en sy haat later die toespraak ewe veel. Dis ’n gesukkel, dis ‘n gestoei, maar stadigaan begin sy dit te ken. Sy gebruik woorde soos “studies”, “generasies” en dies meer en haar ma juig. Viva, Afrikaans! Sy sê dit glo heel oulik in die klas op, maar ek begin my bedenkinge kry toe sy vir die saalredenaars gekies word. Die ding moet nou net verbygaan.
Die drilsessies word langer en sy begin al hoe minder van my hou, maar ek byt vas. Ek doen dit mos vir haar, dit gaan mos net oor haar. Dit gaan glad nie oor die wonderlike toespraak wat ek geskryf het nie … Ai, die humor net op die regte plek, die pouses … die … Dit raak my redenaars en ek vergeet dis eintlik ‘n sesjarige wat dit opsê. Sy wil glad nie die toespraak die middag voor die groot gedoente oefen nie. “Ek ken dit mos nou al, Mamma!” Ek byt my lip en gaan voort.
Die saal is enorm en daar’s ’n horde mense. Geen mikrofoon. Orals fluister ma’s vir hul bleek kindertjies om hul monde groot oop te maak en hul stemme te laat hoor. Ek begin senuwee-agtig vroetel en my jongste vra die heeltyd wanneer ons huis toe gaan. Pa van die Jaar het ‘n werksgeselligheid en ek moet dus alleen dié beker ledig. Ziani, die volgende internasionale spreker, is besig om met haar maatjies te gesels oor of hul juffrou so kwaai soos ‘n baksteen of so kwaai soos boude is. Met die gepaardgaande gegiggel daarby.
Ek luister verwonderd na die een kind wat klink of hy die Brittanica opgeswot het en ek begin onderlangs my skok aan my vriendinne oor WhatsApp verwoord. Meestal hoor ek bitter min van die ander kinders se toesprake. Die saal is groot en die stemmetjies dun. Ziani kom laaste aan die beurt. Sy loop op sonder om eers ‘n kykie in my rigting te gee en begin …. Ek hoor niks. En die ander mense ook nie. My kind praat so sag dat net iemand met ‘n Phonak of supersensoriese gehoor iets kan hoor.
Die teleurstelling is fel. Hemel, waarvoor het ons so hard gewroeg, geleer, geoefen as niemand haar kan hoor nie? Sy gaan sonder ‘n kwelling sit, maar dit kook binne-in Ma van die Jaar.
“Ziani, my magtig, kon jy nie net ’n bietjie harder gepraat het nie! Jy het soos ’n muis geklink.”
Sy kyk my verbaas aan. Haar ma het dit toe nou verloor. Die rasionele stem in my maan my tot kalmte, maar die hart-op-die-mou-mens wat ek is, verseg weer eens om te luister. Selfs by die huis, moet ek dit net weer eens noem dat ek platgeslaan is. Dit eindig in (voorspelbare) trane.
“Ek gaan vir my juffrou sê dat jy sê ek praat soos ’n muis.”
Skuldgevoel, my ou vriend. Ek blameer dadelik my eie ouers wat 80% of beter van my verwag het. Ek voel ellendig en probeer met allerhande leë woorde vergoed:
“Ek het dit nie lelik bedoel nie, ek is steeds trots op jou dat jy dit so goed geken het …”
Maar sy kyk my net verwytend aan. Sal sy dit vergeet of gaan sy dit eendag onder terapie onthou? Ek weet nie. Hoeveel van jou kinderwonde kan jy onthou? Ek onthou nogal heelwat.
Vergewe my, Ziani, maar ek het nou nog nie die “ma-ding” onder die knie nie. Ek is in training.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.