Soos wat kinders skool toe gaan en jy in die skoollewe opgeslurp word, ontdek en ontmoet jy ’n interessante subspesie en word natuurlik deel daarvan: die mammas.
Zerelda Esterhuizen
Jy kry verskillende soorte mammas in die klieks wat sommer gou-gou gevorm word. Net soos toe jy op skool was. Daar is die “ek wil nie betrokke wees nie en wil net my kind deur die skool kry”-ma’s, die ma’s wat betrokke wil wees, maar tot op ’n punt, die hardwerkende ma’s wat ken van pannekoekbak en die ma’s wat glo hul kind se toekoms hang van hul betrokkenheid by die skool af. Daar is die mammas met een doel voor oë en dit is om hul kind in die skoolbaadjie met ‘n hoofseun- of -dogterlapel te sien en hulle druk vir Sussie of Boetie van kleins af en maak seker hulle word oral gesien.
Die mammaklieks het ook ’n sekere hiërargie: Daar is die volgelinge wat doen wat vir hulle gesê word, die leiers wat altyd die inisiatief wil neem en die bakleierige ma’s wat enigeen anders se blink idee gou vertrap. Heel bo-aan die leer, is die alfa-mamma. Sy moet ten alle tye die leiding neem en dis belangrik vir haar om in beheer te wees. Kom daar ’n nuwe mamma in die groep, is sy die een wat die weegwerk doen en dikwels die arme nuweling te lig bevind. Hoe weet jy hierdie mamma is die wonderlikste, slimste en beste ma waarmee die skool geseën is? Sy vertel dit vir jou natuurlik.
Die alfa-ma bepaal wat en hoe geld vir die skool ingesamel word en wie daarby betrokke gaan wees. Sy verwelkom enige insette van ander ma’s solank dit dieselfde as hare is. Die alfa-mamma doen net afstand van haar troon as haar kind ná graad 7 of matriek na groener (en groter) weivelde toe beweeg. As die kind van laerskool na hoërskool gaan moet dié ma weer by die nuwe skool spook en spartel en geskenke aandra om na die troon verhef te word. Gewoonlik neem die ruilmiddels vir haar posisie verskeie vorms aan – van koeke, borge vir die skool se rugbyveld tot om Juffrou se kinders op te pas.
Kyk, elke skool het ’n storie van ’n mammakliek. En is daar stories! Ek het al gehoor van ‘n mamma wat ‘n kombuistee vir ’n juffrou gereël het. Elke kind in die klas (natuurlik hul ma’s) moes ’n geskenk vir die juffrou koop. En nee, ’n sepie sou nie deug nie. ’n Minimum bedrag is per SMS oorgedra en elke kind se geskenk moes op sy lessenaar geplaas word sodat Juffrou duidelik kon sien wie het die grootste, beste geskenk gegee. Maak nie saak dat daar behoeftige kinders in die klas was nie …
Dit werk gewoonlik so in die huidige tegnologiese era dat mammas aan WhatsApp-groepe behoort. So vertel een vriendin dat sy nou nie juis die heeldag aan die geselsies oor “wie gaan vir Juffrou watter blomme vir Lentedag koop” deelneem nie. Sy moet immers werk. Die mammas het haar nou uitgestoot. Sou my arme vriendin iets op die groep vra, hoor sy … niks. Net doodse stilte.
En nou moet ‘n mens vra: Hoekom moet ma’s met mekaar meeding? Die feit van die saak is: as daar nie ma’s is wat betrokke raak by skoolsake nie sal niks gedoen word nie en kan die skool nie verbeter tot voordeel van almal se kinders nie. Dis goed vir ma’s om betrokke te raak by die skool en dis lekker om ander ma’s te ontmoet. Dalk is ’n bietjie perspektief net nodig vir sekeres. Dis belangrik om te besef dat dit jou kinders se skool is en nie joune nie. Jy was al daar. En kompetisie is nie nodig nie. Samewerking wel.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.