Waar kom “Ma van die Jaar” vandaan, vra jy. Ek en een van my kollegas het albei twee klein kinders en ons het onsself later spottenderwys “Ma van die Jaar” begin noem omdat ons gewoonlik albei dinge in die “ma-afdeling” verkeerd doen.
Zerelda Esterhuizen
Sien, ons is die ma’s wat vergeet dit is snoepiedag, ons is die ma’s wat vergeet die kleintjies moet vir 20 maatjies iets vir Winkeliersdag vat en ons is die ma’s wat vergeet dat ons kinders ’n spesiale uitrusting op ’n spesifieke dag moet aantrek.
Ek en my man noem ook mekaar ook gereeld “Pa” of “Ma van die Jaar” as ons iets verkeerd doen en glo my dit gebeur gereeld. Mawees is nie maklik nie, behalwe as jou naam Beyoncé is en jy het ’n swetterjoel au pairs en skoonmakers wat om jou en jou kinders hardloop en smeek om elkeen van jou behoeftes te vervul. As jy egter vir ’n salaris werk, droom van ’n voltydse huiswerker en jy “sprint” van die oomblik wat jy by die huis kom, is mawees ietwat van ’n uitdaging.
Dan werk jou kop altyd oortyd, want jy moet jou werk se spertye in gedagte hou, jy moet wasgoed was, jy moet kosmaak, jy moet vir die een kind Princess Sophia op die TV opsit en vir die ander ene Cars in die sitkamer. Die een soek appelsap en die ander een soek asseblief tog net nie “weer” appelsap nie. En jy gee vir hulle 2 minute-noedels om te eet. Ja, jy weet van preserveermiddels en sulke goeters, maar hulle soek noedels en dis wat hulle gaan kry.
Het ek tien kinders? Nee, toe nie, ek het twee. Maar twee is genoeg. Glo my! Ek is nie een van daai natuurlike moeders wat hul kinders sommer so sonder enige effort grootmaak nie. Ken jy daai ma? Die een met die golwende hare, die een wat tyd het vir gim en in haar ontwerpersklere met haar Gucci-handsak die kinders oplaai. Die een wie se klere haar altyd pas en nie klere het in haar kas wat haar moontlik net in matriek gepas het nie. Daai ma wat sommer gou ‘n koek in die oond druk voor skool en elke onderwyser op die naam ken. Daai ma wat almal se verjaardae onthou en met haar skitterwit glimlag vertel hoe haar ongoddelike slim kinders aan elke moontlike buitekurrikulêre aktiwiteit deelneem. Daai ma wat nog nooit van ’n Rescue of ’n Biral gehoor het nie, want waarom sal iets haar ontstel?
Ontmoet Ziani en Zander
Ek kan nie hierdie blog begin sonder om iets oor my twee kinders te deel nie. Ziani is ses jaar oud, maar eintlik reeds in haar tienerfase. Ek is al lankal nie meer die coolste mens in haar lewe nie en doen meestal als verkeerd. Sy weet wat is die beste vir haar en haar broer en toe sy klein was, moes ek nie net vir haar spring nie, maar ook vir haar string verbeeldingmaatjies. Van twee beertjies in die badkamerkas tot twee dogtertjiemaatjies, Nina en Lisa. Ek moes ook al met skreeuende remme stilhou om hulle met ’n veiligheidsgordel vas te maak. Veiligheid eerste! Hierdie dramatiese entjie mens is nou in graad een, wat splinternuwe uitdagings aan ons bied. Soos huiswerk.
“Hoekom moet ek nou die druppel geel inkleur, Mammie?”
“Want dis wat die boek sê, my liewe Ziani.”
“Ek gaan nie, Mamma, ek voel dit moet liewer pers wees …”
Zander is my jongste en is drie. Ek dink dié vriendelike seunskind moes met ’n glimlag op sy gesig gebore gewees het. Hy word met die grootste glimlag denkbaar wakker en hardloop die meeste van die dag. Hy het ’n effense karretjie-obsessie en glo hy moet al ’n groot motor kry, want hy kan mos bestuur. Hy lag graag, maar kry ongelukkig teen 20:00 in die aand ’n energie-inspuiting en weier dan om te slaap. Ek google nou allerhande raad, maar tot dusver is dit Zander 1, Zerelda (en Google) 0.
En dit is my twee en ek gaan van nou af gereeld oor hul doen en late en my pogings om hulle heelhuids groot te kry, met julle, ons lesers deel. Geniet die reis saam met my.
Zerelda Esterhuizen werk al nege “heerlike” jare by Vrouekeur en is dié tydskrif se adjunkredakteur.
Zerelda het in die Kaap grootgeword, joernalistiek in Pretoria geswot en bly nou op Krugersdorp saam met haar man, Gerry, en haar twee kinders. Sy lees graag, droom van reise na verre lande, beplan elke jaar om te begin oefen en bedink nog daai blitsverkoperboek …
Haar blog, Ma van die Jaar, gaan oor die wipwaentjierit van mawees.
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.