Sewe vrae aan Louise Smit, die “ma” van Bennie Boekwurm, Karel Kraai en Sarel Seemonster:
Was storietyd vir jou as kind baie belangrik?
Ja, my ma, ’n kindertuinonnie, kon die mooiste stories vertel. Sy het so ’n Piketberg-bry gehad en ons kinders kon ure na haar luister. My gunstelinge was Hennetjie Pennetjie en Hasie Kalbassie. Die manier hoe sy vir ons van Ou Voetoog die heks met ’n oog op haar voet vertel het, het ons laat skaterlag!
Wat is volgens jou die belangrikste eienskappe wat ’n ouer vir ’n kind moet leer?
Daar is so baie, maar ouers moet kinders se selfbeeld bou, selfagting hê en hulle deernis leer. Jou kind hoef nie slim te wees om intellektueel te wees nie. Behandel jou kind met respek, gee hom of haar ruimte. Klop voor jy by sy of haar kamer ingaan. Lag saam met jou kinders en moet nooit, ooit hul geheime oorvertel nie.
Jy het soveel toekennings ingepalm, is daar een wat uitstaan?
Die Artes-toekennings vir kleuter- en kinderwerk was baie spesiaal omdat daar nie voorheen ’n toekenning daarvoor gemaak is nie en ek my pad self moes vind. Maar dit was lekker toe my alma mater, La Rochelle in die Paarl, met hul 150ste verjaardag my saam met Elsa Joubert en prof Lizette Rabe met ’n eretoekenning vereer het. Dit was lekker dat my skool my nie vergeet het nie.
Kry jy van jou nuwe storie-idees terwyl jy tyd saam met jou kleinseun deurbring?
Beslis ja, hy is mal oor die dieretuin en baie van sy opgewondenheid met die diere, ontwikkel stories in my kop. Ek doen baie navorsing sodat al die feite korrek is in my boeke – ek laat nie diere goed buite die norm aanvang nie.
Wat lees jy graag?
Ek het op my oudag baie lief geword vir biografieë. Nie outobiografieë nie. Ek is tans besig met Carl Gustav Jung deur Frank McLynn.
Wat is die mooiste woorde wat jy al gehoor het?
Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Wat wil jy met jou boeke bereik?
Ek wil kinders laat lag en leer.