Die span van Hard to Get en die lokkettreffer Happiness is a Four-Letter Word is terug met ’n splinternuwe familiekomedie.
KEEPING UP WITH THE KANDASAMYS is in die Suid-Afrikaanse dorp Chatsworth in Durban verfilm. Dit gee kykers die geleentheid om die leefstyl en sub-kultuur van die Iand se Indiese gemeenskap te beleef en te sien wat hulle doelwitte, drome en uitdagings is. “Dit was heerlik om die fliek in Chatsworth te skiet. Dit is ’n ikoniese plek, net soos Distrik Ses of Soweto. Die gemeenskap is vol lewe en sprankelend en ek dink dat ons dit reggekry het om, so tussen die humor deur, die unieke eienskappe en siel van hierdie area op so ’n manier vas te vang dat gehore regoor die wêreld verlief sal raak op die plek en sy mense,” sê Moodley.
Dié komiese fliek, met Jailoshini Naidoo (Eastern Mosaic, Lotus FM) en Maeshni Naicker (Broken Promises) in die hoofrolle, vertel die verhaal van twee matriargale aardsvyande van buurgesinne, wie se kinders op mekaar verlief raak, ten spyte van hulle beste pogings om die twee se verhouding te kelder. Dit dwing hulle om te besef dat ware liefde altyd wen.
Shanti Naidoo (Maeshni Naicker) is ’n tipiese A-persoonlikheid. Sy is altyd besig, gaan uit haar pad uit om ander mense gelukkig te hou en probeer opmaak vir haar tekortkominge deur gereeld ’n storm los te kook in die kombuis. Haar lewe sou perfek gewees het, as dit nie was vir haar buurvrou, Jennifer Kandasamy, (Jailoshini Naidoo), wat haar altyd een voor is nie.
Wanneer Jennifer besef dat haar pragtige rabbedoe-dogter, Jodi (Mishqah Parthiephal), verlief is op Shanti se seun Prinesh (Madhushan Singh) – ’n sagmoedige mediese student – is sy vasberade om die verhouding stop te sit. Sy het egter die hulp van haar aartsvyand nodig om haar plan uit te voer. “Die twee vroue konkel en beplan saam, soek ander potensiële maats vir hulle kinders, en meng oor die algemeen net in waar hulle kan,” sê vervaardiger Helena Spring.
Hierdie ligsinnige, maar aangrypende, prent kry lewe met behulp van ’n verskeidenheid kleurvolle karakters, wat die ryk, pikante leefstyl in Durban vier en uitbeeld. Bekende Suid-Afrikaanse verhoog-akteur/ dramaturg/ regisseur, Rajesh Gopie, speel Shanti se man, Preggie, terwyl die komediant Koobeshen Naidoo die rol van Jennifer se man, Elvis, vertolk. Hierdie twee karakters bly egter altyd op die agtergrond omdat hulle konstant deur hulle dominerende vroue oorskadu word. Jodi se vriend en plaaslike troubeplanner, Marlin (Neil Govender), is flambojant en elegant en Aya (Mariam Bassa) – Jennifer se bejaarde, kritiese skoonma, wat nie nonsens vat nie – verteenwoordig die tipiese Indiese ouma wat gewoonlik by families inwoon. Haar pittige sêgoed en dieper insigte sal beslis die harte van kykers raak.
KEEPING UP WITH THE KANDASAMYS beloof om gehore te vermaak met skreeusnaakse tonele oor families, verhoudings en buurt-afguns. Dié rolprent, wat musiek deur Kyle Deutsch en The Parlotones insluit, is vervaardig in samewerking met M-Net, die DTI en NFVF, word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment, en sal op 3 Maart 2017 in fliekteaters, regoor die land, uitgereik word.
Sosialemediaskakel:
Twitter: @kandasamysmovie
Instagram: @kandasamysmovie
Facebook: facebook.com/kandasamysmovie
Hashtag: #ChatsworthStyle #KandasamysMovie