Logos Hope, die wêreld se grootste drywende boekkermis, is tans in die Tafelbaai hawe en oop vir die publiek om in die boekwinkel met meer as
5 000 boeke te gaan kuier.
Maryke Roberts
Die skip lê geanker by Jetty 2, reg voor die Table Bay hotel in die V&A Waterfront. Die besoek aan Kaapstad is die laaste van vyf Suid-Afrikaanse hawens op haar tog, voor sy aanskuif na sentraal en Wes-Afrika en dan die Karibiese eilande.
Aan boord is nie net duisende boeke nie, maar ook 400 mense van 60 nasionaliteite wat uitreikwerk in al die lande waar die skip aandoen, verrig. Daar word op die boot onder meer toneelstukkies opgevoer, geletterdheidsklasse aangebied en kinders word aangemoedig om te lees. Die bemanning is almal vrywilligers en samel geld in vir die duur van hul verblyf aan boord. Sodra die skip geanker het, doen hulle vrywillige werk van besoeke aan hospitale en kinderhuise, tot fisieke arbeid soos huise bou vir minderbevoorregtes.
Logos Hope kaptein, Tom Dyer, het gesê die besoek is vir hulle geskiedkundig, want dis die skip se eerste besoek aan Kaapstad. Hy het ‘n hele paar afgevaardigdes uit die stad gevra om die lint tot die boekwinkel te knip, sodat dit amptelik geopen kan word. Kaptein Dyer is die enigste kaptein wat op al vier skepe van die organisasie,wat vir dieselfde doel aangewend word, diens gedoen het.
Hy het gesê die Logos Hope is meer as ‘n skip, “meer as vrywilligers, meer as boeke: dis die visie om ‘n verskil in mense se lewens te maak.”
Eerwaarde Barry Isaacs, gasspreker, het gesê dat hy hoop die skip kan die vrede bring waarna Suid-Afrika so smag; die liefde wat ons kan versprei; en die goeie gesindheid wat oor die stad en land kan vloei.
Toegang tot die skip wat nog tot Maandag vir die publiek sal oop wees, is R5, en kinders onder 12 en pensioenarisse gaan verniet in. Die skip is Woensdae tot Saterdae oop van 10:00 tot 21:30 en Sondag tot dinsdag van 14:00 tot 21:30. Daar is ‘n verwelkomingsdek waar jy ‘n kort film oor die skip kan kyk, ‘n kafee vir verversings en die boekwinkel se verskeidenheid bied iets vir elkeen in die gesin.
Die Logos Hope word bestuur deur GBA Ships e.V, ‘n liefdadigheidsorganisasie in Duitsland en het sedert 1970 meer as 45 miljoen besoekers aan boord van hierdie skip en sy voorgangers verwelkom.
Priscila Torra van Chilie, Kayo Shimozaki van Japan en Christina van China ontvang gaste by die deur.
Seelan Govender, direkteur van die skip, Randy Grebe, hoof van die skip en Kaptein Tom Dyer.
Die hoof van Transformasie Afrika, Alderman Belinda Walker, afgevaardigde van die Kaapstadse burgemeester, ontvang ‘n stapel boeke van Logos Hope kaptein, Tom Dyer.
Die indrukwekkende boekwinkel het meer as 5 000 boeke oor enige denkbare onderwerp.
SOURCES
Clifford Roberts