Willie Burger kyk hoe ’n boek geresenseer word
Wanneer nuwe boeke in boekblaaie soos hierdie bespreek word, verwag lesers meestal ‘n evaluering: Is die boek wat bespreek word “goed”? Natuurlik word van die resensent verwag dat hy of sy die evaluering sal regverdig. Die waarde-oordeel word deur ’n versigtige beskrywing en analise van die teks gemotiveer (wat moeilik is in ’n tydskrif of koerant waar die resensent maar 500–800 woorde kan gebruik).
’n Groot deel van elke resensie bestaan dus uit ’n beskrywing van die boek. Die beskrywing kan ’n kort opsomming van die “storie” insluit – uiteraard sonder om al die verrassings en ontknopings te bederf! Verder kan die beskrywing ook insluit hoe die verhaal vertel word en interessante aspekte van die teks kan uitgelig word. Verduidelikings van hoe bepaalde effekte op die leser bereik word, kan aangebied word. Die verband van die teks met die wêreld – hoedat dit by probleme in die gemeenskap aansluit – word ook dikwels betrek. Sekere aspekte van die werk word ook “geïnterpreteer” – met ander woorde daar word redes aangebied vir die manier waarop die teks inmekaarsit en wat die boek tot die verstaan van ons wêreld bydra.
’n Aanduiding van die belangrikste temas berus op interpretasie. Interpretasies is dikwels beskrywings van aspekte waaroor die boek ’n mens laat nadink, die karakters en idees, situasies en gebeurtenisse in die boek, maar ook oor die letterkunde in die algemeen en oor die lewe; oor ’n mens self. ’n Deel van elke resensie word gewy aan ’n verduideliking van wie die outeur is, van hoeveel ander boeke die outeur al geskryf het en wat die verband tussen hierdie nuwe boek en die ander is. Die boek word dikwels met ander outeurs se boeke vergelyk – boeke waarin soortgelyke temas of verhale of vertelwyses voorkom. Die groot vraag bly egter: Op grond waarvan word boeke geëvalueer?
Die ou Romeine het ’n spreekwoord gehad: “De gustibus non est disputandum.” Dit beteken dat ’n mens oor smaak nie kan stry nie. Die implikasie is dat elkeen eenvoudig van sekere dinge hou, terwyl ander nie in jou smaak val nie. En daaroor kan ’n mens nie stry nie. Dit help immers nie om met iemand te stry wat sê dat koffie vir hom sleg proe nie. Oor boekresensies is hierdie spreekwoord egter slegs gedeeltelik waar. Natuurlik val sekere boeke in sommige mense se smaak terwyl ander weer ’n voorkeur vir ander boeke het. Wanneer ’n resensent egter ’n waarde-oordeel uitspreek, behoort dit darem nie bloot op sy of haar smaak te berus nie. Die evaluering spruit uit ’n bespreking en analise van die teks. Al sou ek byvoorbeeld nie ’n smaak vir fantasie hê nie, beteken dit nie dat ek alle fantasie negatief gaan beoordeel nie. Die waarde-oordeel behoort eerder gegrond te wees op hoe vervelig of boeiend die verhaal vertel word, hoeveel clichés daarin voorkom of vermy word, of op hoe insiggewend met die tema omgegaan word, eerder as bloot op ’n persoonlike afkeer.
LEES OOK:Ken jou storie: Letterkunde en Wiskunde
Elke resensent wend bepaalde kriteria aan (wat uitgespel of verswyg kan word). Die kriteria hang van die resensent se benadering tot letterkunde af. Breedweg kan twee benaderings onderskei word. Aan die een kant is daar teksgerigte of teksinterne kritiek. Hierdie soort kritiek fokus slegs op die teks, op die manier waarop al die onderdele van die teks saamhang, op die invloed van bepaalde woordkeuses, die maniere waarop taal ingespan word en waarop die gedigte of verhale tegnies inmekaarsit, en uiteindelik op die betekenis van alles saam. (Gewoonlik geld die reël: Hoe hegter en ingewikkelder, hoe beter.) Aan die ander kant is daar konteksgerigte of tekseksterne benaderings waar nie alleen “suiwer” literêre kriteria gebruik word om tekste te analiseer en evalueer nie, maar verskeie aspekte van die teks se konteks word as vertrekpunte betrek.
Sommige kritici fokus byvoorbeeld op die outeur se biografie. Hulle wil probeer om die boek aan die hand van gebeurtenisse in die outeur se lewe te verklaar. (Totius skryf “o, die pyngedagte” nadat sy kind sterf.) Die aandag kan tweedens ook op psigologiese aspekte, eerder as die biografiese aspekte van die outeur val – frustrasies en obsessies van die outeur word in die werk aangedui, of gefokus op alles wat nie in die werk van ’n spesifieke outeur voorkom nie, wat psigologies onderdruk word. ’n Derde manier waarop die konteks ’n rol kan speel, is as die literêre werk as ’n produk van ’n bepaalde tyd en kultuur benader word – as iets wat slegs binne daardie tyd en kulturele konteks verklaar kan word – die patriargale, koloniale, ekonomiese of godsdienstige beskouings van die tyd.
Vierdens is daar ook sosiologiese kritiek wat op die betrokkenheid van die werk by die gemeenskap fokus, hoedat die teks die gemeenskap uitbeeld sodat lesers gekonfronteer kan word met aspekte daarvan wat hulle nie raaksien nie, waarin mense hulself kan herken of aangemoedig word om te verander. In ’n volgende aflewering word gekyk na die heersende kriteria in Afrikaanse literatuurkritiek.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.