Willie Burger kyk na die interpretasie van literêre werke
Op grond van ’n growwe veralgemening het ek in hierdie reeks rubrieke oor literêre kritiek tussen vier “fases” van literatuurkritiek in die Afrikaanse letterkunde onderskei. Die eerste fase het ek die “nasionalistiese fase” genoem wat strek van die vroegste literatuurkritiek tot min of meer die 1930’s (kyk op www.vrouekeur.co.za). Hierdie week word stilgestaan by die tweede fase van “teksgerigte kritiek”, wat rofweg van die 1930’s tot die 1970’s strek.
Die verwysing na hierdie tydperk as die “fase van teksgerigte kritiek” is maar ’n vae indeling en dit is moontlik om talle fyner nuanses en fases te onderskei. Ek gee byvoorbeeld nie aandag aan psigologiese kritiek wat op die persoonlikheid van die skrywer of digter fokus nie. Ten spyte van hierdie en ander beskouings, het die “teksgesentreerde benaderings” tot letterkunde tussen die 1930’s en die 1970’s oorheersend geword. Die verskuiwing van ’n nasionalistiese literatuurbeskouing na ’n meer “estetiese” opvatting van die literêre teks, het geleidelik gebeur, maar teen die 1930’s reeds begin veld wen.
Waar die nasionalistiese kritiek veral op die afspieëlingsargument gesteun het, naamlik dat die letterkunde die (ideale) Afrikaanse wêreld korrek moet uitbeeld, het die klem begin val op kritiek wat op die vorm van die literêre werk gerig is. Soos al die fases wat ek onderskei, is die teksgerigte fase ook geen waterdig afgeslote fase nie en, soos die vorige keer aangedui, bly aspekte van nasionalistiese kritiek selfs vandag nog bestaan. So was daar ook reeds in die 19de eeu kritiek op die vorm van “literêre pogings”, aanbevelings is gemaak om sekere clichés te vermy en iemand soos Gustav Preller het, ten spyte van sy patriotisme en nasionalisme, vroeg in die 20ste eeu reeds in resensies opmerkings oor die estetiese waarde van sekere werke gemaak. In dieselfde tyd het digters soos Leipoldt en Eugène Marais dit belangrik geag om nie slegs in Afrikaans oor die Afrikaanse wêreld te skryf nie, maar ook oor temas wat verby die eng “nasionalistiese projek” strek en met baie aandag aan styl en vorm.
Teen die tyd wat die digters van die 1930’s (onder meer Van Wyk Louw, WEG Louw, Elisabeth Eybers) begin skryf het, het die klem vir hulle op estetiese gehalte geval. Hulle wou Afrikaanse digkuns skep wat met die beste van die wêreld vergelykbaar was. Die sosiale, politieke en ekonomiese omstandighede van Afrikaners het ook in hierdie tydperk verander. Afrikaans word in 1925 as amptelike taal erken en in 1948 kom die Nasionale Party aan bewind. Afrikaners se algemene opvoedingspeil het ook vinnig verhoog en die Afrikaanse bevolking raak toenemend verstedelik. Omdat die idee van die bestaan van ’n Afrikaanse letterkunde reeds gevestig is, was dit nie meer so direk ’n politieke daad om bloot in Afrikaans te skryf nie en skrywers kon al meer aandag gee aan hoe hulle skryf (selfs al was die motivering dalk om te bewys dat ons taal óók tot “hoë” letterkunde in staat is – en die Afrikanervolk dus die moeite werd).
LEES OOK: Ken jou storie: Literêre kritiek (Deel 2)
Die verwagting van letterkunde was gevolglik al minder dat dit die “Afrikaanse saak” moet dien en al meer dat dit aan die eise van “estetiese gehalte” moet voldoen. Ook internasionaal het literatuurkritiek gedurende die 20ste eeu verskuiwings beleef. Die Russiese Formalisme het die aandag op die vorm van literêre tekste gevestig – spesifiek op die spesiale manier waarop taal in literêre werke ingespan word wat dit van “alledaagse” taalgebruik onderskei. In die Engelssprekende wêreld het die sogenaamde “New Criticism” in reaksie op modernistiese skryfwerk ontstaan in ’n poging om van kritiek as vae, impressionistiese indrukke oor tekste weg te kom. Hierdie bewegings se klem op die taal van kunswerke het daartoe gelei dat die kontekstuele omstandighede waarin tekste ontstaan (die skrywer se psige, die materiële omstandighede, die politieke situasie, selfs die “wêreld” waarna die teks verwys) al meer as irrelevant beskou is.
Klem skuif na ’n (wetenskaplik) verantwoordbare analise van die teks self, of van die strukture wat die teks se betekenis moontlik maak. Hieruit het die sogenaamde close reading of stiplees van tekste ontstaan, wat ’n groot invloed op die Afrikaanse literatuurkritiek gehad het.Teksgerigte benaderings fokus veral op vrae soos: Hoe steek die teks inmekaar? Hoeveel betekenisvlakke kan onderskei word? Hoe werk elke onderafdeling, van die klanke en woordbetekenis tot die sinskonstruksie en strofe- of paragraafindeling; van temas tot struktuur alles saam om een verrassende, fyn taalkonstruk tot stand te bring?
Die reël was oor die algemeen: Hoe meer verwikkeld die teks, hoe beter. In ’n sekere sin bly die fyn lees van tekste altyd belangrik, maar die uitsluitlike fokus daarop en die gepaardgaande aannames oor letterkunde lei daartoe dat literêre werke en literêre kritiek vir die meeste mense irrelevant word; dat dit niks te sê het oor die wêreld waarin ons leef nie. Ongelukkig is reste van hierdie “teksgerigte benaderings” vandag nog met ons en moet skoolkinders tot hulle en hul onderwysers se frustrasie sonder enige verbande met hul wêreld van enjambemente en rymskemas of karakterisering in tekste leer.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.