Willie Burger kyk na wat literatuurteorie is
Wat baie lesers van ’n boekblad soos hierdie verwag, is resensies. Terwyl ’n resensie eintlik ’n deeglike beskrywing en interpretasie van (en waardeoordeel oor) ’n nuwe publikasie is, is die meeste “resensies” meestal weinig meer as boekbekendstellings. Aan die einde van verlede jaar en die begin van hierdie jaar het ek in ’n reeks besprekings na resensies gekyk. Literêre kritiek, met die fokus op enkeltekste met die oog daarop om hierdie tekste te beskryf en interpreteer, is slegs een deel van die veld literatuurstudie.
Die tweede terrein van literatuurstudie, wat ook in hierdie blad bespreek is, is literatuurgeskiedenis. In ’n literatuurgeskiedenis word literêre tekste in ’n historiese konteks geplaas. Die aandag val op die tydperk waarin ’n bepaalde teks verskyn het, op vergelykings met soortgelyke tekste uit dieselfde tydperk en met tekste uit ander tydperke. Benewens literatuurkritiek en literatuurgeskiedenis word meestal ook ’n derde terrein van literatuurstudie onderskei, naamlik “literatuurteorie” of sommer net “teorie”. Die woord, “literatuurteorie” klink vir baie lesers byna soos ’n vloekwoord. Literatuurteorie word deur baie mense met die name van vreemde Franse soos Derrida, Barthes en Foucault geassosieer. Begrippe soos “strukturalisme”, “poststrukturalisme” en “postmodernisme” duik ook op wanneer mense oor literêre teorie praat en dit is genoeg om die meeste lesers wat dit geniet om boeke te lees, sooibrand te gee.
Dis nie net talle lesers, wat daarvan hou om hulself in storiewêrelde te verloor, wat afwysend oor literatuurteorie is nie, daar is ook sommige letterkundiges wat hul bes doen om enige sprake van “teorie” te vermy en nie ’n kans laat verbygaan om met minagting daarna te verwys nie. Daar is goeie redes waarom so baie mense afkeurend teenoor teorie staan. Literatuurteorie dwing lesers dikwels om ongemaklike vrae te vra oor wat hulle lees, hoe hulle lees en hoekom hulle lees. Lesers wat bloot deur die woorde of verhale meegevoer wil word, hou dikwels nie daarvan om met sulke vrae gekonfronteer te word nie en hulle dink dat hulle eintlik niks met teorie te doen het nie. Hulle lees mos maar net vir die lekker.
Vir letterkundiges is dit egter belangrik om ook te vra op watter manier mense wat “net vir die lekker lees” eintlik lees. Hoe benader lesers tekste? Waarvoor let hulle op? Waarvoor let lesers dikwels nie op nie? Wat sê die soort tekste wat mense graag lees van ons samelewing? Wat sê dit byvoorbeeld as ’n gewelddadige oplossing vir misdaad in misdaadromans aangebied word, of as elke liefdesverhaal in ’n huwelik eindig? Literatuurteorie is tradisioneel beskryf as ’n uiteensetting van opvattings oor literatuur en die metodes waarop dit ondersoek word. (Opvattings oor literatuur kan insluit dat dit moet vermaak, dat dit moet inlig, dat dit ’n beter mens van die leser maak, dat dit mense meer sensitief maak of dat dit insigte kan gee hoe mense is of oor ander kulture en lande, ensovoorts.)
LEES OOK: Ken jou storie: Literêre kritiek (6)
Sedert die 1960’s het die begrip “teorie” egter ’n verskuiwing ondergaan om meer as bloot opvattings oor literatuur in te sluit. ’n Hele klomp geskrifte en idees, wat nie noodwendig uit die tradisionele literatuurstudie self kom nie, maar wat interessante vrae oor literatuur stel, het in hierdie tyd al hoe invloedryker binne die veld van literatuurstudie geraak. Hierdie geskrifte en idees uit ’n wye verskeidenheid vakgebiede soos die antropologie, filosofie, sielkunde, linguistiek en genderstudie, is ingespan om boeiende alternatiewe maniere van lees moontlik te maak, om op ander maniere na literêre tekste te kyk. Teorie is dus nie ’n stel metodes wat toegepas kan word om tekste te analiseer en beter te verstaan nie, maar maak dit moontlik om ander vrae oor literêre tekste te stel – oor hoe en hoekom ons analiseer en wat as ’n geldige interpretasie beskou word, en waarom.
“Teorie” sluit dus idees in wat oor die grense van die velde waarin hulle oorspronklik bedink is, gebruik word om oor dinge soos “betekenis”, “natuur”, “kultuur”, “psige”, “identiteit”, “geskiedenis”, “man”, “vrou” en “mens” na te dink. Teorieë wys al die dinge uit wat ons so dikwels as vanselfsprekend aanvaar, soos dat die outeur eintlik die “ware” betekenis van ’n boek kan bepaal, of dat dit “natuurlik” is om op ’n sekere manier te lees of verwagtings te hê oor wat ’n man of ’n vrou of ’n huiseienaar of ’n boer is.
Teorie maak ’n mens daarvan bewus dat alles wat ons as “natuurlik” en as “vanselfsprekend” aanvaar eintlik ’n geskiedenis het, dat dit iewers ontstaan het en dat ons so gewoond geraak het daaraan dat ons dink dit is vanselfsprekend en natuurlik. Daarom maak teorie baie mense ongemaklik, juis omdat dit tot vrae lei wat die blote genot van lees ondermyn. Die benadering is nie meer net “wat beteken die boek?” nie, maar “hoe beteken die boek?” en “wat is die effek hiervan op die wêreld?” Uiteindelik lei teorie daartoe dat ons ook al versigtiger begin dink oor ons alledaagse beskouings en idees wat ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.