Willie Burger vertel meer oor wat letterkunde is
In ’n onderhoud met die New York Times oor “sy lewe as ’n leser”, het die VSA se vorige president, Barack Obama, vertel dat hy vir sy dogter ’n Kindle gegee het voordat sy universiteit toe is. Hy het ’n klompie van sy gunstelingboeke daarop afgelaai – soos Gabriel García Márquez se One Hundred Years of Solitude. Dat hy juis literêre werke as geskenk vir sy dogter gee, is natuurlik ’n aanduiding daarvan dat hy letterkunde as ’n belangrike vormende invloed op sy dogter beskou. Uit al die onlangse romans wat hy tydens die onderhoud noem, blyk dit ook dat hy nie net vroeër in sy lewe ’n gretige leser was wat deur literatuur gevorm is nie, maar dat hy steeds, tydens sy ampstermyn, baie literêre tekste gelees het.
Sommige mense wys dadelik op die kontras tussen Obama en sy opvolger, Donald Trump, wat geen leser is nie. Hulle uiteenlopende lewensuitkyke word dan sommer geredelik daaraan toegeskryf dat Obama ’n leser is en Trump nie. So maklik is dit natuurlik nooit om mense te oordeel nie. Dit is ook nie noodwendig ’n akkurate manier om mense te oordeel nie. Agter hierdie negatiewe oordeel oor Trump lê die diep-gevestigde opvatting dat blootstelling aan letterkunde van die leser ’n beter mens maak. (Daar is natuurlik ook Trump-ondersteuners wat dadelik daarop sal wys dat lees ’n mens net snobisties maak; jou van die “gewone mense” verwyder.)
Die idee dat die lees van letterkunde ’n mens kan verbeter, spruit uit die gedagte dat literêre werke sensitiewe registers van menslike ervaring is waarin al die ingewikkelde aspekte van ons daaglikse bestaan vasgevang word. Wanneer ons sulke werke lees, stel dit ons in staat om ander mense se ervarings te verbeel; om ons deur die verbeelding in hul situasies in te leef en sodoende meer empatie te ontwikkel. Die Britse letterkundige Terry Eagleton wys op ’n hele paar probleme met die opvatting dat ’n verbeterde verbeelding en gepaardgaande vermoë om empatie te hê, ’n mens verbeter. ’n Goed-ontwikkelde verbeelding is byvoorbeeld ook nodig vir ’n reeksmoordenaar om sy bose planne te smee en boonop is daar geen waarborg dat empatiese inlewing in die lot van ’n ander mense van bose dade gaan weerhou nie. Die Nazi’s het baie blootstelling aan letterkunde gehad en geen gebrek aan verbeelding en empatiese vermoëns nie. Hulle het net verkies om dit nie ten opsigte van Jode te gebruik nie, of soos Eagleton redeneer, bloot nie omgegee nie. Literêre tekste is nie tot selfhelpgidse en morele lesse reduseerbaar nie. Literêre tekste is ook nie net stories wat as demonstrasies van bestaande wette en reëls dien nie.
Indien literêre tekste net as demonstrasies van sekere bestaande gemeenskapsopvattings en waardes sou dien, kon ons netsowel eerder slegs daardie wet of reël leer en die tyd en moeite spaar om die ingewikkelde detail van die boek deur te werk. (Daar is inderdaad mense wat vir jou sal vra om gou in ’n sin of twee te sê wat ’n roman of gedig nou eintlik beteken. As dit moonltik was, sou die romanskrywer of digter nie nodig gehad het om die roman of gedig te skryf nie!) Tolstoi se Anna Karenina is nie bloot ’n lessie dat ’n vrou liewer “kortstondige passie” moet vermy en by die gemeenskapsnorme oor die huwelik moet hou nie. Maar dit is ook nie ’n lessie dat die gemeenskapsnorme sleg is en ’n vrydenkende vrou vernietig nie.
Hierdie roman, soos ander literêre werke, het te veel besonderhede om sonder meer tot enkele algemene reëls vervat in ’n filosofiese stelling, ’n morele preek of ’n opvoedkundige les gereduseer te kan word. Dit is wel waar dat literêre tekste ’n leser lei om ánders te kyk, om ander perspektiewe te ervaar, maar literêre tekste weerstaan altyd veralgemenende stellings. Eintlik is die lees van letterkunde (en ook die taak van die kritikus) voortdurend aan twee uiterstes uitgelewer: Aan die een kant is daar te veel besonderhede, te veel ingewikkelde veranderings in die verhaal, verwikkeldhede van styl, vertelwyse, woordkeuse, ruimte en karakters, om sonder meer algemene waarhede daaruit af te lei sonder om ’n baie groot deel van die teks buite rekening te laat.
Aan die ander kant is daar by lesers ook altyd die behoefte om te “verstaan”; ’n behoefte aan minder besonderhede sodat ons kan sien “wat die teks nou eintlik vir ons sê”. Die leser durf nie alles tot ’n enkele morele les of selfhelpwenk reduseer oor wat die teks nou eintlik sê nie. Maar ons kan ook net lees en dan oor die literêre teks stilbly omdat daar te veel moeilike en uiteenlopende en teenstrydige opmerkings oor die teks gemaak kan word nie. Ons kan die morele waarhede wat geïmpliseer word, wat uitgebeeld eerder as uitgespel is, bedink en daaroor praat, juis omdat die literêre teks vir ons ’n woordeskat daarvoor bied, en aanleiding gee tot ander maniere om oor waardes en betekenisse te dink as waaraan ons gewoond is.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.