Kinders kan hul mylpale op ’n prettige manier bereik, sê Luisa van der Linde
Het jy geweet touspring kan help om kinders se leesvaardigheid te ontwikkel? Kennis is mag enkenners sê dis baie belangrik vir ouers om te weet hoe om hul kinders op ’n prettige manier ’n hupstoot te gee. Kleingoed se ontwikkeling kan inderdaad aangemoedig word deur lekker aktiwiteite, soos lees, kuns of om saam na musiek te luister.
Als begin by kruip
Die Gautengse arbeidsterapeut Mareta Cornelissen sê kruip is baie belangrik vir ontwikkeling, want dit help kinders om bane in die brein te vorm. “Om later te kan lees, moet ’n mens simbole van links na regs herken. Jy sien ‘a’ met die een kant van jou brein, maar om dit te kan verstaan, moet jy dit na die ander deel van jou brein oordra.” Sy sê wanneer kinders nie kruip nie, word hul bilaterale ontwikkeling (om die twee helftes van hul lyf gekoördineerd saam te gebruik) beïnvloed en vind middellynkruising nie plaas soos dit moet nie. “Dit is ook belangrik dat babas op hul magies lê om hul arms te ontwikkel. Hulle gebruik hul arms weer om hul kop regop te hou en die nek te versterk. As hul nekkies mooi sterk is, kan hulle leer eet en sodra hulle eet, ontwikkel hul mondspiere, wat weer met taalvaardigheid help. “Baie kinders wat op hul boude rondskuif in plaas van om te kruip, sukkel later met ruimtelike oriëntering omdat kinders wat kruip aanhoudend diepte skat en só perseptuele ontwikkeling bevorder.”
Spring tou … & leer!
Mareta sê vir touspring het kinders goeie spiertonus, balans en koördinasie nodig. Goeie beplanning is ook nodig en dit het weer met ritme, opeenvolging en tydsberekening van motoriese bewegings te make. Goeie bilaterale integrasie is ook nodig omdat die linkerbeen en -arm en regterbeen en -arm moet saamwerk. Om goed te kan lees moet kinders se visuele en perseptuele vermoëns goed ontwikkel wees. Hulle moet ook ’n goeie postuur, oogspierbeheer, asook goeie taalvaardigheid hê. “Goeie heelbreinintegrasie is baie belangrik vir lees aangesien die regterhemisfeer woorde en klanke visueel analiseer en die linkerhemisfeer betekenis aan die woorde gee en die brein in staat stel om met begrip te kan lees,” sê Mareta. Touspring help met die bogenoemde integrasieproses omdat dit kinders se bilaterale integrasie ontwikkel. Al die bene en arms moet goed saamwerk, anders kom die tou nie oor die kop nie of hul voete is te stadig. Mariette Viljoen, eienaar van die Mentor- opvoedkundige sentrum in Gauteng, sê dit is belangrik dat ’n kind se oogspiertjies geoefen word sodat die oë kan saamwerk om te lees. Sy sê kinders wat heeldag voor die TV sit, se oë raak lui. “Balsportsoorte soos krieket, rugby, tennis, netbal en swing ball is veral goed om kinders se oë te ontwikkel.” Sy vind sommige kinders verkies om eerder niefiksie as fiksie te lees. “Die soort boeke wat kinders graag lees, hang van hul belangstellings af. Ouers moet dus hul kinders ken en vir hulle leesstof gee wat hulle sal geniet.” Mariette glo leesvaardigheid word by die skool aangeleer, maar ’n liefde vir lees word by die huis gekweek.