Moryn Hanzen
Die oopmaak van die agterdeur en die intrek van my asem is een handeling. ’n Enkele tree van die drumpel af staan ’n totale vreemdeling met verweerde klere en die sagste glimlag wat sy oë, nee, sy hele gelaat, verlig
Ek bêre die laaste lekseltjie meel in die dolleë kombuiskas met ’n onverklaarbare vrede in my hart. Ek wroeg nie soos gewoonlik oor môreoggend se ontbyt, of eerder die gebrek daaraan nie. Toe ek agter Daniël se rug inkruip, is daar steeds ’n geruste glimlag om my mond. Dis nog lank voor oestyd, dit weet ek, maar my glimlag is gegom aan daardie onverklaarbare vrede diep binne-in my.
’n Ligte maar dringende klop aan die kombuisdeur wek my. Dis presies halfses. Nou wie sal so vroeg kom aanklop en dit nog by die agterdeur? Haastig pluk ek ’n skoon rok oor my kop en borsel my hare sonder om in die spieël te kyk. Die klop word nie herhaal nie en ek wonder of ek nie maar net gedroom het nie.
Die oopmaak van die agterdeur en die intrek van my asem is een handeling. ’n Enkele tree van die drumpel af staan ‘n totale vreemdeling met verweerde klere en die sagste glimlag wat sy oë, nee, sy hele gelaat, verlig. Ek maak die deur spontaan wyer oop. “Môre Meneer, kom gerus binne,” hoor ek tot my eie verwondering hoe ek die vreemdeling na binne nooi. Hoewel lankal deur die res van die land vergete, is die moord op die buurplaas nog vars in die plaaslike gemeenskap se gemoedere.
“Vreugde vir jou!”
Wat ’n eienaardige groet, gaan dit vlugtig deur my gedagtes, maar dit val my op hoe bleek die man is. Ek weet nie of ek sy groet met iets soortgelyks moet beantwoord nie, maar dit val my terloops by dat ek hom reeds gegroet het.
Hy gee geen aanduiding dat hy homself aan my gaan voorstel of van plan is om ’n rede vir sy teenwoordigheid te verskaf nie. “Is Meneer dalk honger?” vra ek dus maar en wys na Daniël se groot stoel langs die ruim ou houttafel. Dieselfde tafel waarby daar nou-nou vyf honger siele vir ontbyt sal aansit. Maar my gedagtes is ten volle deur die man se teenwoordigheid opgeneem en ek begin outomaties met die maak van ’n eenvoudige, maar voedsame ontbytmaal.
Die man maak sy oë toe, lig sy kop en dank hardop vir die voedsel. Ek verluister my so aan sy rustige stemtoon, dat ek nog ’n paar oomblikke met toe oë bly sit nadat hy klaar gedank het. Ons geniet die mieliepap en drink swart koffie agterna, asof dit ’n koningsmaal is. Hy praat nie eintlik veel nie en tog pla die stilte glad nie.
Ná ete staan hy op en tel sy verweerde hoed op. Hy maak aanstaltes om te loop en ek wonder hoe ek hom langer hier kan laat vertoef. “My mense behoort nou enige oomblik ook vir ontbyt te kom aansit,” begin ek terwyl dit my tref dat dit nog glad nie by my opgekom het om hulle te roep om die onverwagse gas te ontmoet nie. Maar met ’n: “Vrede vir jou!” sit hy egter sy hoed op sy kop en val rustig in die pad soos iemand aan wie die wêreld se tyd behoort.
Terwyl ek die man, wat sonder enige bagasie of enige verduideliking gekom en gegaan het, agternastaar, wonder ek vir die eerste keer hoe dit moontlik is dat Keiser, wat rustig hier buite langs die kombuisdeur lê, nie vir die vreemdeling blaf nie. Ek hoor hoe die huismense die een na die ander agter my inkom en om die tafel aansit en ek skeur my oë van die horison af weg waar die vreemdeling pas agter ’n sandduin in verdwyn het.
Oudergewoonte begin ek vir die huismense skep. Met die oopmaak van die kombuiskas staar ek met grootoogverwondering na die rye en rye kos waar die bietjie meel waarmee ek pas ontbyt gemaak het, vanoggend nog alleen op die rak gestaan het. Meer as genoeg om ons tot oestyd te dra!
Ek tel weer die meelsak op om die gewig daarvan met groot vreugde teen my hart vas te druk en sak met lam knieë op die stoel neer waar ek enkele minute tevore teenoor die vreemdeling gesit het. Die muurhorlosie skree saggies die onmoontlike: dis pas halfses!