Rocky was haar bynaam op skool. Vernoem na die bokslegende, Rocky Marciano. Die seuns was bang vir haar, want die skool se boelie het eenkeer met haar skoor gesoek en sy rieme lelik styfgeloop. Nadat sy die groot bullebak op sy plek gesit het was sy die skool se heldin.
Jac Nothling
Maar dis nie wat Christina wil wees nie. Sy wil ’n gewone meisie met ’n kêrel wees. Op 29 het sy nog nie ’n vaste kêrel nie. “Jy is ’n mooi meisie,” het haar ma gesê, “maar jy is veels te wild. ’n Regte tomboy. Gebruik ’n bietjie grimering, los die karate en verkoop daardie motorfiets.”
Sy kan dit nie oor haar hart kry om haar Kawasaki te verkoop nie. Sy en haar oom Sarel het dan so hard gewerk om die motorfiets te restoureer. Die ding was ’n wrak wat sy by ’n skrootwerf vir ’n appel en ei gekoop het. Die geduldige Oom Sarel is ’n goeie werktuigkundige en na maande se harde werk en groot onkoste om onderdele te koop het sy nou feitlik ’n splinternuwe 250 cc Kawasaki. “ Met al die modifikasies wat ons aangebring het, is dit nou ’n baie vinnige Kawa,” het hy gesê. Moet sy dit nou verkoop? Nog nooit gesien nie.
Noudat sy haar swart gordel gekry het kan sy seker die karate los. Dit sal egter oom Ivan se hart breek as sy dit nou staak. Ivan Essakov is dan so trots op sy leerling se prestasies. Dan het hy nog ekstra moeite gedoen om haar meer gevorderde tegnieke te leer. Sy was geskok oor die benaming: “ Ballistiese Straatbakleiery” soos hy dit genoem het.
“Oom Ivan, ek wil nie ’n straatbakleier word nie.”
Hy het gelag. Iets wat hy selde doen. “Of jy nou wil of nie, as ’n skurk jou op straat aanval, moet jy ook een word om te oorleef. Christina, karate is ’n sport. Mense verkeer onder ’n wanindruk dat dit ’n vorm van selfverdediging is. As ’n klomp straatboewe jou aanval gaan dit jou niks help nie. Die Sewende Dan is net die basics. Ek sal jou nou leer wat werklike selfverdediging is. Jy het dit nodig, want jy lyk klein en weerloos – die soort wat die skurke so graag teiken.”
Toe het die gevorderde lesse begin. “Die kinnebak, kakebeen, solar plexus en die kortrib is die kwesbare plekke. Vergeet van die res van die liggaam,” het Ivan Essakov gesê. “Spoed, en nogmaals spoed is belangrik. Die krag van jou houe is eweredig aan die spoed waarmee jy dit toedien. Jy het ’n paar blitsige hande en voete. Maak ten volle gebruik daarvan. Hy het met wit bordkryt die sogenaamde “kwesbare plekke” op die slaansak geteken en haar aangesê om op hierdie kolle te konsentreer. Die “gevorderde opleiding” het begin. Die ander leerlinge in die gimnasium het met groot oë gestaan en kyk hoe die klein skraal meisie die slaansak met haar hande en voete karnuffel.
Dit was harde werk, maar na ’n dosyn uitputtende oefensessies was Ivan Essakov tevrede. “Jy is nou goed genoeg om veilig alleen op straat te loop,” was sy kommentaar. “Ek voel net jammer vir enige boef wat jou probeer aanval.”
Sy is gelukkig in haar werk by die prokeureursfirma waar sy as datatikster werk, maar Christina voel vandag ontsettend eensaam. Twee van haar skoolvriendinne is getroud, een het gister verloof geraak en ’n ander een het ’n vaste kêrel waarmee sy gereeld uitgaan. Deesdae sien sy hulle maar bitter min.
Vanaand is sy alleen op pad na die klub en hoop om ’n paar kennisse daar raak te loop. Sy het haar ma se raad gevolg en grimering aangesit. Sy het die nuwe denimbaadjie aan wat sy vandag gekoop het. Eintlik kon sy dit nie bekostig nie, maar sy het dit begeer. Sy het nog daarna gestaan en kyk toe die verkoopsdame sê: “Dit sal jou ideaal pas. Dis ’n Giovanini en is spesiaal net vir jou gemaak.”
Toe sy dit aanpas het sy besluit dat die vrou reg is en dit gekoop.
“Dit sal vir jou geluk bring,” het die vrou gesê. “Dra dit en jy sal die man van jou drome ontmoet.”
Christina het net geglimlag. Sales talk, het sy gedink. “Ek is ernstig,” het die vrou voortgegaan. “Jy gaan hom binnekort ontmoet. Hy soek al baie lank na jou.”
Sy parkeer haar motorfiets in die klub se parkeerterrein en begin na die klub aanstap. Sy glimlag as sy aan die vrou in die boetiek se woorde dink. “Hy soek al baie lank na jou.”
Dan hoor sy ’n geluid van iemand wat agter haar kreun. Sy staar ’n oomblik verbaas na twee mans met leerbaadjies wat besig is om ’n groot man in ’n netjiese grys pak klere te beroof.
Een hou die man vas terwyl sy maat in die man se sakke rondvroetel. “Stop dit,” skree sy en stap nader.
“Verstaan jy nie Afrikaans nie? Ek het gesê stop dit!”
Die een met die poniestert wat die slagoffer se sakke deursoek stop en kyk verbaas na haar. “Luister ou girlie, maak dat jy wegkom voor jy seerkry. Toe, skoert nou!”
Die slagoffer het intussen plat op die grond gaan sit terwyl bloed oor sy wang vloei. Hy kyk verbaas na die meisie wat intussen nader gekom het. Wat probeer sy doen? Dink hy. Hulle gaan haar vermorsel.
Die man met die poniestert kom dreigend na haar aangestap. Hy mik ’n wilde swaaihou na haar wat sy gemaklik ontwyk. Dan gebeur iets wat hom die res van sy lewe nagmerries sal gee. Haar volgende beweging is so vinnig dat die oog dit nie kan volg nie. Haar lyf swaai teen ’n hoek van negentig grade en sy tref hom met ’n dubbelhand vuishou op die kortrib. Hy val met ’n gebrul op sy knieë, hou sy ribbekas vas en krul van die pyn.
Sy stap na die tweede aanvaller.“Nou is dit jou beurt maatjie,” sis sy. “Ek het iets spesiaal net vir jou.” Dis te veel vir die gesette aanvaller en hy hardloop met ’n spoed weg. Hy het ’n paar elementêre lesse in karate gehad en hy herken ’n swartgordel wanneer hy een sien. Vir hom beteken dit net een ding : moeilikheid!
Poniestert sit plat op die vloer met geslote oë terwyl hy sy seer ribbebene sit en vryf. Hy verstaan nie mooi wat hom getref het nie, want hy het niks gesien kom nie. Hy prewel iets oor ’n bose gees wat vanaand hier ronddwaal.
Christina stap na die man in die pak klere wat haar net stilweg sit en aanstaar. “Is jy okay, meneer?” Sy steek haar hand uit en help hom om op te staan.
“Die skurke wou my beroof,” stamel hy. “Toe begin hulle my skop en slaan.”
Sy haal ’n sneesdoekie uit en begin die bloed van sy gesig afvee. “Alles reg. Ontspan nou, die gevaar is verby,” probeer sy hom gerusstel.
Hy wys na die man op die grond. “Ons moet seker die polisie bel, en nooddienste.”
“Nee. Ek is nie vanaand lus vir die polisie en ’n klomp red tape nie. Hy het nie nooddienste nodig nie en verkeer nie in gevaar nie. Hy ly net ’n bietjie aan skok.”
Sy vat hom aan die arm. “Wat ons twee nou nodig het is ’n stywe dop. Die klub is net om die draai. Kom ons gaan.”
“In watter karate-skool is jy opgelei?” vra hy terwyl hulle aanstap. “Aikido?”
Sy lag. “Nee, my karate-instrukteur noem dit ballistiese straatbakleiery.”
Toe hulle in die klub met hulle drankies voor hulle sit steek hy sy hand uit. “Pieter Strauss is die naam. Baie dankie vir dit wat jy vanaand gedoen het.”
“Ag, dit was niks. Christina Wassermann,” antwoord sy en skud sy hand. Hy is ’n baie aantreklike man, dink sy. Hoekom lyk hy so bekend?
Hy kyk haar verbaas aan. “Rocky!” sê hy. “Is dit jy? Wat ’n verrassing! Met die kort hare het ek jou nie herken nie. Dis mos jy wat destyds daardie Vos vent op skool so ’n loesing gegee het.”
Sy lag. “Ja, dit was ek. Archimedes was jou bynaam. Jy was die wetenskap genius in die klas. Ek het jou ook nie herken nie Pieter. Na elf jaar het ons almal baie verander. Ek het destyds gehoor dat jy medies gaan swot het.”
“Dis reg. Ek praktiseer nou in die stad. Is nou ’n algemene chirurg.”
“Is jy getroud?” vra sy.
“Nee. En jy?”
“Ook nog ongetroud. Ek wag nog vir die regte man om op te daag.”
Hy druk haar hand en glimlag. “Weet jy hoe verlief was ek op jou? Na matriek het ek probeer om jou op te soek, maar julle het weggetrek. Ek het gehoop om jou verlede jaar by ons matriekklas se reunie weer te sien, maar jy het nie opgedaag nie. Ek is bly ons het mekaar hier raakgeloop. Ek het baie lank na jou gesoek.”