Ek kyk vies na die leë botteltjie grondboontjiebotter in my hand. Nou juis dat ek lus is vir ’n grondboontjiebottertoebroodjie.
Deur: Beverley Gabrielsen
En skielik dink ek aan my kinderdae wat ek in ’n kinderoord was. Elke koshuis het elke kwartaal ’n blou 25 liter-blik met grondboontjiebotter en ’n deurskynende 25 liter-plastiekkan met stroop gekry. Al vier tafels het dan elke aand ’n bakkie met grondboontjiebotter en stroop gekry.
Ons nagereg op Sondae was gewoonlik jellie en vla, soms kitspoeding of gestoofde vrugte. Op die spesifieke Sondag is dit weer jellie en ek maak ’n opmerking: “Ag, nie al weer jellie nie,” en trek ’n suur gesig. My koshuismoeder moes my gehoor het en roep my. Nou sal ek weer ’n preek kry oor my ondankbaarheid, dink ek in my enigheid. Maar tot my verbasing sê sy vir my: “Gaan haal vir elke tafel ’n bottel ingelegde perskes in die linnekas. Ek trakteer julle vandag met ingelegde vrugte.”
Ek kom by die linnekas en maak die deur oop. Die bottels ingelegde vrugte staan op die heel boonste rak en ek kan nie bykom nie. Ek kyk rond en sien die blik met grondboontjiebotter voor die linnekas staan en besluit om op die blik te staan. Ek skuif die blik nader, skop my skoene uit en klim met my een voet op die blik. Maar net toe ek my hand na een bottel uitstrek, gebeur iets wat ek nie voorsien het nie. Die een kant van die deksel sak in die grondboontjiebotter weg en daarmee saam my voet. Daar staan ek met my een voet in die blik grondboontjiebotter en die ander een op die grond. Wat maak ek nou? Ek trek my voet uit die blik en gryp die naaste handdoek uit die linnekas en draai dit om my voet. Gelukkig is daar ’n badkamer langs die linnekas. Ek was gou my voet en droog dit af. Wat maak ek nou met die handdoek vol grondboontjiebotter? Ek gooi dit by die badkamervenster uit sodat ek dit later buite kan gaan optel om te was. Dan loop ek terug na die linnekas en maak die blik grondboontjiebotter weer toe. Gelukkig staan daar ’n klein tafeltjie langs die bad en ek gaan haal dit. Dit lyk darem sterk genoeg om my gewig te dra en ek klim op die tafeltjie. Net toe ek uitstrek en die een bottel perskes raak vat, kom die koshuismoeder in die gang afgestap en vra: “Wat vat jy so lank?”
Ek skrik my boeglam vir die stem so skielik hier agter my en val van die tafeltjie af. Die skielike pyn in my regtervoet gee my sommer onmiddellik ’n aanduiding dat die voet geswik het. Gelukkig gryp die koshuismoeder die bottel ingelegde perskes uit my hand voordat dit op die grond te lande kom.
“Ek kon nie bo bykom nie, Tannie, toe vat ek die tafeltjie,” verduidelik ek en probeer opstaan, maar sak onmiddellik weer op die grond neer. My regtervoet vou onder my in.
Die koshuismoeder help my op sodat ek op die tafeltjie sit en kyk na my voet. “Die voet is nie geswel nie.” sê sy en druk op verskeie plekke op my enkel.
“Dis seer daar waar Tannie nou druk,” sê ek.
Sy dink ’n bietjie voordat sy sê: “Ek dink ons moet jou voet met Deep Heat insmeer en ’n verband om jou enkel en voet draai. As dit later seerder raak, vat ek jou môre kliniek toe. Sit net so, hier in die linnekas behoort verbande en salf te wees.”
Toe ek sowat vyftien minute later hinkepink die eetsaal binnekom, moet ek natuurlik verduidelik wat gebeur het. Ek vertel nie dat my voet in die grondboontjiebotter weggesak het nie, want anders gaan niemand dit vir die res van die kwartaal eet nie.
Nodeloos om te sê het ek glad nie vir daai kwartaal verder grondboontjiebotter geëet nie. Toe my tafelmaats vir my vra hoekom ek nie meer grondboontjiebotter eet nie, antwoord ek: “Ek is al goor geëet aan grondboontjiebotter.”
Met dié dat my voet so seer was, het ek amper vergeet van die handdoek wat ek by die venster uitgegooi het. Ek het in rustyd gou uitgehinkepink om die handdoek te gaan haal. Dit lê egter nie onder die badkamervenster nie.
“Nou waar sal die handdoek nou wees?” praat ek hardop met myself en kyk rond. “My voet is verduiwels seer en nou moet ek die handdoek loop en soek,” brom ek onvergenoegd. Dan sien ek vir Milo, die koshuismoeder se Jack Russel by sy hok en kou aan iets wat lyk soos die handdoek. Ek stap nader en sien dis wel die handdoek, maar toe ek te na aan die hok kom, begin Milo grom. Hy wys duidelik dat hy nie die smaaklike handdoek gaan prysgee nie.
Ek sak op my hurke neer en probeer hom kalmeer, maar hoe meer ek die hond paai, hoe meer grom hy en klou die handdoek met sy voorpote vas. Ek sien die handdoek is al klaar flenters gekou en besef dit sal nie help om dit by hom te vat nie. Ek staan op en hinkepink terug na my kamer toe. Ek gaan lê op die bed en hoop maar net die koshuismoeder kom nie agter daar is ’n handdoek weg nie.
Slaap is buite die kwessie want my voet pyn nou so dat dit klop, en die verduiwelse handdoek wat flenters gevreet is, pla my. Sal maar weer ná rustyd gaan kyk of die hond darem al besluit het al die grondboontjiebotter is van die handdoek af gevreet en dat hy dit sal los. Hoop maar net die koshuismoeder soek nie die handdoek nie.
Na rustyd sien ek nie eers kans om van die bed af op te staan nie, wat nog te sê na die hondehok toe te loop om die handdoek te gaan soek.
Ek draai die verband van my voet af en sien dit is erg geswel. Een van my kamermaats, Cheryl, kom die kamer binne. Sy kyk na die voet en sê: “Ja-nee, daai voet is erg geswel en ek kan sommer sien dis baie seer. Jy sal nie môre kan skool toe gaan nie. Ek sal gou vir tannie Marie gaan roep sodat sy weer na jou voet kom kyk.”
Tannie Marie kom na sowat tien minute by die kamer ingestap. “Ek sal gou weer jou voet met Deep Heat invryf en toedraai. Dan sal ek vir jou twee pynpille gee. Ons sal môre moet kliniek toe gaan.”
Ek bly in die bed en besluit om my nie verder aan die handdoek te steur nie. Gedane sake het geen keer nie. Ek sal wel met ’n verskoning vorendag kom as tannie Marie agterkom die handdoek is weg.
Daardie aand met etenstyd wil ek amper in my kos verstik toe die tannie die volgende opmerking maak: “Julle moet tog asseblief as julle in die aande die grondboontjiebotter gaan uitskep, die blik behoorlik toemaak. My hele gang het na grondboontjiebotter geruik van die blik wat nie behoorlik toe was nie.”
Die volgende dag gaan ek nie skool toe nie. Dina, een van die koshuis se twee huishulpe, kom by my kamer ingeloop. Die koshuismoeder het haar gevra om my te help om eetkamer toe te loop. Sy lyk ongelukkig en ek vra: “Dina, wat lyk jy so ongelukkig vanoggend?”
“Mevrou het met my geraas oor ek die handdoek op die draad vergeet het. Nou het daai hond van haar die handdoek stukkend gekou. Ek weet nie van ’n handdoek wat ek op die wasgoeddraad vergeet het nie.”
Ek wil lag, maar waag dit liewer nie. Arme Dina het nou onder tannie Marie se skerp tong deurgeloop en eintlik is ek die sondebok. Maar ek sal liewer niks sê nie, want anders vertel sy dit aan iemand anders en dan gaan ek baie beslis nie gewild wees nie.
En ek weet dat ek vir die res van my lewe, elke keer as ek ingelegde vrugte of grondboontjiebotter eet, gaan dink aan die episode wat nogal lagwekkend was ten spyte van my seer voet.