vir Cherisé Reed
R. Nelson
Elke dag bevind die karakter hom met sy gedagtes en gevoelens vasgevang in dieselfde milieu, met dieselfde dekor. Daar is afskortings met stilte tussenin. Tafels en stoele waar die karakters elke dag sit en lees, studeer of lugkastele of muisneste bou … Boeke en tydskrifte pryk op hul rak. Toonbanke is gerangskik, sentraal in die stilte rondom die vroulike karakters.
Vandag is dinge egter anders, merk hy toe hy binnekom. Die gewone karakters ontbreek. Dis stiller as gewoonlik.
Waar is sy? wonder hy. Verby die stel leë bamboesstoele mik hy na sy afskorting teenaan die glasskans wat uitsig oor die plein voor die stadsaal bied. ’n Roos op die toonbank verbreek die eentonigheid.
“Môre, meneer!” ? Jolige stem. “Jy het gister hierdie bladsy by jou afskorting gelaat.”
Sy hou die bladsy oor die toonbank in sy rigting. Hy neem die bladsy uit haar hand. Hoe kón dit in háár hande beland?
“Dankie, ek sou dit gekry het waar ek dit gelaat het.”
“Nee, jy sóú nie, ek het dit uit die snippermandjie gered waarin my kollega dit gegooi het.”
“Het sy dit gelees?” vra hy blitsig.
“Ja, toe gee sy dit aan my om te lees.”
Mooi bruin oë kyk diep in syne. Haar Ché Guevara-T-hemp en noupassende klinknaelbroek sê seker iets. Gestewel en slank staan sy. ? Baret kan die prentjie afrond.
“Het sy iets gesê? Waarom het sy die bladsy in die snippermandjie gegooi?”
“Daaroor sal ek liefs nie nóú praat nie,” glimlag sy ondeund. “Jy sal moet roer as jy boeke of iets wil uitneem. Die biblioteek sluit nou-nou. ’n Arbeidsgeskil is op ’n assegaaipunt.”
“So, dís waarom jy vandag mooier as gewoonlik lyk?”
“Dankie, maar vlei sal nié jou probleem oplos nie, Meneer,” terg die kuiltjie.
Aarselend betrag hy haar, ’n frons op sy voorkop. Wat bedoel sy met “probleem”?
“Jy lyk teleurgestel, is dit omdat my kollega vandag nie hier is nie?” glimlag haar rooi lippies. “Ek sien soms hoe jy na haar kyk.”
“Nee, dis nie dit nie,” keer hy fluks. “Sonder ’n bewys van my adres wou sy gister nie my lidmaatskap hernu nie.”
Hy plaas sy munisipalerekeningstaat, identiteitsboekie en biblioteekkaartjie voor haar op die toonbank, neffens die vaas met die rooi roos. Behendig voer sy sy besonderhede deur die sisteem en gee hom sy nuwe kaart.
“Jou adres, dis oorkant my oom se huis,” verklaar sy terloops.
“Is oom Josh jou oom?” vra hy verbaas. “Hy is mos op vakansie.”
“Ja, blykbaar het hy iemand in jul laan gevra om ’n ogie oor sy plek te hou totdat hy terugkom; ’n Kluisenaar of so iets. En nou, dié gesig?” vra sy gefassineer.
“Kluisenaar! Dis vervelig.”
“Jy benodig nie meer die bladsy nie, né? Noudat ons dit gelees het?”
“Ja, maar …”
“Maar wát? ’n Vierde roos in soveel dae is vandag hier afgelewer; ook sonder ’n kaartjie. Ons weet nie van wie dit kom óf vir wie dit bedoel is nie. Die drywer sê hy doen net die aflewering. Verder weet hy niks. Ons het hom selfs alles in die paradys beloof om ons te sê wie dit stuur. Dan loop hy eerder blosend hier weg.”
Sy swyg, bestudeer sy kalm gelaat asof sy die een of ander geheim daaragter wil ontrafel.
“Kyk daarbuite, ‘elke dag wemel karakters geruisloos verby spuitende fonteine op die plein voor die stadsaal.’ Presies soos beskryf in ’n paragraaf op die bladsy.”
Saam, deur die glasskans, kyk hulle uit oor die plein met sy spuitende fonteine en karakters ewig op weg na êrens of nêrens …
“Ook die rose wat so misterieus hier afgelewer word, is op die bladsy verwoord. Dis ’n storie, né? Vir wié is die rose?”
Sy vat haar loshangende hare vas, gee dit ’n draai en ’n swaai sodat dit voor oor haar linkerbors hang. “Of weet jy ook nie, omdat jou karakter nie mans genoeg is om te kies nie?”
Die telefoon lui. Sy gaan dit beantwoord. ’n Oomblik huiwer hy, dan verlaat hy die toneel wat hy hom so anders voorgestel het.
Is dit sy wat geskakel het? wonder hy. Wáár is sy? Hy sou beslis met haar praat. Of sou sy moed hom weereens begewe? Dis weer een van daardie situasies, erken hy ergerlik teenoor homself terwyl hy huiswaarts keer.
Sal daar ooit ’n einde aan kom? Sy onbeholpenheid die rare keer wanneer ’n vrou sy hart in skugter stilte wild laat hunker. Dat sy dit nie kán sien nie en hy dit nie kán sê nie.
Hy troos hom daaraan dat hy goed met vroumense vaar. Veral wanneer sy hart minder of glad nie betrokke is nie.
Sy is rég, gee hy toe: Hy móét kies; Al is dit téén die wil en drome van sy karakter. Ook hy sal nie langer elke dag net daar kan sit en toekyk hoe gebeure ontvou soos rooi rose nie.
’n Enjin se gedreun. Dit word stil. Hy gaan uit, staan op sy stoep. In die straat oorkant sy huis word ’n motor se hoofligte afgeskakel. In die donker klim ’n vrou uit.
Sy maak die hek van oom Josh se erf oop en gaan op sy stoepbankie sit. Dit lyk asof sy met ’n selfoon vroetel. In die gloed van die stoeplig herken hy haar.
Onder ’n fluweelagtige sterrehemel en ’n halwe maan stap hy oor na haar toe. “Naand!” Die selfoon verdwyn in haar sak. “Ek is nuuskierig oor die kluisenaar. Ek wil sien wat gebeur as ek hier kom plak. Nou daag jý hier op! So, jy is die kluisenaar van die omgewing?”
“Ek het so agtergekom, ja. Dis ’n mooi aand.”
“Met die rose wou jy eintlik net ons reaksie uitlok, né? Sodat jy daaroor kan skryf.” Sy glimlag wrang. “Ons stryery het so handuit-geruk dat my kollega die bladsy in die snippermandjie gesmyt het. Soos dogterjies het ons tekere gegaan. Moet asseblief nie dit ook neerpen nie.”
“Die rose kom seker van ’n bewonderaar. Dít is ongelukkig nié in my karakter nie.”
Die ongeloof op haar gesig spreek boekdele.
“Dit maak nie sin nie. Nie volgens jou storie op die bladsy nie.”
Hy glimlag, gaan sit op die bankie styf teen haar. Sy skuif nie weg nie. Hy plaas sy arm om haar skouers.
“Baie dinge maak nie sin nie. Ek is bly jy het gekom. Nou weet ek wat om te doen met die slot van die verhaal.”
“Rêrig? Wat van my kollega?”
“Hopelik is die rose vir haar.” probeer hy ongeërg klink.
Skielik staan sy op. Sy arm val van haar skouers af. Half verleë sit hy daar.
“Ek het ’n verleidelike sms van haar gekry. Hier, lees dit en brul as jy wil.”
Hy neem die selfoon uit haar uitgestrekte hand en lees:
‘Sê vi hom ek sal as hy wil en danki vi di rose’
“Jou kollega glo dis ek wat die rose laat aflewer. Wat as sy uitvind dit is nie ek nie?”
“Jy smaak haar mos. En, sy sál, as jy wil. Dis al wat saak maak. Julle hoort bymekaar. Weet jy nóú wat om te doen met die einde van jou storie?” spot die kuiltjie teen haar wang.
Hy staan op, trek haar in sy arms en druk haar saggies teen die stoeppilaar.
“Die aand, is ons s?,” fluister hy in haar oor. “Die maan en die sterre kan nie verklik nie.” Toe gly haar arms om sy nek en haar vingers streel deur sy blonde hare.
Vandag voel heeltemal anders toe hy die biblioteek instap. Begeesterd, asof die wêreld aan hom behoort, nader hy die toonbank. Sy bestraal hom met haar glimlag.
“Môre, Meneer!”
“Goeimôre! Geen rose vandag?” vra hy en kyk vraend rond.
“Nog niks sover. Gister se roos het my kollega huis toe gevat. Ek watch haar, die vyfde roos is mýne, want niemand maak beter tee as ek nie.”
Hy lag. Hy het nie geweet hy kan by haar so vry en tuis voel nie.
“Sy het my gisteraand jou sms gewys. Bedoel jy wat daarin staan?”
“Miskien … Hoe eindig die verhaal op die bladsy?”
“Dit hang van jou af. Sal ons iewers gaan tee drink, asseblief?”
“Ek dog dit hang af van wie die rose stuur?”
“Ja, dit ook.”
“Praat van die duiwel, hier kom die vyfde episode van ons roossepie. Vandag is daar darem ’n kaartjie by.”
Sy lees dit hardop: Geniet die vyfde roos, want niemand maak beter as TEE-der Floriste se nuwe bestuur.
(Agterop: Geborg deur Vyf Rose)
Neo Bemarkings Eiendoms Beperk.
“Wat sê jy nóú?” glimlag hy.
“Sien jou oor ? uur,” glimlag sy saam.