Klik op die sterretjies onder die verhaal om dit te beoordeel. Hoe beter die verhaal, hoe meer sterretjies moet jy toeken. Jy moet inteken om te kan stem. Stem vanaf Saterdag 28 Junie tot Vrydag 25 Julie vir die Julie-verhale.
Rina Cilliers
Keerpunt
“Ek wil hom hê-ê-ê!” Marnus stoot sy trollie tussen die winkelrakke in Pick n Pay deur. Voor hom sukkel ’n jong vrou om haar trollie en inkopies saam met twee woelige kinders te hanteer.
Voorin sukkel ’n peuter om sy bene uit die trollie se sitplek te trek. Binne-in sit ’n kleuter wie se stem sowat twintig desibels sterker as ’n opstygende vliegtuig bereik. Hy kerm oor ’n speelding wat hy gesien het.
Die vrou se hare hang wanordelik, haar bloes trek skeef terwyl sy beur om die twee woelige kinders in die trollie te hou. Sy ruk oplaas ’n pak ontbytvlokkies uit die rak, gooi dit amper bo-op die ongedurige kleuter.
“Ek wíl hom hê-ê-ê!” skreeu hy. Hy gooi ’n pak suiker uit die trollie. Dit bars aan die een kant oop. Die vrou sien dit nie. Marnus tel die stukkende suikerpak op, sit dit versigtig op die laagste rak neer en vee ’n streep suiker met sy hand onder die rak in.
“Nee!” Die vrou klap haar handsak, waarin die peuter vroetel, toe. Haar gesig word rooier. Sy ruk ’n koekie seep uit sy mond en druk ’n fopspeen daarin voordat hy kan huil.
“Ek wíl dit hê-ê-ê.” Die ander kind gooi ’n blik koffie oor die rand van die waentjie. Dit rol by Marnus verby, onder die rak in. Hy probeer dit met sy voet keer. Te laat. Van onder die rak hoor hy hoe dit teen iets stamp.
“Ag nee,” skreeu die vrou op haar kind. Sy ruk hom uit die trollie, sit hom hardhandig op die grond neer. “Nou gaan jy die blik koffie uithaal!” Die kind staak sy gekerm. Nuwe speletjie vir hom. Hy kruip soos ’n ywerige wurmpie onder die rak in. Sy ma sit ’n pak rooibostee in die trollie. Die peuter gooi dit summier uit.
Marnus tel op – ’n toiletrol, melkpoeier en tandepasta. Hy wonder benoud wat van die ander kind geword het. Dit is doodstil onder die rakke. Die ma gooi vinnig ’n paar ander benodigdhede in die waentjie.
Marnus gaan staan op sy knieë, druk sy das plat en loer onder die rak in. Op daardie oomblik begin die kind onder die rak oorverdowend skreeu. Mense kyk nuuskierig na die oorsaak van die lawaai. Die kind sit vas.
Die ma lê nou plat op die grond, roep paaiend na die kind wat onophoudelik gil. Die peuter in die trollie gooi alles binne sy bereik af grond toe.
Marnus bekyk die situasie. Hy kom regop. Dis ’n breë rak, sal nie maklik kan skuif nie. Personeellede probeer agterna kruip, tevergeefs. Nuuskieriges vorm ’n halfmaan om hulle.
Marnus loop rondom die rak na die ander kant toe. Daar staan ’n klomp besems in ’n houer. Hy neem een en buk voor die rak af. Die angstige ma skreeu nou net so hard soos die kind. Marnus haak die besem versigtig om die kind se lyfie. Die kind beur los, probeer terugkruip na sy ma. Die winkelmense begin die rakke leeg pak.
Marnus kry die kind gehaak. Stadig trek hy die wriemelende lyfie uit.
“Hy kom!” roep hy triomfantlik.
Die ma gryp haar trollie met die peuter en hardloop rondom die rak na waar Marnus die kind amper uit het. Die toeskouers kom saam.
Marnus gryp ’n skoppende beentjie vas en trek hom uit. Die kind ruk woedend en probeer uit Marnus se greep loskom. Hy krap Marnus se gesig en trek sy hare.
Marnus, die goeie, pligsgetroue Marnus, doen op daardie oomblik wat hy reken gedoen moet word. Hy keer die kind om en gee hom ’n raps op sy boud.
’n Ysige stilte kom lê rondom hulle.
Die kind kyk verskrik na Marnus. Die peuter in die waentjie sit self sy fopspeen in sy mond terug. Marnus druk die seuntjie in sy ma se arms. Sy maak haar mond oop, wil iets sê, maar bedink haar dan. Die personeel en omstanders verdwyn een na die ander.
Die ma sit die kind terug in haar trollie.
Marnus haal ’n pak koekies van die rak af, pak dit in sy trollie en beweeg aan na die volgende rak.
Dis doodstil in die winkel