“Dit sal die dag wees,” brom Annie terwyl sy die luukse motor agterna kyk. “Wat sê jy Annie?” roep Grietjie uit die erf langsaan waar sy staan en blommetjies natgooi.
Elize Perrin
Gelukkig het sy die droë ou blommetjies raakgesien toe sy wou loer wie langsaan stilhou. ’n Mens moet deesdae ’n ogie oor jou bure hou: Die wêreld is boos.
“Grietjie, gaan begrawe jou nuuskierigheid en los my uit!” roep Annie kwaai terwyl sy die entjie na die voordeur in ’n rekordtyd aflê. Met 80 somers agter die blad is ‘n mens se spoed ook nie meer wat dit was nie.
Beswaard gaan sit sy. Vir wat kan die kinders my nie uitlos nie? wonder sy vies. Net omdat sy ’n klein glipsie gehad het, wil hulle haar nou in ’n ouetehuis gaan prop. Dit sal sy nie toelaat nie!
Met ’n sterk koppie tee in die hand sit Annie en peins; ’n plan moet sy maak. Wat haar die meeste bekommer is dat haar dogter sommer dreig om haar ou karretjie ook te verkoop. Hoe dink hulle moet sy by die rolbal kom? Hulle sal hulle tog nie oor haar ontferm nie. Miskien moet sy maar gaan vrede maak met ou Grietjie. Twee koppe is darem beter as een.
Annie stap sommer kortpad na die huisie langsaan. As vredesoffer neem sy ’n paar lemoene saam. Sy weet mos hoe lief Grietjie daarvoor is. Soos altyd staan die deur oop en stap sy deur kombuis toe. Grietjie lyk nou nie juis of sy die vreugdevure wil aansteek toe sy haar sien nie.
“Dagsê Grietjie,” groet Annie huiwerig, “ek het vir jou ’n paar lemoene gebring.”
“Hmm, darem agtergekom dat jy weer ongeskik was,” brom Grietjie. “Wat kom soek daai dogter van jou so vroegoggend hier?”
“Moeilikheid, wat anders?” antwoord Annie vies. “Kan jy glo dat die kinders my nou in ’n ouetehuis wil prop? Wat moet ek in daai kleine kamertjie gaan maak?”
Grietjie sien dat Annie se trane vlak sit. “Nou waar sal hulle nou aan daardie idee kom?” vra sy verontwaardig. “Ons bly mos nou al jare so en pla niemand nie.”
“Sê ek ook. Net omdat ek ’n klein ou ongelukkie gehad het, dink hulle ek is oor die muur,” sug Annie.
“Watse ongeluk?” vra Grietjie verbaas. “Ek weet niks nie.”
“Ag, niks ernstig nie,” antwoord Annie ontwykend. “Dis nou weer die kinders wat ’n berg van ’n molshoop maak. Jy ken mos vir Elsa.”
“Vertel, Annie,” dreig Grietjie.
Annie maak eers keel skoon. “Niks ernstig nie,” stamel sy. “Toe ek gister van die rolbal af kom, wou ek net gou by die kafee stop vir ’n ietsie. Daar maak die mannetjie wat die aflewerings doen toe mos die bakkie se deur reg voor my oop. G’n mens kan so gou briek nie!” roep sy verontwaardig uit. “Toe gee ek hom maar so ligte stampie.”
“Nè?” sê-vra Grietjie. Oor al die jare wat hulle bure is, kan sy haar nie herinner dat so iets Annie al ooit oorgekom het nie. “En toe?” wil sy nuuskierig weet.
“Nee jong, daai ou konstabeltjie wat toe daar aankom, was heel hardekwas. Vandag se kinders het mos g’n respek vir ouderdom nie. Dreig my sommer met dwarsboming van die gereg net oor ek my mening lug.”
“En wat sou daai mening wees?” vra Grietjie. Sy vind die petalje nogal heel amusant.
Vir ’n oomblik lyk Annie bietjie ongemaklik, maar gaan tog voort. “Nee, ek het maar net vir hom gesê hy hoef niks in daai boekie van hom te skryf nie … dis glad nie so groot gedoente as wat hy maak nie.”
Nou kan Grietjie haar lag nie meer bedwing nie.
“Ja, lag maar,” verwyt Annie.
“Hoe kry Elsa toe die tyding?” vra Grietjie laggend.
“Ook die hardekwas konstabeltjie,” antwoord Annie. “Jy weet mos hoe gaan dit op hierdie klein plekkies; die mense weet meer van jou familiestamboom af as jyself.”
Vir ’n rukkie is albei stil. Toe skud Annie haar kop en laat ernstig hoor: “Ek gaan nie in daai ouetehuis geprop word nie, Grietjie. Ons moet plan maak.”
“Nou wat het jy in gedagte?” vra Grietjie versigtig.
“Kom sit nader, dan vertel ek jou,” fluister-praat Annie en skuif nader. Grietjie moet niks mis of verkeerd verstaan nie.
Vrydagoggend is Grietjie saam met die eerste voëltjies se fluit reeds by Annie se voordeur. Vanoggend word daar sommer staan-staan tee gedrink.
“Al die goedjies is hier in die kombuis, Grietjie. Jy kan solank aangaan. Ek gaan eerste die stoep vee en dan die stoele herrangskik,” sê Annie voor sy haastig by die deur uitglip. Vandag moet die ou rumatiekpyne maar wag; dit kan ander dag twee keer pyn.
Teen laatoggend kom die heerlikste geure uit die kombuis.
Sonder Grietjie sou ek vandag bietjie verlore gewees het, dink Annie terwyl sy om die kombuisdeur loer. Hulle kon nie helpers huur nie, dit sou te veel aandag trek.
“Hoe vorder jy, Grietjie?” vra Annie.
“Die pasteitjies is klaar. Ek is nou besig met die melkterte,” antwoord Grietjie terwyl sy die sweet met haar voorskoot afvee. “Het jy daai musiek-ding al gekry?” vra sy.
“Dit kom bietjie later. Die mannetjie het gesê hy sal dit vir my bring as hy van die werk afkom,” antwoord Annie. “Ek is tog so dankbaar dat die kind bereid is om die ding vir my te leen. Gawe jong buurmannetjie wat ons het.”
“Weet jy hoe dit werk?” vra Grietjie huiwerig.
“Nie eintlik nie, maar die mannetjie meen dis nie moeilik nie. Jy weet mos, ’n mens is nooit te oud om te leer nie,” antwoord Annie met ’n vonkel in die oog.
Grietjie kan nie help om te glimlag nie. “Waar kry ons van daai goed om te speel? Wat noem hulle dit: cee-dee of iets?” wil sy tog vir oulaas weet.
“Hy sal sommer van syne saambring. Dis dalk nou nie heeltemal die musiek waaraan ons gewoond is nie, maar ’n verandering is net so goed soos ’n vakansie,” roep Annie oor haar skouer.
Nog voor die son sy laaste strale begin gooi, staan Annie en Grietjie uitgedos op die stoep. Annie het al die genooides betyds gewaarsku om maar ’n ordentlike middagslapie te neem. Die aand kan dalk lank word.
Saterdagoggend lui die foon vroeg. Dit voel vir Annie of sy skaars ’n oog toe gemaak het. Tog loer die son al oor die berg. Sy hoef nie te wonder wie dit is wat bel nie.
“Annie du Preez,” antwoord sy op haar vrolikste.
“Ma, hoe kon Ma?” hyg Elsa, “die skande!”
“Hallo my kind,” gaan Annie ongestoord voort, “Dit gaan goed en met jou?” As die kind dan haar maniere vergeet het, sal sy haar weer daaraan herinner.
“Daar is nie tyd vir grappies nie, Ma!” tier Elsa aan die anderkant.
“O, ek het nie geweet goeie maniere is grappies nie?” sê-vra Annie verbaas. “Maar wat is fout? Hoekom bel jy so vroeg op ’n Saterdagoggend?”
“Ma behoort te weet. Dis net genade dat Ma nie vandag agter tralies sit nie …” begin Elsa.
Seker die konstabeltjie wat geklik het, dink Annie verontwaardig.
“Wie het geklik?” vra Annie onskuldig. “Dit was glad nie so erg nie.” Die Liewe Vader sal daai enetjie maar moet vergewe.
“Matrone het my dou-voor-dag gebel,” sis Elsa. “Ek moes eers oor die skok kom voor ek met Ma kon praat.”
Annie wil eers vra of die matrone dan sleg slaap, maar haar nuuskierigheid kry die oorhand.
“Nou wat is haar probleem?” vra sy.
’n Lang stilte volg voordat Elsa, baie na aan trane, dit uitkry. “Sy het my net laat weet dat Ma ongelukkig nie kwalifiseer om tans in die ouetehuis opgeneem te word nie. Ma word as ’n risiko beskou. Die oumensies moet genoeg rus kry en Ma is bietjie raserig.”
Annie moet haar tong vasbyt om nie ’n kragwoord te sê nie. Sy het g’n aansoek vir niks gedoen nie.
“Dan is dit nou maar so,” probeer sy so besadig as moontlik antwoord, maar Elsa is nog nie klaar nie.
“Wat het Ma besiel om ’n huispartytjie te hou?” wil laasgenoemde verontwaardig weet.
“Ag, dit was sommer ’n afskeidspartytjie vir myself voor ek mos nou ouetehuis toe sou gaan,” antwoord Annie en hoop sy klink bietjie hartseer.
“Wel, ouetehuis toe op hierdie dorp kan Ma maar vergeet van. Dalk kan ons vorentoe dink aan een van die buurdorpe … as Ma se reputasie Ma nie vooruit is nie.”
“Goed, my kind,” antwoord Annie gedwee. Sy bid dat Elsa gou sal aflui; veel langer sal sy nie haar vreugde kan inhou nie.
Annie storm na die huisie langsaan. Sy moet haar blydskap met iemand deel en sy weet Grietjie sit al en wag.
“Grietjie!” roep sy uitasem.
Soos gewoonlik kry sy Grietjie in die kombuis.
“Dit het gewerk, Grietjie,” hyg sy en sak op die naaste stoel neer.
“Ek weet,” sê Grietjie en wys na die bottel vonkelwyn op die tafel.
Toe bars albei in ’n vreugde-lag uit.