“Lientjie, waar is jy?”
“Hieragter tannie Ralie.”
“Ag, kind, sit jy al weer met jou neus in ‘n boek?”
“Dit help my om te vergeet, Tannie. Soms moet ek net van die werklikheid se harde oë af wegvlug …”
Johanette de Beer
Jacolien se lewe is so skielik tot stilstand geruk. Alles was in plek. Ben, haar ridder op sy wit perd, het haar gevra om te trou. Hy sou haar oplaai, dan is dit haar ouers se beurt om van hul groot nuus te hoor.
Die selfoonoproep was so vreemd. Dit was nie Ben nie. ‘n Vreemde stem het net gesê, dit was donker, die eland net skielik in die pad. Dit was te laat, Ben is op die toneel …
“Nee, Tannie, ek is nie nou lus vir tee nie, dankie!”
Jacolien moes net met die lewe aangaan. Toe sy ‘n pos op hierdie afgeleë dorpie kry, was sy so bly om net te vlug.
Dag vir dag het sy maar net probeer regop bly. Gelukkig het die graad 3’s haar behoorlik besig gehou. Die lewe het voortgegaan. Danksy tannie Ralie het sy elke dag ‘n heerlike bord gekookte kos gekry.
“Lientjie, kom gou hier!”
Wat nou? Sy het mos gesê sy is nie lus vir tee nie. Sy staan traag op en stryk aan kombuis toe.
Die kombuis is leeg. Veraf hoor sy stemme. Sy kom om die hoek van die sitkamer en kyk vas in die blinkste glimlag wat sy nog gesien het.
“Lientjie, dit is dominee Servaas.”
“A-a-ngename kennis,” stamel sy.
Haar hare is deurmekaar. Sy besef nou eers sy het geen grimering aan nie.
“Dominee kom hoor net of dit nog reg is vir môre se hulp met die kleinspan by die kermis.”
Sy het heeltemal vergeet! Tannie Ralie het so iets genoem, maar sy wou nog ‘n verskoning uitdink.
“Tannie Ralie, is dit nou Lientjie van wie ek al so baie gehoor het.”
“Dit is eintlik Jacolien, ek hoop tannie Ralie het net mooi dinge gesê!”
“Ja, beslis. Kyk waar staan die tyd, ek kom haal jou môre so sewe uur. Baie dankie, jy red my lewe.”
Jacolien kyk hom agterna. Glad nie sleg nie. Nee wag, iets is vreemd. Sy kan nie presies haar vinger daarop lê nie. Agter die groot glimlag, skuil daar ‘n tikkie hartseer. Wonder wie is die meisie wat onse dominee se hart gebreek het.
“Lientjie, waar loop jou gedagtes rond? Kan jy gou vir ons gaan eiers uithaal, ek moet nog drie melkterte bak vir môre.”
Jacolien stap aan hoenderhok toe, maar haar gedagtes bly terug dwaal na dominee Servaas toe. Wat gaan hulle met die kinders maak? Seker maar vroteier speel. Sy hoop nie sy stel hom teleur nie! Almal het sulke hoë verwagtinge van die nuwe juffrou.
Die dag van die kermis verloop eintlik baie beter as wat sy verwag het. Sy het maar ‘n slag met die kinders!
Jacolien is stokflou! ‘n Mens kan net soveel keer rondspring saam met ‘n lewendige groep kinders.
“Gedaan? Ek ook! Ek dink dit was genoeg vermaak vir een dag. Kan ek vir ons pannekoek en koffie kry om dankie te sê?”
“Ja, dit sal my lewe red!”
Jacolien en ds. Servaas laat die kinders verdaag en stap aan koffietent toe. Almal groet tog te vriendelik. Veral die jong meisietjies staan een vir een nader om met die aantreklike jong dominee ‘n woordjie te wissel.
Hy gesels vriendelik, maar Jacolien sien weer die tikkie hartseer om sy mondhoeke speel.
“Tant Ralie, kom help asb!”
Jacolien staan voor die spieël en sukkel om ‘n rok se rits toe te kry.
“Ag, Lientjie, jy lyk pragtig! Is daar ‘n spesiale geleentheid wat om die draai is?”
Jacolien kry skielik weer trane in haar oë. Sy kan dit nie doen nie. Die rok is spesiaal vir Ben en haar verlowingspartytjie gemaak. Sy trek dit uit en val op haar bed neer. Sy probeer so hard, maar die verlede bly by haar spook, keer op keer herleef sy die gebeure in ‘n nagmerrie.
Tant Ralie ken net die beste medisyne. Sy het vir ds. Servaas vir Sondag oorgenooi vir ete. Jacolien moet net bietjie meer met hom gesels, sy gaan nie so gou moed opgee nie.
“Dankie, Tannie, dit was heerlik! Ek sal nou ‘n entjie moet gaan stap. Jacolien, stap jy saam?”
Jacolien staan traag op, tog vir ds. Servaas sukkel sy om verskonings uit te dink.
‘n Lang ent stap hulle eers in stilte. Hy kon aanvoel sy is vandag nie baie spraaksaam nie.
“Lientjie, ek bedoel Jacolien, jy weet jy kan enigiets met my deel, ek is daarvoor opgelei.”
Sy kyk na die aantreklike jongman langs haar. Dit is snikheet warm, maar hy het weer ‘n lang broek aan, net soos die dag van die kermis. Seker maar die “dominee look” op ‘n klein dorpie.
“Hoe gaan ‘n mens aan as jou drome aan skerwe lê?”
Die vraag vang Servaas ietwat onkant. Tant Ralie het genoem van Ben wat verongeluk het, maar wat antwoord hy? Hy dink lank na en vat dan spontaan haar hand in syne.
“So, jy hou maar net aan met stap, afhanklik van Hom en laat vriende weer in jou lewe toe.”
Haar hart klop vinniger. Dit het sy glad nie verwag nie. Is sy gereed? Haar kop wil haar laat hardloop, maar haar hart wil haar hier hou.
“Mag ek jou ‘n persoonlike vraag vra?”
“Ja, maar dan moet jy eers belowe om Dinsdagaand by my te kom eet. Ek kan ‘n redelike hoenderslaai aanmekaarslaan.”
“Waarom dra jy altyd ‘n langbroek, al is dit só warm?” Sy sien dadelik weer die tikkie hartseer en kan haar tong afbyt.
Hy los haar hand en sy is bang sy het die verkeerde snaar aangeroer. Agge nee, sy het vriende nodig, sy besef sy moet die verlede begin agter laat.
“Ek is jammer. Ek wou jou nie ontstel nie!”
“Nee, wag moenie terugstap huis toe nie. Ek het nou net vir jou gepreek en kyk wat doen ek!”
Hulle gaan op ‘n stomp daar naby sit. Hy sit lank stil, voor hy weer begin praat.
“Die see was my lewe. Ná ‘n week se harde werk in die gemeente kon ek my branderplank neem en my batterye vir die volgende week herlaai.
Hy bly weer lank stil, maar hierdie keer vat sy spontaan sy hand. Sy kan die seer diep in sy oë sien.
“Dit was ‘n helder sonskyndag, die golwe was pragtig. Ek onthou nie veel meer van die dag nie, net die skok om die haai skielik by my te sien, die pyn …”
Sy gee sy hand ‘n drukkie en skielik weet sy waar die hartseer in sy oë vandaan kom. Hy vertel van al die operasies om sy been te red. Hy wys haar die aaklige letsels aan sy kuit. Hy wil wegruk, maar sy streel saggies daaroor en sê dan met trane in haar oë …
“Ek het gedink my en Ben se toekoms was saam uitgespel. In almal se oë was ons die perfekte paartjie. Ek het nou die dag weer die verlowingsrok wat ek spesiaal laat maak het en toe nooit gedra het nie, aangepas. Die rits het gehaak, die trane het geloop. Daardie dag het die nagmerrie my weer gery. Tog, Ben se beeld is besig om te vervaag. My ‘haai’ is die verlede wat my nie wou laat los nie. Ek het die rok nou die dag by tant Ralie se klere vir die rommelverkoping gesit. Dit was asof ek die gedeelte uit my verlede totaal afgesluit het. Sedertdien het my ‘haai’ gaan rus. Ek slaap baie rustiger en is gereed vir ‘n nuwe fase in my lewe.
“My letsels van die lewe is nie sigbaar soos joune nie, maar ons kan saam stap en die lewe weer in die oë kyk.”
Servaas kyk lank net na haar en streel saggies oor haar wang.
“Na die haai-aanval wou ek net in my dop kruip en niemand regtig weer naby my toelaat nie. Toe ek dit een keer gewaag het, sy was vriendelik en oulik.”
Jacolien sit haar arm om sy skouers en kyk diep in sy oë. Hulle kan mekaar regtig vertrou met hul diepste hartsgeheime. Servaas vervolg sag verder.
“Die vriendskap het mooi ontwikkel. ‘n Warm somerdag het ons saam gaan swem. Toe sy die letsels sien, het sy vinnig verskonings gemaak dat sy ‘n ander afspraak vergeet het. Ek het nooit weer van haar gehoor nie.”
Jacolien weet nie regtig wat die regte ding sal wees om te sê nie. Tog, sy voel veilig by hom, asof sy ‘n ware sielsgenoot gevind het.
“Servaas, ek dink letsels herinner ‘n mens daaraan dat jy regtig geleef het. Jy het my hartsletsels saggies aangeraak en ek is besig om te herstel. Hoe kan ek dan nie jou letsels in liefde aanvaar nie.”
Hy draai na haar toe, sy vinger volg die traanspoortjie op haar wang. Hy soen haar sag en hou haar styf teen hom vas.