Amelia Fortuin stap by die gebou uit en haar hart begin wild klop toe sy besef dat dit mistig is. Sy is uiters versigtig in haar daaglikse gedrag, daarom het sy vroeër die weerberig dopgehou, maar daar was geen melding van mistigheid hierdie tyd van die aand nie. Alles in haar wêreld moet georden wees. Sy is bewus daarvan dat niemand vir die natuur kan voorskryf nie, nogtans lewe sy volgens haar reëls.
Charmaine Cloete
Sy kyk rond – die mistigheid is dig, wat beteken sy kan skaars voor haar sien. Omdat die weerberig nie hiervan melding gemaak het nie, het sy te voet hierheen gekom. Dit is nou duidelik ’n fout, een waaraan sy niks kan doen nie. Sy slaan die kraag van haar hemp op, nie dat dit enigsins sal help nie. Die mistigheid het ’n geniepsige byt.
Weer probeer sy priemend deur die mistigheid kyk, dit baat haar egter nie. Sy haal diep asem en begin stadig met die trappies afloop. Sy het ’n algemene idee van waar sy haar bevind, nogtans is sy nie juis rigtingvas nie. Onder op die laaste trap kyk sy links en regs. Dit lyk kompleet vir haar asof die mis al digter word.
Die klammigheid omkleef haar voete. Met ’n kloppende hart begin haar voete in die linkerkantse rigting loop. Instink lei haar. Dit voel asof sy ure stap, maar volgens haar laaste berekeninge beweeg sy maar net ’n paar minute.
Sy is redelik nuut in hierdie dorpie en sy hoop sy stap in die regte rigting. Haar hartklop word al harder, in so ’n mate dat sy haarself nie kan hoor dink nie. Al waarna sy nou luister, is die ritme van haar hartklop.
Amelia gaan staan, want dit begin voel asof sy nou heeltemal rigtingloos is. Sy probeer rondkyk, maar die mistigheid omkleef haar nou behoorlik. Sy kan glad nie voor of langs haar sien nie.
“Besef jy waar jy is?” vra die manstem uit die mistigheid.
Sy kyk rond en besef toe dat sy onder ’n boom staan. Dit voel amper asof haar hart uit haar borskas gaan spring so skrik sy. “Wie is jy?” vra sy met ’n bang stem.
“Hulle noem my Pompers.”
“Wat ’n vreemde naam,” antwoord sy met ’n wilde hart. “Waar is jy?”
Amelia hoor sy sagte laggie. Daardie geluid laat die hoendervleis oor haar hele liggaam versprei. Dit voel kompleet asof sy brand van die koue klammigheid.
“Waar is jy?” vra sy weer, ’n onbekende vrees hou haar hart vas. Sy poog om diep asem te haal en dit voel asof sy bewusteloos gaan word.
“Ek is baie nader aan jou as wat dink,” spotlag hy. “Ek ken jou geheim.”
Amelia voel die vrees, dit is asof dit haar bors toedruk. ’n Vinger so koud soos ys streel oor haar arm. Sy kan die komende donkerte nie keer nie. Sy val in daardie put en voel hoe sy deur die nag verswelg word.
Amelia word wakker. Verward kom sy regop, voel die koue aan haar liggaam wat begin bibber. Onbegrypend kyk sy rond, met geen idee waar sy haar bevind nie. Steeds is die klewende mis rondom haar. Sy probeer rondkyk, maar kan glad nie sien wat voor haar aangaan nie.
“Dit is uiters vermetel van jou,” kom die stem wat vaagweg bekend klink uit die mistigheid.
“Wie …” die skok vibreer in haar stembande.
“So ons hou ons nou onnosel ook,” kom dit sarkasties.
Sy kyk soekend en angssweet slaan oor haar lyf uit.
“Pompers,” snerp hy.
“Waar is ek?”
“Ek hou van die vrees wat so in jou stem deurbreek. Ek hou baie daarvan.”
“Wat wil jy van my hê?”
“Dit is uiters vermetel van jou.” Kom die presiese woorde weer.
“Wat … wat het ek gedoen?”
“Uiters vermetel.” Die mis vou om haar liggaam. Dit voel kompleet asof dit haar verswelg.
“Los my,” fluister sy.
“Vir wat?”
Amelia probeer opstaan, maar besef sy sit op grond. Verskrik kyk sy waar sy sit. Die mis maak die graf oop. Die gil stol in haar keel.
“Vermetel van jou, vroumens,” kom dit van Pompers.
Sy probeer regop kom, maar die grond hou haar vas. Verwilderd kyk sy rond, die mistigheid maak oop sodat sy haar tuisdorp kan sien. Sy sien die stortreën wat oor die hele dorp soos ’n sproeier vee.
“Wat sien jy?” vra Pompers.
“Ek staan in die middel van die dorp,” sê sy verward.
“Wat doen jy?” vra Pompers.
“Ek … ek soek na myself.”
“Hoekom?” vra Pompers.
“Ek is verlore,” fluister sy in suiwer angs.
Amelia sien hoe haar voete haar deur die dorp lei. Sy gaan stop voor die kerk, kan skaars deur die gordyn van stortreën sien. Sy hoor stemme na haar roep, maar sy herken niemand nie. Almal is gesigloos, verdoesel in die mistige reën. Haar voete lei haar verder.
“Waar is my selfoon?”
Haar hande is soekend in die voue van haar klere. Al haar sakke is leeg.
“Vir wie wil jy bel?” vra Pompers.
“My pa.”
“Waarom?” vra Pompers.
“Hy moet my kom help.”
“Hoekom?” vra Pompers.
“Want ek is verlore. Ek is bang. Waar is ek? Hoekom soek niemand na my nie?”
“Wat jy is my prooi, Amelia Fortuin,” sê Pompers.
“Wat bedoel jy?”
“Jy moes na jou instink geluister het. As ek jou nie kan kry nie, gaan niemand anders nie, Amelia. Jy is myne. Jy het gedog jy kan van my af wegvlug.”
“Help!” gil sy, maar geen geluid verlaat haar lippe nie.
Amelia sien hoe sy deur die dorp loop. Daar is net water waar sy kyk, haar voete loop spattend daardeur. Sy loop met die straat af waar die water dreun soos die storm met die pad afspoel. Sy kom by haar ouerhuis, maar die deur is gesluit.
“Mamma!” roep sy, maar geen geluid ontsnap oor haar lippe nie.
“Pappa …”
“Dit waarmee jy besig is, is nutteloos. Niemand kan jou hoor nie. Niemand gaan jou kom help nie.”
“Waarom doen jy dit?” haar oë soek na hom. Sy wil sy gesig sien. Maar al wat sy hoor is sy stem, sy asemhaling so naby haar.
“As ek jou nie kan kry nie … niemand anders gaan daardie voorreg hê nie,” fluister hy hier by haar.
Amelia probeer weer regop kom. Die grond van die graf waarop sy sit, hou haar vas. Weer en weer probeer sy. Toe hoor sy grond wat skuif. Bang kyk sy rond. Sy sien die graaf wat besig is om ’n gat in die grond te maak.
“Wat doen jy?” vra sy met onverbloemde vrees.
“Ek skep ons tuiste,” verduidelik Pompers.
Amelia besef sy verkyk haar aan sy hande, sy lyf, maar sy gesig bly onduidelik vir haar. “Ek gaan nie daarin nie,” fluister sy.
“Jy het nie ’n keuse nie, jou lewe is myne, Amelia Fortuin.”
Die loodgevoel van haar liggaam kom los, sy sien hoe haar hande na die graaf gryp, dit swaai. Sy hoor hoe dit met sy kop kontak maak. Toe verkyk sy haar hoe sy liggaam in die vars gat beland sonder dat sy ooit ’n idee het van hoe sy gesig lyk.
“Instink, sê jy. Wel, ek wil lewe. Rus jy in vrede.”
Amelia begin die gat toegooi. Die reën stort meedoënloos oor haar gesig neer. Sy lig haar kop op sodat die reën die modder van haar gesig kan was. Toe begin sy in geen spesifieke rigting nie stap. Sy stap uit die reën die mistigheid binne. Daar is ’n presiesheid in haar handeling.
Die aankomende voertuig kom uit die mis gery. Sy draai haar lyf en lig haar vinger. Die motor kom stop langs haar. Die ruite is toe van mistigheid.
“Het jy hulp nodig?” vra die stem van binne.
“My naam is Amelia Fortuin, ek wil graag huis toe gaan.”
“Klim gerus in. Ek sal jou veilig besorg.”
Sy maak die deur oop en klim in. Die veiligheidsgordel slaan om haar lyf. Sy kyk met dankbaarheid na hom. Toe stol haar bloed.
“Hulle noem my Pompers,” sê hy. Sy hoonlag weerklink deur die lug.