Aandagtigheid oftewel mindfulness is een van daardie begrippe wat jy kort-kort raaklees, maar wat beteken dit eintlik?
Zerelda Esterhuizen
Die benadering van aandagtigheid het die wêreld behoorlik stormenderhand verower. Só was dit selfs al op die voorblad van Time-tydskrif en word deur groot maatskappye soos Google aangehang. Die Britse gesondheidstelsel betaal selfs vir ‘n kursus van agt weke in aandagtigheid vir depressielyers.
Olwyn Rheeder is ‘n afrigter in aandagtigheid by Eduspring. Sy bied gereeld kursusse oor die onderwerp aan vir onder andere onderwysers, mense in korporatiewe omgewings en privaat groepe.
Haar eie reis met aandagtigheid het begin toe sy saam met vriende die bekende Camino in Spanje gestap het.
“Ek was by ‘n klein taverne op ‘n Spaanse dorpie, Boente. Daar was ‘n bordjie teen die muur wat my aandag getrek het,” vertel Olwyn.
“Die woorde kan basies vertaal word as die ‘lewe is kort, die dood is vir ewig, geniet oomblik vir oomblik in hierdie taverne’. Dit was die besef van hoe kragtig ‘n oomblik was, wat my denkwyse oor die lewe vir altyd verander het.”
Die filosofie van aandagtigheid is niks nuuts nie, verduidelik Olwyn. Dis ‘n antieke een met baie invloede. Daar is pragtige geskrewe denkrigtings hieroor wat uit die tyd van Marcus Aurelius dateer.
Wat is aandagtigheid?
Aandagtigheid gaan basies daaroor om bewustelik in die oomblik te leef, sê Olwyn. “’n Mens moet die verlede in die verlede los en nie die toekoms vrees nie. Dit gaan oor die oomblik. Howel dit eenvoudig klink, weet ons al dat dit ‘n geweldige uitdaging in die moderne lewe kan wees.”
Olwyn sê mense is elke dag met honderde takies doenig, hulle werk op hul rekenaars, gaan hul fone na en loer konstant na sosiale media terwyl hulle boonop gesprekke aan die gang moet hou.
En dan wonder ons nog waarom ons so gestres is?
“Ons liggame doen dikwels een ding terwyl ons kop op ‘n ander plek is. Die geheim volgens die aandagtigheidsbenadering is om op te hou om dit te doen en ons lewe ten volle te leef – oomblik vir oomblik. Ons lewe in oomblikke wat nou gebeur – as ons dit eers aanvaar, sal die lewe eenvoudiger en vervullender word.”
Olwyn vertel hoewel die beweging toenemend gewilder in die Westerse wêreld word, lyk dit asof daar ‘n wanpersepsie oor aandagtigheid in Suid-Afrika is met baie mense wat verkeerdelik aanneem dat dit met ‘n godsdiens verbind word en dat dit uitsluitlik oor meditasie gaan.
“Dis glad nie waar nie aangesien aandagtigheid ‘n sekulêre benadering is en hoewel jy jou verstand met meditasie kan fokus, is daar baie ander belangrike aspekte aan die filosofie verbonde. Hoe ons oefen om te aanvaar en meer van ons eie karaktertrekke en egogedrewe gedrag bewus te wees, is twee van die belangrikste hoekstene van die benadering.”
Hoe leef jy meer aandagtig?
Jy het twee fantastiese gereedskapstukke in die vorm van jou sintuie en asemhaling, sê Olwyn. As jy ten volle van jou sintuie bewus is, kan jy jouself herinner aan waar jy is, wat jy doen en wat jy ervaar.
As jy bewustelik asemhaal, dan vat jy dinge stadiger, fokus jou aandag en beweeg bewustelik na die volgende oomblik.
Meditasie is ‘n kragtige hulpmiddel (selfs al is dit net vyf minute per dag) maar selfs al haal jy net bewustelik asem en gebruik jou sintuie, maak jy ‘n daadwerklike verandering aan jou aandagtigheid en plaas jy jouself na die huidige oomblik.
Wenke vir die nuwe jaar
Doen jouself die guns en neem ‘n besluit om meer aandagtig te leef, sê Olwyn. “Gee jouself die geskenk van teenwoordigheid. Die lewe is ‘n wonderlike avontuur wat ten volle geleef moet word. Die voordele van die aandagtigheid is minder stres, verhoogde fokus, beter gesondheid en groter geluk. Word dus wakker en leef, moenie net bestaan nie.”
Nog voordele
· Dis goed vir die liggaam. Ná agt weke van opleiding en meditasie, is daar bewys dat die immuunstelsel ‘n hupstoot gekry het om siektes af te weer.
· Dis goed vir jou verstand. Verskeie studies het bevind dat aandagtigheid positiewe emosies aanwakker terwyl dit negatiewe emosies en stres verminder het.
· Dit verander jou brein. Die digtheid van grys stof neem toe daarmee.
· Dit verbeter verhoudings. Opleiding in aandagtigheid het verhoudingsmaats positief beïnvloed.
· Dit verhoog gevoelens van empatie en omgee vir ander.
· Dis goed vir ouers aangesien dit stres en angs by ouers laat afneem.
· As jy aandagtig eet, moedig dit gesonder eetgewoontes aan en help mense om gewig te verloor.
Olwyn: besoek eduspring vir meer info of [email protected]