Gaste kon vanjaar by Lanzerac aan die proses van wynmaak meemaak
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Oestyd op ’n wynplaas is gewoonlik dié tyd wat jy geen wynmaker of plaasbestuurder kan pla nie, want hulle is druk besig om die trokvragte druiwe wat inkom kelder toe om gepars te word, te rangeer; die gehalte van die druiwe te toets; gisting te oorsien en seker te maak alles verloop volgens plan.
By die historiese landgoed, Lanzerac in Stellenbosch, was daar egter vanjaar vir een dag ’n uitsondering toe gaste genooi is om die hele proses mee te maak: van hul eie druiwe oes; dit in die kelder in groot kratte trap; die nuwe wyne uit die vlekvryestaal tenks proe, tot die verouderde wyne in die vinoteek besigtig en toe aansit vir middagete en die landgoed se bekroonde wyne geniet.
Die oggend se harde werk is eers in die kelder met die landgoed se Brut MCC afgespoel en toe kon gaste die heel eerste bottel Pinotage, die 1959-oesjaar, wat in 1961 op Lanzerac gebottel is, vashou. Die druiwe het van Bellevue – om die draai – gekom. Lanzerac se Pionier Pinotage word vandag gemaak en verouder om hierdie pioniersgees van voorgeslagte te eer en voort te dra.
Gaste kon aansit by ’n feesmaal van gedeelde borde, waar daar lekker gesels is en kos en wyn onder vriende uitgeruil is, voor almal die reuse bouprojek wat op die plaas onderweg is, van nader kon bekyk. Daar is onder meer ’n nuwe restaurant wat binnekort open; nuwe luukse gaste-suites en vele meer.