Die impak van ’n langer lewe op jou aftreegeld moenie onderskat word nie. Die mees onlangse statistiek oor lewensverwagting wys dat mense baie langer ná aftrede leef as wat hulle verwag. Ons kyk hierna in ons 11 September-uitgawe. Lees hier meer
Maretha Botes
Mense leef vandag baie langer as jare terug. Dit het ’n reuse-impak op jou neseier vir jou oudag. Is dit ooit te laat om te begin spaar vir aftrede? Nico van Gijsen, besturende direkteur van Finlac, sê ja, dit kán dalk te laat wees.
Hy sê: “My raad is werk so lank jy kan. Vergeet van vroeë aftrede, dis ‘n slang wat lê en wag om jou te pik. As jy by aftrede is, hoe kan jy seker wees jou geld gaan hou? Pas jou lewenstyl aan om by jou beskikbare kapitaal aan te pas, moenie kansvatter-beleggings aandurf om jare se gebrek aan spaar-dissipline te probeer regstel nie, dit is ‘n seker resep vir finansiële ellende.
“Hoe maak jy seker jy eet nie in jou kapitaal in nie? Vir ’n man van 60 jaar oud is die onttrek-syfer 4,5% per jaar van die kapitaal, vir ‘n vrou is dit 4% per jaar (omdat hulle langer daarvan leef). As ‘n egpaar gesamentlik afhanklik is van die geld, net 3,75% per jaar. Met gewaarborgde spaarprodukte kyk ons tans na so tussen 5% en 8% per jaar, afhangende van die waarborge wat gekies word, byvoorbeeld ‘n gade-pensioen by sterfte, jaarlikse styging in inkomste met inflasie, ensovoorts.
“Baie mense maak die fout en koop met hul aftreegeld ‘n lewende annuïteit ‘om iets vir die kinders na te laat’ en leef dan in elk geval die geld uit omdat hulle meer daarvan trek as wat die beleggingsgroei kan bied. Met gewaarborgde pensioenprodukte het jy nie die bekommernis van beleggingsgroei nie. En daar is produkte wat in elk geval jou kapitaal terug waarborg by dood. Die groot geheim is om jou nie op sleeptou te laat neem deur onkundige raadgewers en finansiële advies om die braaivleisvuur nie.”