Pendelhuwelike is ’n realiteit, maar hoe laat ’n mens dit werk, vra Tanya de Vente-Bijker in ons 6 November-uitgawe. Hier is nog raad vir pendelpaartjies:
Tanya de Vente-Bijker
Dr Jannie Botha, skrywer van die boek Pendelhuwelik, is ’n sielkundige wat onder meer op verhoudingsterapie fokus. Hy gee die volgende raad vir egpare in ‘n pendelhuwelik.
• Doeltreffende kommunikasie is baie belangrik, maar in ‘n pendelhuwelik is ook “geforseerde” kommunikasie noodsaaklik. Elke keer wanneer julle weer by mekaar kom, moet julle ‘n uur vat om dinge uit te praat en probleme op te los. Dit is nie altyd lekker nie, maar ‘n mens moet die kommunikasie forseer, want anders gaan dit later probleme veroorsaak. Paartjies is geneig om versigtig met mekaar te praat en net mooi goed vir mekaar te sê as hulle ‘n ruk uit mekaar was. Dit is egter belangrik om die probleme wat daar is aan te spreek.
• Dit is baie belangrik om te onthou dat sosiale media soos WhatsApp ’n manier is om kontak te behou, maar dit is nie kommunikeer nie. Die ideaal sal wees om met mekaar te Skype of iets soos Facetime te gebruik waar jy mekaar kan sien.
• Maak tyd vir mekaar sonder die kinders.
• Maak tyd vir jul sekslewe. My raad aan vroue is om foonseks met hul mans te hê sodat sy seksuele behoeftes ook bevredig word.