Ons weet almal dis belangrik om boeke vroeg reeds deel van ons kinders se lewens maak, maar hóékom is dit belangrik?
JB Roux
Hoe kan jy jou kind help om op ‘n jong ouderdom reeds lief te wees vir boeke en lees?
Kinders wat aktief aan taal blootgestel word, het sosiale en opvoedkundige voordele bo ander kinders. En om vir jou kinders voor te lees, kan die grondslag lê vir selflees wanneer dié kinders ‘n bietjie ouer is. Latere leesprobleme kan voorkom word indien jou peuters of kleuters aan boeke blootgestel word.
Om jou baba of kleuter te leer om informeel en vir die pret te lees, is makliker as om ‘n sesjarige kind formeel te leer lees. Die beste manier is om hulle op só ‘n manier aan boeke bekend te stel dat hulle opgewonde raak oor die stories wat in die boeke vertel word. Jy moet jou kind wys dat boeke belangrik is – én groot pret!
Kleuters is woelwaters – moenie van jong kinders verwag om stil te sit terwyl jy vir hulle lees nie. Hulle spring, huppel en baljaar dalk die vertrek vol, maar hulle is steeds besig om te luister.
Dit is nooit goed om jong kinders te probeer dwing om te lees nie – dit kan veroorsaak dat hulle ‘n afkeer aan boeke ontwikkel. Maak jou kleuter deel van die leeservaring deur in die middel van die sin op te hou en haar self die sin te laat voltooi, of maak doelbewus foute sodat sy jou kan reghelp. Jy sal verbaas wees hoe goed hulle dinge onthou. Lees kort, eenvoudige stukkies gereeld voor.
Kies boeke wat jou kind sal boei. Stories oor diere en masjinerie sal haar uitdaag om bewegings en klanke na te maak. Boeke met verskillende teksture of tekstiele wat op die bladsye afgedruk is en waaroor die kind kan voel, is ‘n goeie idee; so ook boeke met gedetailleerde illustrasies of voorwerpe wat in die illustrasies “versteek” is.
As dit lyk asof lees nie meer vir jou kleuter pret is nie, kies ‘n ander boek en wissel julle voorleestye af. Die doel is vir jou kind om positiewe ervarings met boeke te hê, nie om elke boek van voor tot agter deur te lees nie.
Vir ‘n peuter of kleuter is elke dag ‘n avontuur. Kies boeke oor alledaagse ervarings en emosies. Jou kind sal haar kan vereenselwig met karakters wat aantrek, eet, slaap, lag en speel.?
Lees jou kleuter se gunstelingstories oor en oor. Kies boeke oor dinge waarvan jou kleuter baie hou, soos treine of diere. Sulke boeke kan haar aandagspan verbreed en haar entoesiasties maak oor julle leestye.
Luister na jou kleuter of peuter se vrae. Kleuters het besliste menings en dink interessant oor die lewe. Moedig jou kleuter aan om jou te sê wat sy dink. Sy sal taalvaardigheid bou en jy sal terselfdertyd leer hoe jou kind dink. *
Dis hoe ek dit doen
Hoe kry Jaco Jacobs, skrywer van ‘n rits blitsverkoperboeke vir kinders, sy eie kinders sover om te lees?
“My twee meisiekinders, Mia (4) en Emma (2), is nog te jonk om self te lees, maar boeke is gróót in ons huis. Albei van hulle is klein-klein reeds dol oor boeke. Ek dink die belangrikste is dat daar boeke in ons huis is – op ma en pa se bedkassie, op die boekrakke in my kantoor, op die boekrakke in hul kamers, in die speelkamer, die badkamer …
“Ons koop elke maand vir hulle ten minste een of twee nuwe boeke. En ons léés vir hulle. Ek het vir albei stories en rympies gelees nog voor hulle gebore is. Dis gewoonlik mý ‘werk’ om slaaptydstories te lees – dis een takie wat ek met die grootste graagte verrig. Dis wonderlik om te sien hoe hulle reeds klein-klein hul gunstelingstories begin kies, dele van die stories uit hul kop leer en vrae vra oor die boeke wat ons lees.”
En hoe kry hy ánder mense se kinders so ver om sy eie boeke te lees?
“Ek probeer regtig om die soort stories te skryf wat in die eerste plek daarop gemik is om kinders te vermaak, of dit nou ‘n jeugboek vir tieners is of ‘n prenteboek vir kleuters. Ek steur my nie aan lewenslesse of opvoedkundige waarde nie – ek probeer bloot die soort stories skryf wat ‘n kind vanaf die eerste paragraaf met afwagting sal laat regop sit. Die soort stories wat ek self as kind geniet het.”
En e-boeke (vir kinders) vs papierboeke?
“E-boeke het hul plek. Daar is byvoorbeeld ‘n wonderlike interaktiewe weergawe van my prenteboek Waarvoor is seerowers bang? en ek kan verstaan dat sommige tienerlesers dit verkies om boeke in e-formaat te lees. Maar kinders – en volwassenes – is deesdae so skermvoos dat ek as skrywer kinderboeke in papierformaat verkies. ‘n Boek-toepassing is ‘n wonderlike manier om kleuters besig te hou en hulle op eie houtjie ‘n boek te laat verken, maar dit is geen plaasvervanger vir ‘n behoorlike slaaptydstorie saam met pa of ma nie – dít bly die beste interaktiewe leeservaring vir kleuters. Internasionaal lyk dit ook asof die mark vir e-kinderboeke begin krimp.”
Uitgewer gesels
“NB Uitgewers se twee kinder- en jeugboekname, Tafelberg en Human & Rousseau, publiseer nie hoofsaaklik vertalings nie,” sê Simone Hough, uitgewer by NB Boeke. “Ons publiseer vertalings aanvullend tot plaaslike skrywers se werk in die kategorieë waar daar baie lesers is, veral boeke vir 8 tot 12-jariges. En dan ook prenteboeke, kartonboeke en sierboeke (‘novelty’ boeke) vir babas en kleuters, wat ons saam met oorsese uitgewers met ‘n groot internasionale oplaag laat druk. Dit bring ‘n besparing op die eenheidskoste en dus die verkoopprys wat ons aan ons kopers kan bied.
“Dit is ook vir ons belangrik om groot internasionale skrywers soos Roald Dahl, Astrid Lindgren, Maurice Sendak en Dr Seuss in Afrikaans te publiseer, sodat jong Afrikaanse lesers ook blootstelling aan klassieke wêreldliteratuur kry.”
- http://kidshealth.org
- www.psychologytoday.com
- www.readingrockets.org
- www.babycenter.com
SOURCES
freepik