Hier is raad om jou oë teen sonskade te beskerm
Christa Swanepoel
“Ons bring soms ure aaneen buite in die sonlig deur en dink nooit eers daaraan dat dit permanente skade aan ons oë kan aanrig nie,” sê Peter Jordan van Fedhealth.
Volgens die Velkankerstigting is die ooglid gemaak om die oog te beskerm, maar sy velletjie is baie dun en die weefsel teer, wat maklik deur UV-strale beskadig kan word. Die lens en die kornea, albei deursigtig, filtreer UV-strale, maar kan ná jare se blootstelling skade opdoen. Dit geld veral vir die lens, wat met jare se UV-absorpsie geel en katarakagtig kan word.
UV-blootstelling word direk met 10% van alle katarakdiagnoses verbind en katarakte is die hoofoorsaak van blindheid in Suid-Afrika. Sekere ooglidkankers, intra-okulêre melanoom, bindvlieskankers en goedaardige groeisels van die bindvlies word aan sonblootstelling verbind.
Uitermatige blootstelling aan UV-strale of sonbeddens kan letterlik die kornea brand. Dit word keratitis genoem.
Dis dus belangrik om sonbrille te dra wat jou oë teen UV-strale beskerm as jy baie buite kom of sonbeddens gebruik.
Hou ook in gedagte dat sonskade aan die oog deur die jaar kan voorkom. Dra sover moontlik ‘n breërandhoed as jy buite is.
Peter gee nog raad om jou oë te beskerm.
• Jou donkerbril moet meer as 95% beskerming bied. Die tint moet 80% van lig uitblok, maar nie meer as 90% nie, want dan gaan jy begin sukkel om te sien.
• Moet jou nie laat flous deur bewolkte dae nie, want UV-strale skyn deur wolke.
• Kry oogdruppels en hou jou oë vogtig as dit droog en geïrriteerd raak.
• Moet nooit direk in die son kyk nie.
• Besoek jou optometris gereeld wat betyds enige skade sal opmerk.
SOURCES
Verskaf