Nes uitstekende kos en uitmuntende wyn, moet fyn kuns ervaar word om ten volle waardeer te kan word.
Maryke Roberts
Franschhoek, reeds bekend as Suid-Afrika se voorste kos- en wynbestemming, het nou ook “kunsbestemming” by sy uitgebreide repertoire gevoeg. Die dorp is nie net die tuiste van sommige van die land se beste kunsversamelings nie, maar word toenemend ook die gunsteling vir plaaslike en internasionale kunsentoesiaste, en om hierdie rede is Art Franschhoek aan die einde van verlede jaar bekend gestel.
Gedurende Oktober en November sal besoekers aan hierdie bekende vallei bederf word met ‘n keur van die beste kuns wanneer Franschhoek se vele galerye en plaaslike kunstenaars hul kunswerke ten toon stel. Die Art Franschhoekfees skop op 21 en 22 Oktober af en verskeie galerye het spesiale uitstallings en programme, maar al 23 galerye en ateljees op die dorp wat deel is van die kunsroete, is oop.
As deel van die Art in Clay-gedeelte van die fees sal gaste meegevoer word met die pragtige keramiekskeppings van bekende kunstenaars soos David Walters en sy dogter, Sarah.
Besoekers sal hul reis van ontdekking kan voortsit met die skeppings van een van Suid-Afrika se grootste meesters, Jacob Hendrik Pierneef, in die La Motte Museum. Die Pierneef Heritage Collection bestaan uit 44 kunswerke, asook persoonlike gedenkwaardighede.
Die Moór Gallery sal die gasheer wees vir ‘n uitstalling bekend as This Place – This Space. Dit word aangebied deur Candice Cruse en Julia Meintjes en beeld die kunstenaars se reaksie en interpretasie van ons komplekse land en samelewing uit.
Vir iets heeltemal anders kan gaste ‘n beeldhou-stap in die aande op Grand Provence doen of ‘n wyn-en-kos proe terwyl Ebony met sy manjifieke tentoonstelling van fyn kuns, beeldhouwerk en keramiekskeppings nie minder nie as vyf uitstallings in die galery sal aanbied. Gaan loer ook in by is art gallery vir interessante werke deur onder meer Guy du Toit en ander.
Vir ‘n volledige program van uitstallings en ander kuns-geïnspireerde gebeure, besoek franschhoek vir meer inligting.
Die Moór Gallery in Franschhoek se uitstalling bekend as This Place – This Space word vir Art Franschhoek aangebied. Van links is eienaars Katherine en Arthur McWilliams Smith en kurator Aidon Westcott by een van Timothy Hopwood se werke, ou verwerkte nuusfilms van Oostenryk.
Ilse Schermers Griesel, eienaar van is art gallery en kunstenaar Andrew Gibson wat nog tot 2 Oktober by haar gallery uitstal.
Van die kleurvolle werke by Holden Manz Collection.
Die ateljee en winkel van David Walters en sy dogter, Sarah.
Karla Benade, kurator van Grande Provence se gallery by een van die beeldhouwerke wat buite vertoon word.
Eliz-Marié Schoonbee, kurator by La Motte Museum vertel meer oor die omvangryke Pierneef-versameling.
SOURCES
Maryke Roberts