Interaksie is die gonswoord wat hoogty vier en wat moet sorg dat die bestaande grense tussen een kunsvorm en die ander, tussen besoekers en die kuns en ook tussen die besoekers in dié museum afgetakel word
Deur JOHAN MYBURG
“Skep nuwe ervarings saam met ander mense, verlustig jou aan grenslose kuns en verken die wêreld met jou lyf.” Dit is hoe die amptelike webwerf van die Mori- digitale kunsmuseum in Tokio – die eerste museum vir digitale kuns ter wêreld – dié splinternuwe Japanse kunsbestemming beskryf.
In dié museum van 10 000 m2 kan die besoeker met behulp van 520 rekenaars en 470 projektors ’n nuwe wêreld betree – een wat mens jou tot dusver nog nie kon voorstel nie. Dié museum is die geesteskind van teamlab, ’n Japanse kunstekollektief wat kreatiewe siele in die digitale omgewing byeenbring: kunstenaars, programmeerders, ingenieurs, animeerders wat met rekenaargegenereerde beelde (CGI) werk, wiskundiges, argitekte, web- en grafiese ontwerpers en redigeerders. Die interdissiplinêre aanslag van dié groep “ultra-tegnoloë” is daarop gemik om ’n balans tussen kuns, wetenskap, tegnologie en kreatiwiteit te vind. Teamlab het deur die jare ’n reputasie deur uitstallings reg oor die wêreld – van Sydney tot New York – gevestig.
Interaksie is die gonswoord wat hoogty vier en wat moet sorg dat die bestaande grense tussen een kunsvorm en die ander, tussen besoekers en die kuns en ook tussen die besoekers in dié museum afgetakel word. Soos teamlab dit stel: “Kunswerke beweeg vryelik uit die vertrekke van die museum en vorm konneksies en verhoudings met mense, tree in gesprek met ander kunswerke en die een beïnvloed en vermeng dikwels met die ander.” So kom mens kaleidoskopiese kunswerke teë wat geprogrammeer is om deur die interaksie met besoekers te “evolueer”.
Die museum bestaan uit vyf ruimtes wat verbind is. Grenslose wêreld, die eerste van dié ruimtes, is ’n interaktiewe digitale omgewing waarin besoekers aangemoedig word om self koers te kry. Jy loop onder meer deur gedigitaliseerde watervalle, woude en velde. Die sogenaamde Atletiekwoud is ’n omgewing waarin kreatiwiteit en fisieke aktiwiteit een word: Besoekers kry met digitale hindernisse en uitdagings soos ’n driedimensionele “berg” met hange van verskillende hoogtes en trampolienmatte te doen. Op dié manier kry besoekers (dalk die ratser soort) die geleentheid om ten volle “deel te word” van ’n “treffende, fisieke en kreatiewe ervaring”.
Die Toekomspark is ontwerp sodat kinders deur speletjies en aktiwiteite met kuns in aanraking kan kom – soos ’n akwarium met digitale visse en ’n muur wat klank voortbring sodra jy daaraan raak. In die vierde ruimte, die Woud van lanterns, word die besoeker deur kleur oorweldig en as jy eindelik die En Tea House bereik, waar jy groen tee (matcha) kan drink, bars digitale bloeisels in jou koppie tee uit sodra jy daaraan begin drink. Anders as in ’n tradisionele museum of galery waar jy op jou eie na kunswerke kyk en dit eintlik ’n baie geïsoleerde ervaring is, word die mense wat saam met jou in dié digitale wonderwêreld is, meer as net medebesoekers.
Omdat die kunswerke voortdurend deur interaksie verander, bepaal die mense saam met wie jy na die kuns kyk wat jy sien. Kuns kry met ander woorde die vermoë om die verhouding tussen mense wat daarna kyk, te verander. Neffens die tradisionele kunsmuseum met sy uitstallings van skilderye en beeldhouwerk en wat nie alles nie, is dié nuweling dalk ’n aanduiding dat die digitale wêreld – wat in die 1980’s in die visuele kunste in die vorm van “nuwe media” sy verskyning gemaak het – ’n krag is om mee rekening te hou. Besoek www.borderless.teamlab.art vir nog inligting