Vir Yves Klein was lyne op papier so goed soos tralies en suiwer kleur die pad na vryheid
Deur JOHAN MYBURG
International Klein Blue (IKB) is ’n diep skakering van blou, ‘n kleur met ’n sterk ultramariene-basis en die kleur wat sonder meer verbind word met Yves Klein, die Franse skilder wat in die 1950’s sy stempel afgedruk het. Dit was dié kleur met sy trekke van lapis lazuli wat in Middeleeuse kuns vir die gewaad van die heilige maagd gebruik is.
Abstraksie, wat in die jare vyftig in Frankryk hoogty gevier het, het op die veronderstelling berus dat die kunstenaar deur middel van die krag van abstraksie met die kyker kommunikeer. Dit was egter ook die jare waarin kritici aangevoer het die kyker moet soveel harder as die kunstenaar werk om die boodskap wat gekommunikeer word, te snap. Klein (1928–1966) se skilderye in blou was sonder iets om te snap, en kan enersyds as kommentaar op abstrakte kuns gesien word, maar kan andersyds ’n aanduiding van die oneindige, die onuitbeeldbare, dalk die absolute of selfs ’n manifestasie van kosmiese energie wees.
“Blou is sonder begrensing,” het Klein volgehou, “terwyl dit met ander kleure nie die geval is nie. Alle kleure wek spesifieke idees, maar blou suggereer die see en die lug, wat ieder geval in die sigbare natuur abstrak is.” Klein het gemeen benewens “die oneindige” was daar niks om te verstaan nie en kon die kyker as ’t ware sy of haar gedagtes sonder enige vooropgestelde idees laat gaan. Vir hom was lyne op papier so goed soos tralies en suiwer kleur die pad na vryheid. Onmiddellike gevoel, of onmiddellike reaksie op sy kuns, was wat hy in gedagte gehad het. Untitled Blue Monochrome (1959) (92,1 cm x 71,8 cm) is ‘n voorbeeld van dié monochrome blou skilderye gemaak van droë pigment in sintetiese hars op doek, oor bord gespan.
LEES OOK: Kuns: Johannes Vermeer se Meisie met die pêreloorbel
Later het Klein dié pigment ook met sponse aangebring wat hy as reliëf-elemente met draad aan die doeke vasgemaak het. Mettertyd het hy dié blou ook in sy “antropometriese” skilderye gebruik wat uit naakte vroue bestaan het wat met blou verf besmeer is en dan tydens ‘n performance oor wit gespande doeke getrek is. Die menslike lyf is dus as verfkwas gebruik. In dié opsig het Klein in die 1950’s al trekke getoon van die latere konseptuele kuns, performance-kuns en omgewingskuns. Vir sy uitstalling The Void in die Iris Clert-galery in Parys in 1958 het Klein niks uitgestal nie. Die kunswerk was benewens die wit mure van die leë galery die feit dat hy, geklee in ‘n aandpak met ‘n wit das, die kykers rondgeneem het om na die leë mure te kyk.
Meer as 3 000 mense het op die openingsaand tougestaan om dié uitstalling te sien. Sy blootstelling aan Zen-Boeddhisme in Japan moes ’n beweegrede vir dié uitstalling gewees het – as ‘n soort strewe na totale vryheid van die beperkings van die kunswêreld. Miskien moet ’n mens hier noem dat kuns nie Klein se eerste liefde was nie. In 1952 het die 24-jarige Klein na Tokio verhuis om judo aan die Kokodan-judo-instituut te gaan studeer waar hy sy swart gordel verwerf het. By sy terugkoms in Parys in 1955 het hy tot sy skok verneem dat die Franse judofederasie hom nie noodwendig as ‘n ster ag nie. Dit was toe dat hy hom op sy kuns begin toespits het. In 1961 het hy International Klein Blue (IKB) gepatenteer. Klein is die volgende jaar op 34 aan ‘n hartaanval dood.