‘Die uiters belangrike rol van kreatiwiteit, die poëtiese en die kunstenaar se stem in die groter samelewing’ kom vanjaar op Aardklop aan die orde
Deur JOHAN MYBURG
Wie beter as Diane Victor kan gestalte gee aan ’n tema soos Spoke, diewe en digters, die tema wat kurator Johan Thom gekies het as sambreel vir die aanbieding van die visuele kunste op Aardklop? Victor is vanjaar weer feeskunstenaar van dié fees in Potchefstroom nadat sy dit in 2009 ook was. In die bestek van byna tien jaar het haar werk nie net in volume (sy is een van die produktiefste Suid-Afrikaanse kunstenaars) toegeneem nie, maar ook wat die spookagtige kwaliteit daarvan betref.
Die manier waarop sy die roet van ’n kersvlam gebruik om figure op papier of tussen twee panele glas vas te vang, kan kwalik anders as skimagtig beskryf word. En heelwat van haar onderwerpe het ’n boefkwaliteit (al is nie almal digters óf diewe nie). Dink maar aan die rook-op-glas-installasie van 2011, A Butcher’s Altar. Haar volgehoue en voortgaande ondersoek na misbruike van mag, na misdaad en geweld in die land en bowenal die kwetsbaarheid van die vroueliggaam kom in haar jongste werk klinkklaar aan die orde. As deel van die Aardklopuitstalling, Skadu’s en lig, is ’n konteks-spesifieke glas-rook-en-lig-installasie in die aanbieding ingesluit.
Volgens Thom lewer die feestema kommentaar op die kreatiewe proses, asook die belangrike rol wat kunstenaars in ons samelewing speel. Vandag is kunstegnieke soos die gebruik van verkreë objekte en geskrewe teks alombekende strategieë om kontemporêre kunswerke te skep en sosiale kommentaar te lewer … Die uiters belangrike rol van kreatiwiteit, die poëtiese en die kunstenaar se stem in die groter samelewing, blyk weer opnuut belangrik te wees.” Die hoofgroepuitstalling met die tema as titel, behels ’n versameling werk wat uiteenlopende media, kunspraktyke en -benaderings ten toon stel – van Usha Seejarim se konseptuele werk tot Willem Boshoff en Stephan Erasmus se woordgedrewe kuns.
LEES OOK: Alexa Strachan en die Potch-fees
Vir dié uitstalling het Thom die werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars sowel as dié van buitelanders ingesluit. Benewens ’n videowerk van Marina Abromović en die kunstenaars wat reeds genoem is, is daar ook werk van Jodi Bieber, Frikkie Eksteen, Abrie Fourie, Raimi Gbadamosi, Dylan Graham, Bronwyn Lace, Shenaz Mahomed, Sharon Morris, Olu Oguibe, Cazlynne Peffer, Sarel Petrus, Avi Sooful en Angus Taylor. Liza Grobler se uitstalling in die galery van die botaniese tuin op die NWU-kampus het die oogmerk om die besoeker op ’n visuele reis te neem, meer as om ’n natuurlike ruimte te illustreer. Die ruimte wat sy skep “herinner aan plante en landskappe, maar is meer introspektief; ’n poëtiese bespiegeling oor groei en verganklikheid, met verskuilde verwysings na eienaarskap, natuurrampe (brand) en tasbare herinneringe”.
Die Absa-galery bring ’n uitstalling van die Ugandese kunstenaar Donald Wasswa, wat in 2016 ’n merietepryswenner in die L’Atelier-kunskompetisie was. Wasswa se solo-uitstalling ondersoek die konsep van diere en hul progressiewe ontwikkeling in ’n reeks werke wat wissel van houtbeeld en gemengde media tot sketse in ink op papier. Die groter projek word onder meer deur die idee van evolusie deur natuurlike seleksie, soos Charles Darwin dit uiteengesit het, asook ontwikkelings in nuwe tegnologie saamgebind.
Saamklop, Aardklop se gemeenskapskunsprojek, sluit vanjaar werk van kunstenaars in wat almal reeds deel van die Artist Proof Studio, Bag Factory, Found Collective, Nirox-stigting, Centre for the Less Good Idea en Keleketla! was. Saam met ’n portretuitstalling van sangerdigters deur Ronel Kellerman word musikale spookstories vertel, onder andere deur Bacchus Nel. Die kunstesafari vind op 1 Oktober plaas en Aardklop duur van 2 tot 6 Oktober.