Die Turbine Art Fair se oogmerk is om bekostigbare gehaltekuns aan te bied en op dié manier meer mense die geleentheid te gee om kunsversamelings op te bou
Deur JOHAN MYBURG
Die Turbine Art Fair (TAF) in Johannesburg wat van 12 tot 15 Julie vir die sesde keer aangebied word, doen dit vanjaar met die naamborgskap van die Rand Aksepbank (RMB). Dié ooreenkoms tussen RMB en die TAF spruit uit ’n gedeelde visie – dié van die ontwikkeling van ontluikende kunstenaars en ’n uitbreiding van die kunsmark in Afrika. Vanjaar pak die TAF hierdie oogmerk weer aan binne die konteks van ’n kunsskou met tradisioneel bereide kos (met die klem op nie-gemeganiseerde voorbereiding), drinkgoed, musiek en gespreksgeleenthede rondom die steeds florerende kunsmark.
Galerye wat deelneem, is onder meer die Artist Proof Studios, Bag Factory, Lizamore & Associates, David Krut Projects en Dawid Ras. Een van die kenmerke eie aan die TAF is dat die pryse van R1 000 tot R50 000 wissel. Dié plafon strook met die mark se oogmerk om bekostigbare gehaltekuns aan te bied en op dié manier meer mense die geleentheid te gee om kunsversamelings op te bou. As voorbeeld van hoe ’n nougesette kunsversameling kan lyk, het die TAF verlede jaar ’n deel van die Johannesburgse eiendomsontwikkelaar Anton Taljaard se Pierneef-versameling vertoon.
LEES OOK: Kuns: Hoe koop jy kuns?
Vanjaar vertoon Strauss & Kie, in samewerking met ArtInsure, ’n keur van stillewes van Irma Stern wat uit private versamelings getrek is. Dié versameling is onder die titel Is There Still Life? te sien. Stern (1894–1966) was een van Suid- Afrika se vernaamste skilders van stillewes. Saam met dié Sterns word ’n aantal stillewes deur studente aan tersiêre kunsskole in Gauteng uitgestal. Die studente kon in die medium van hul keuse werk en dié skilderye word te koop aangebied. Die uitstalling van werk deur nagraadse studente – ’n projek en aanbieding wat die afgelope paar jaar heelwat aandag op die TAF getrek het – sluit vanjaar buiten skilderwerk ook fotografie in.
Vanjaar se kurator van die Graduate Show is Musa N Nxumalo, wat departemente vir die visuele kunste regoor die land besoek het om dié uitstalling saam te stel. Nxumalo se riglyn aan die studente was “die herskepping van die gedagte van tuiste, grond, ruimte en identiteit”. Wat in die proses na vore kom, is uiteraard aspekte van ideale en drome, maar ook vrese. Oudergewoonte is Assemblage, in samewerking met Vansa, ook weer vanjaar op die TAF met ’n uitstalling van werk deur jong kunstenaars wat die afgelope ses maande aan ’n intensiewe program deelgeneem het gemik op die integrering van die praktiese kant van kuns en die professionele kunspraktyk.
Die oogmerk met die program is om kunstenaars toe te rus met alles wat hulle vir ’n volhoubare loopbaan in die kunsbedryf nodig het. Die kurator van dié projek, Talent Unlocked, is die fotograaf Fulufhelo Mobadi. Tamzin Lovell Miller is vanjaar die installasie- kurator van die TAF. Sy bring met dié toevoeging ’n “nuwe visie” na dié kunsmark in haar besinning oor “wie ons is in dié tyd van post-waarheid”. Soos in vorige jare bied die TAF spesiale programme vir kinders aan.