Die manier waarop die kunstenaar elemente in die natuur anders kan rangskik, bied die moontlikheid dat die publiek ’n nuwe wêreld kan ontdek
Deur JOHAN MYBURG
Die Stellenbosse filosoof Johan Degenaar het jare gelede politiek as the interplay of pressures beskryf. Elegant soos dié man met denke en taal omgegaan het, het hy met dié omskrywing die benoude definisies van politiek verruim en ’n mens ruimte gebied om nie bloot op die pressures te fokus nie, maar ook op die interplay; op die spel tussen A en B, op die spel tussen die pole van binêre opposisies.
Hoe jy uiting gee aan die druk aan of van weerskante, dit is die spel. Dit is politiek in sy wydste betekenis. Dit is hierdie soepel betekenis van politiek wat landkuns nog altyd nagestreef het: Dikwels uit die oog, soms doelbewus dekoratief, ingekeerd eerder as ’n luide stelling, gemik op ’n besinning wat landkuns by die aanskouer kan ontlok. Dit was immers die reaksie teen die kommersialisering van kuns, die verhoogde politieke aktivisme van die 1960’s en 1970’s en die groeiende bewuswording van omgewingskwessies wat tot die totstandkoming van landkuns aanleiding gegee het. Daarmee saam het sosiale en politieke kwessies in verhouding tot die natuurlike en stedelike omgewing in die prentjie gekom.
Strijdom van der Merwe (56) het op ’n plaas naby Meyerton grootgeword in die jare toe Andy Goldsworthy, Michael Heizer, Richard Long en Robert Smithson van hul belangrikste bydrae tot dié kunsvorm gelewer het. Die landelike omgewing het vroeg sy belangstelling geprikkel en toe hy in 1984 as grafiese ontwerper begin werk het, het hy in sy vrye tyd landkunswerk gemaak. Eers 12 jaar later het hy hom heeltyds op landkuns begin toespits. “Dit is die feit dat landkuns die vermoë het om by mense ’n ander (lees alternatiewe) blik en sensitiwiteit wakker te maak wat my fassineer,” het hy by geleentheid gesê. “Die manier waarop die kunstenaar elemente in die natuur anders kan rangskik, bied die moontlikheid dat die publiek ’n nuwe wêreld kan ontdek.” Bewusmaking was nog altyd ’n integrale deel van Van der Merwe se kuns.
LEES OOK: Kuns: Auguste Rodin
’n Pleidooi, al is dit net om bewustelik na die landskap te kyk (en om te síén), is deel daarvan. Aan dié aspek gee Van der Merwe subtiel en onpedanties uitdrukking. As ’t ware as ’n voorloper wat bestaande punte verbind, wat spanning tussen pole speels uitwys en selfs parodieer. Van der Merwe bied nie antwoorde nie. Hy kom nie met sterk geformuleerde politieke uitsprake (in die tradisionele betekenis) vorendag nie. Hy krap ligweg aan geskiedenis, aan die reste van verstaan, aan die lae van geheue en gewete.
Soos die werk wat hy onlangs in Kamiyama in Japan gemaak het. In ’n woud het hy versigtig, sonder om die bome te beskadig, met sy knipmes dun lagies mos van bome verwyder om ongeskonde kringe boombas te ontbloot. In dié omgewing kom die “natuurlike” bas onnatuurlik voor, tydelik gestroop van jare se mos, van neerslag van watter aard ook al. En op dié manier speel hy met die spanning tussen “oud” en “nuut”, tussen “natuurlik” en “onnatuurlik”, tussen geheue en ’n skoon lei. Mettertyd sal die mos teruggroei en sal Van der Merwe se werk vervaag en eindelik verdwyn. En sodoende kom kuns as tydelike ingryping ter sprake. Met basiese gereedskap soos ’n mes en hark en besem vorm hy sy geometriese patrone in die landskap; speel hy met net dit wat die natuur as medium bied. En laat hy ’n mens oor die spel van lewe en dood nadink. En alles tussenin.