Sensasie. Dit is wat die werk van die Australiese beeldhouer Ron Mueck tot gevolg het waar dit ook al uitgestal word.
Deur JOHAN MYBURG
Mueck het sy toetrede tot die kunswêreld 20 jaar gelede gemaak toe Charles Saatchi een van sy werke in sy Sensation-uitstalling ingesluit het wat in die Royal Academy in Londen aangebied is. Vir dié uitstalling het Mueck Dead Dad (1996/’97) gemaak, ‘n tweederde-skaalweergawe van sy pa se naakte lyk, ‘n beeldhouwerk in silikoon en gemengde media. Mueck het van sy eie hare vir die kapsel van dié beeld gebruik.
Tot en met dié uitstalling in 1997 was Mueck ‘n model- en marionettemaker vir kinderprogramme in Australië. Toe hy na Londen verhuis het, het hy sy eie maatskappy begin en fotorealistiese rekwisiete vir die advertensiebedryf begin maak.
Sy deurbraak het gekom toe sy skoonma, die skilder Paula Rego, hom aan Saatchi voorgestel het en dié hom in die geselskap van “jong Britse kunstenaars” soos Damien Hirst, Sarah Lucas, Marc Quinn en Tracey Emin ingetrek het.
Die afgelope 20 jaar het Mueck net meer as 40 beelde gemaak. Hy werk stadig, in stilte en staan nie onderhoude toe nie.
‘n Versameling van 13 beelde, sowat ‘n derde van sy oeuvre, is tans op ‘n wêreldtoer, van Parys tot Sao Paulo, en einde vandeesmaand is dié uitstalling in die Houston-museum vir beeldende kunste in die VSA te sien.
“Ek is al sedert die Sensation-uitstalling deur Ron Mueck se werk bekoor,” het Gary Tinterow, direkteur van die Houston-museum gesê. “Met die eerste oogopslag lyk sy werk asof dit deel is van ons alledaagse ervaringswêreld. Maar dan begin dié onvergeetlike figure met kunsgeskiedenis en filosofie resoneer om die groot vrae te stel: Wie is ons, waar kom ons vandaan en waar gaan ons heen?”
Benewens die skokwaarde van Mueck se beelde, is dit sy tegniese vaardigheid wat beïndruk. Hy gee aan die kleinste besonderhede aandag – elke aar, plooi en porie word met groot sorg weergegee – en hy verbeeld die weerlose mens, van geboorte tot en met die dood. Sommige van sy beelde is kleiner as lewensgroot en in ander gevalle vul sy beelde maklik ‘n hele vertrek in ‘n groot galery.
Dié versameling wat nou in Houston te sien is, kom uit openbare en private versamelings regoor die wêreld en fokus op Mueck se weergawe van fases in die lewe van die mens. Maar meer nog, die mens se kollektiewe belangstelling in die mense se onsekere bestaan. Moontlik is dit waarin die sensasie in Mueck se beelde gesetel is.
Nie almal is egter oortuig dat die sensasie genoeg is om dit kuns te maak nie. Jonathan Jones, ‘n kunsresensent van The Guardian, het in 2006 sy beswaar teen Mueck se werk só onder woorde gebring. “Dit tref jou in die maag, maar bied niks vir die kop nie. Dit deug nie. Kuns vind in jou kop plaas: Ons sien, die kop maak sin van dit wat hy sien – of in die geval van kuns nie heeltemal kan uitpluis nie – en die gaping tussen waarneming en vooraf-ervaring, dít is waar oorspronklikheid en varsheid inkom.
“Kuns is kognitief voordat dit ‘emosioneel’ is. Enige kuns wat berus op die aanname dat dit die aandag volledig op die natuurlike reaksie (gut feeling) plaas, is ‘n boelie.”
Wat ‘n mens nié kan ontken nie, is dat Ron Mueck se beelde jou aandag aangryp. Of dit meer as dit doen, daaroor moet elkeen maar self besluit.