Daar is tans iets soos 90 000 kunsstukke uit Afrika in Franse museums, 70 000 daarvan in die Quai Branly-museum in Parys
Deur JOHAN MYBURG
“Ek kan nie aanvaar dat ’n groot deel van verskeie Afrika- lande se kultuurerfenis in Frankryk is nie,” het pres Emmanuel Macron in November verlede jaar in Burkina Faso gesê. “Daar is historiese verduidelikings daarvoor, maar daar is geen blywende en onvoorwaardelike regverdiging daarvoor nie.”
Volgens ’n verslag wat aan Macron voorgelê is, is 90 tot 95 persent van die vasteland se kunserfenis tans in lande buite Afrika se besit. Maar die siening van die Franse president – dat kunswerke (en wat genoem word artefakte) uit Afrika wat tans in Franse museums geberg word op ’n “tydelike of permanente basis” aan die onderskeie volke terugbesorg word – stuit op kwessies soos: Wie is die oorspronklike eienaars? Wat beteken “tydelik” en is dit minder oneties as om die werk gewoon in Franse besit te hou?
Die hele saak het in 2016 momentum gekry toe pres Patrice Talon van Benin Frankryk versoek het dat kerfwerk, septers en gewyde deure van die paleise in die voormalige hoofstad van die koninkryk van Dahomey terugbesorg word. Daar is tans iets soos 90 000 kunsstukke uit Afrika in Franse museums, 70 000 daarvan in die Quai Branly in Parys, die museum waarmee pres Jacques Chirac die nalatenskap van sy twee termyne as Franse president verewig het. Die stukke waarna Talon verwys het en wat in besit van Quai Branly is, is in 1892 gesteel toe die Franse leër die koninklike paleis geplunder het.
Volgens Franse wetgewing is alle eiendom wat deur konings en later koloniseerders geplunder is die eiendom van Frankryk en dus “onvervreembaar”. Macron se uitlating waarna hierbo verwys is, breek wel met dié eeue oue siening. Maar toe die president twee dae later in Ghana oor finansiële reparasie vir jare van kolonialisering gepols is, het hy gesê dié gedagte is … verregaande. Engeland, Duitsland en België het ook heelwat kunswerke uit voormalige kolonies, maar minder as Frankryk.
En as ons dieper gaan krap, kom jy onvermydelik op kunswerke af wat tydens verowerings buitgemaak is, of wat mettertyd in besit van die oorheerser gekom het. Soos die Parthenon-beelde, wat as die Elgin Marbles bekend staan, en die toutrekkery tussen Griekeland en Engeland wat al langer as 200 jaar duur. (Die dilemma verdiep deurdat toestemming om die beelde te verwyder, destyds nie van die Grieke gekom het nie, maar van die Ottomane wat Griekeland van 1458 tot en met die 1820’s beset het.)
Anders as Frankryk, wat kuns dalk as ’n politieke ruilmiddel met bedingingsmag sien, het België pas sy Africa Museum opgeknap, met die oog op ’n herkontekstualisering van sy Afrika-versameling – wat daarop neerkom dat België wil aandui waar die betrokke stukke gebuit is en wat die agtergrond van die plundering was. Die Duitsers het ook pas bouwerk aan die Humboldt Forum in die Berlin-paleis voltooi met ’n uitstalling van artefakte wat Duitsland op sy koloniale uitstappies gebuit het.
Die Humboldt Forum het volgens die bestuurder van dié Pruisiese kultuurerfenisstigting ’n “plek van stilte” waar besoekers kan aandoen om oor die misdade wat deur Duitse koloniseerders gepleeg is na te dink, onder meer die massamoord tussen 1904 en 1908 op tienduisende Herero’s en Namas in die huidige Namibië. Duitsland het die misdade in 2015 as volksmoord erken, maar nagelaat om vir enige vorm van herstel te betaal. Hoeveel retoriek gaan bly en hoeveel optrede ’n mens gaan sien, hou waarskynlik met die politiek verband. Meer as met kuns.