“Die werk wat mens skep, word ’n manier van dagboekhou
Deur JOHAN MYBURG
Die jaar 1932 was só betekenisvol in die lewe van Pablo Picasso dat twee museums uitstallings byeengebring het met die fokus op werk uit dié jaar. Verlede jaar het die Musée National Picasso in Parys, in samewerking met die Tate Modern in Londen, die uitstalling Picasso 1932 aangebied, en tans is Picasso 1932 – Love, Fame, Tragedy in die Tate Modern te sien. Dié uitstalling is deur ’n samewerkingsooreenkoms tussen dié museum en EY (Ernst & Young) moontlik gemaak.
Dit was ’n belangrike jaar vir Picasso as mens én as kunstenaar. “Die werk wat mens skep, word ’n manier van dagboekhou,” het hy die band tussen lewe en skeppende werk verduidelik. Die belangrikste werk wat van 1932 dateer en wat in albei uitstallings prominent vertoon is, is Le rêve (Die droom), ’n portret van die 24-jarige Marie-Thérèse Walter, wat glo die middag van 24 Januarie geskilder is. Dis ’n helder en sonnige weergawe van dié blonde model wat ook Picasso se minnares was. Picasso was toe nog met Olga, die ma van hul seun Paulo, getroud. Walter was 17 toe die 45-jarige Picasso haar in 1927 buite die Galeries Lafayette in Parys teëgekom het. “Ek is Picasso,” het hy homself voorgestel.
“Ek en jy gaan wonderlike goed saam doen,” het hy haar verseker. En getrou aan sy belofte het sy inderdaad vir uitsonderlike skilderye en beeldhouwerke uit die hand van die kunstenaar gesorg, wat gierig deur versamelaars begeer en deur kunsliefhebbers bewonder word. Vir dié skildery het die Amerikaanse casino-magnaat en kunsversamelaar Steve Wynn in 2001 ’n aardige bedrag in ’n private transaksie betaal. Die verkoper by wie Wynn die werk gekoop het, het in 1997 op ’n veiling 48,4 miljoen Amerikaanse dollar daarvoor opgedok. In 2006 het Wynne die skildery aan Steven Cohen verkoop, ’n groot gees in die verskansingsfondsbedryf.
LEES OOK: Kuns: Andy Warhol
Cohen het 139 miljoen dollar daarvoor betaal, maar net voordat die skildery by Cohen afgelewer kon word, het Wynne een aand gegly, geval en sy elmboog deur die doek gedruk. Ná ’n duur restourasie en versekeringseis het Cohen die skildery in 2013 eindelik gekry – vir 155 miljoen dollar. Met sy oorvereenvoudigde dog sensuele buitelyne en kontrasterende kleurgebruik is die onderliggende erotiek in dié portret nie geweldig verdoesel nie – vergelyk die erekte penis wat die bokant van haar gesig vorm, en die hande vaginaal op die skoot gevou.
Die droom is egter net een van die reeks skilderye wat Picasso in 1932 van Walter geskilder het. In Die spieël word die slapende Walter se heupe in ’n vloeiende lyn weerkaats. Daarby moet ’n mens in gedagte hou dat kreatiewe kompetisie vir Picasso dalk net so ’n groot dryfveer as seks was. Met dié skilderye vir sy oorsiguitstalling in die Galerie Georges Petit in Parys – hy het daardie jaar 50 geword – wou hy Henri Matisse se uitstalling van die vorige jaar oortref. Met pure artistieke viriliteit. Maar benewens liefde en roem was 1932 ook die jaar van tragedie. Teen die einde van daardie jaar het Walter byna in die Marne-rivier verdrink en in die proses ’n infeksie opgedoen wat haar hare laat uitval het. In 1935 is Picasso en Walter se dogter, Maya, gebore en kort daarna het hy met Dora Maar bevriend geraak, die vrou wat sy volgende minnares geword het. Picasso het Walter en hul kind finansieel onderhou, maar nooit met haar getrou nie. Sy het kort ná Picasso se dood in 1973 haarself om die lewe gebring.