Die troeteling van die omgewing buite is net so opvallend binne-in die gebou met sy nege uitstalruimtes
Deur JOHAN MYBURG
Die gekikker van paddas is dalk die laaste geluid wat ek met ’n kunsgalery sou verbind. Maar saam met voëlgesang is dié gekwaak as ’t ware die klankbaan vir ’n besoek aan die Norval-stigting in Steenberg buite Kaapstad. Dié nuwe kunstesentrum met sy 4 habeeldetuin, geleë neffens ’n vleiland en aangeplante tuinery met inheemse spesies, is die natuurlike habitat van die bedreigde westelike luiperdpadda. Die konstruksie van die gebou, tuinuitleg en kasduikers onder deur Steenbergweg is só beplan dat die paddas veilige toegang tot die vleiland het.
Miskien is dié noukeurige beplanning ’n aanduiding van die sorg waarvan ’n mens tydens ’n besoek aan Norval bewus word. Die gebou wat simpatiek in die landskap sit, ontwerp deur DHK Argitekte, vorm ’n skans tussen die pad en die vleiland, met die beeldetuin aan die bergkant, beskut deur honderde bome wat intussen aangeplant is. Die rangskikking van die beelde volg die kontoere van die landskap en sluit die werk in van Deborah Bell, Wim Botha, Joni Brenner, Victor Ehikhamenor, William Kentridge en Gerhard Marx, Speelman Mahlangu, Michele Mathison, Brett Murray, Nandipha Mntambo, Mark Swart en Angus Taylor.
Die troeteling van die omgewing buite is net so opvallend binne-in die gebou met sy nege uitstalruimtes, ’n atrium waar ’n installasie van Serge Alain Nitegeka tans vertoon word, ’n biblioteek, kantore, ’n navorsingsentrum, ’n geskenkwinkel, die Skotnesrestaurant en -kroeg en ’n wooneenheid geoormerk vir kunstenaarsverblyf. Daar is kwalik ’n kunstesentrum in Suid- Afrika wat só habitat-bewus is as Norval. Nie net ten opsigte van ligging en argitektuur nie, maar ook met betrekking tot die aanbieding en uitstalling van die kunswerke. Hoewel die vlak waarop die kuns aangebied word, ’n mens sou kon laat dink dat dié plek netsowel ’n vooraanstaande museum in die buiteland kon wees, is die fokus onmiskenbaar kuns van wêreldgehalte wat op die Afrika-vasteland tot stand gekom het.
LEES OOK: Kuns: Nirox-beeldhou-uitstalling
Dit is nie Afrika-kuns nie, maar prima kuns uit Afrika en veral Suid-Afrika wat in situ so professioneel aangebied word. Louis Norval, ’n Kaapse eiendomsmagnaat, is die man agter die stigting wat benewens die Norval-familie se kunsversameling ook die Gerard Sekoto-stigting, die Edoardo Villa-nalatenskapsversameling en die Alexis Preller-argief insluit. Die oogmerk met die Norval-sentrum, met Elana Brundyn as die stigting se uitvoerende hoof en Owen Martin as hoofkurator, is om kuns so wyd as moontlik vir Suid-Afrikaners sowel as buitelanders beskikbaar te maak. Tot onlangs is omvattende uitstallings aangebied van beeldhouwerke deur Ezrom Legae (1938–1999) en Sydney Kumalo (1935–1988) – twee kunstenaars wat albei baat gevind het by die klasse wat Cecil Skotnes (1926–2009) in die 1950’s by die Polly Street-kunstesentrum in Johannesburg aangebied het.
Die uitstallings van Legae en Kumalo loop uit in die ruimte waar tot onlangs ’n keur uit Edoardo Villa se vroeëre beelde vertoon is. Die hoë plafon (iets soos 9 m hoog) met die glasmuur na die noorde, maak dié uitstallokaal die ideale plek om tamaai beelde, soos dié van Villa, binnenshuis te vertoon. Mmakgabo Mapula Helen Sebidi (1943) se solo-uitstalling Batlhaping Ba Re! met Portia Malatjie as kurator is tot Januarie in Galery 9 te sien. Dié versameling bestaan uit skilderye, etse en beeldhouwerk en sluit werk van die afgelope vyf dekades in. Die hoofsjef van die Skotnes-restaurant is Phil de Villiers, voorheen van Primal Eatery. Soos die plantegroei en die inrigting van die Norval-stigting, weerspieël die spyskaart die ligging van dié kunstesentrum – eg Suid-Afrikaans.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.