Regdeur Nel Erasmus se lang skilderloopbaan is dit beweging wat haar werk kenmerk, beweging as inherente eienskap van alle vorms van lewe
Deur JOHAN MYBURG
Hoog teen ’n muur in Nel Erasmus se ateljee, net onder die plafon, staan daar in haar vloeiende handskrif dié woorde: “Oser Vouloir Savoir Se taire” (Om te waag, om te wil, om te verstaan, om stil te bly). Rondom, teen die mure en netjies in rakke, staan doeke wat so ver terug dateer as die laat 1940’s, die jare voor haar Franse verblyf van die vroeë 1950’s.
Op 27 November word sy 90, ná ’n aktiewe skilderloopbaan van sewe dekades. So onlangs as 2015 het sy ’n versameling nuwe tekeninge op papier van voëls in vlug, Soaring, in die Dawid Ras-galery in Sandton vertoon. Erasmus was 25 toe sy met ’n kunsgraad wat sy aan Wits behaal het, Parys toe is om te gaan au pair. Haar oogmerk was om geld te spaar om haar kunsstudie in Parys voort te sit. Dit het sy in 1953 gedoen toe sy eers aan die Académie Ranson en later aan die Ecole des Beaux Arts en die Sorbonne studeer het.
Die naoorlogse kunswêreld in Parys het haar aan abstraksie in die nadraai van kubisme blootgestel. En die gees van Les Nabis, die kunsbeweging waarvan Paul Ranson (1864–1909), stigter van die Académie Ranson, ’n toonaangewende figuur was, het in dié akademie voortgeleef. Die Nabis (Hebreeus vir profete) het die mantra gehad: “Klanke, kleure en woorde het ’n wonderlike uitdrukkingskrag wat bo alle representasie en selfs bo die letterlike betekenis van die woorde uitgaan.” In dié dampkring het Erasmus gefloreer en met die wil om te waag en te begryp, het sy die vryheid van abstraksie haar eie gemaak. In 1955 het sy haar eerste solouitstalling in Parys gehad.
LEES OOK: Kuns: Cobus van Bosch
Dat sy ’n indruk met haar kuns gemaak het, blyk uit die feit dat Michel Seuphor in sy seminale Abstract Painting: 50 Years of Accomplishment from Kandinsky to the Present van 1964 na Erasmus se werk verwys het – die enigste Suid-Afrikaanse kunstenaar wie se werk hy ingesluit het. Kort ná haar terugkeer het sy haar eerste solo-uitstalling in 1957 in Suid-Afrika aangebied. Erasmus het gou gesnap sy sal in Suid- Afrika nie met haar meditatiewe abstrakte kuns aan die lewe kan bly nie en het ’n pos by die Johannesburgse Kunsmuseum (JAG) aanvaar. Van 1966 tot 1977 was sy die direkteur van JAG, en dit was tydens haar termyn dat JAG met die steun van die Vriende van JAG in 1973 Tête d’Arlequin II van Pablo Picasso vir R28 000 aangekoop het.
Regdeur haar lang skilderloopbaan het beweging haar werk gekenmerk, beweging as inherente eienskap van alle vorms van die lewe. ’n Skildery of tekening van ’n perd of ’n voël in vlug is derhalwe meer as ’n beskrywing van die voorwerp, dis ’n verkenning van die essensie van beweging. Eweso takseer sy ’n stillewe of ’n statiese voorwerp soos ’n olielamp in kleur en vormgewing as ’n spel van vloeibare beweging. Haar fokus op die wisselwerking tussen voor- en agtergrond, op buitelyne wat begin vervaag en die geskilderde voorwerpe “laat oopmaak” onthul die “lewe” van die voorwerpe wat energie en ritme betref. Dit is dié waagmoed, haar soeke na die essensie van die lewe en die opwinding om te verstaan, wat sy so meesterlik in haar werk vasvang. In die stilte van haar ateljee. ’n Uitstalling met hoogtepunte uit Nel Erasmus se abstrakte skilderkuns oor sewe dekades is tot 8 Oktober by Welgemeend in Tuine, Kaapstad te sien.