Dis lank nie net meer Irma Stern en Pierneef wat opspraak verwek op kunsveilings met uitsonderlike pryse nie. Die geselskap is besig om stelselmatig uit te brei na latere Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Cecil Skotnes, Johannes Meintjes, Maggie Laubser en Alexis Preller.
Johan Myburg
Dit was juis ‘n werk van Preller wat Maandagaand (9 November) vir heelwat opwinding gesorg het op Strauss & Kie. se somerveiling by die Wanderers in Johannesburg.
Preller se The Creation of Adam, 1968, olie en gesso op doek (119 x 134 cm), is vir net meer as R8,5 miljoen verkoop, wat meteen ook ‘n rekord vir Preller is.
The Creation of Adam van Alexis Preller
‘n Tweede Preller, Apollo Kouros II, 1971/5, intaglio olie en goudblad op veselglas, gemonteer op brons (151,5 x 121,5 cm), is vir R5,4 miljoen verkoop.
Maar die hoogtepunt van die veiling was die rekordprys wat betaal is vir ‘n bronsbeeld van Anton van Wouw.
Van Wouw se Myner met handboor, 1911, brons met bruin patinas (hoogte 61 cm), het ‘n wêreldrekord vir dié kunstenaar se werk gestel toe dit vir R4,8 miljoen verkoop is. In net twee jaar het dié werk se prys meer as verdubbel. In 2013 het dié werk net meer as R2 miljoen gehaal toe dit op ‘n Strauss & Kie.-veiling verkoop is.
Anton van Wouw se Myner met handboor
‘n Tweede Van Wouw-beeld, Die daggaroker, brons met ‘n donkerbruin patina (lengte 51 cm), is vir R795 000 verkoop.
Target Composition I, olie op doek (122,5 x 183,5 cm), ‘n werk van Cecily Sash, is vir R510 000 verkoop. Die verwagte maksimum was R120 000. Dié rekordprys is die helfte meer as wat in 2012 vir ‘n Sash op ‘n Strauss & Kie.-veiling betaal is.
Pierneef se Houtbos, Transvaal, olie op bord (39 x 29 cm) is vir ‘n raps meer as die verwagte maksimum van R800 000 verkoop en Stern se Mienkie, 1948, olie op doek (59,5 x 54 cm), het R3,18 miljoen gehaal. Die verwagte maksismum was R4 miljoen.
Werk ter waarde van net meer as R52 miljoen is verkoop.
Besoek Straussart vir meer info