Die operawêreld het in April ’n klein opskudding beleef toe The New York Times ’n artikel gedra het onder die opskrif: “The Diva Departs: Renée Fleming’s Farewell to Opera.”
Die artikel het die indruk geskep dat dié Amerikaanse sopraan se sangloopbaan nou op ‘n einde sou wees met haar “laaste optrede” op 13 Mei as die Marschallin in Richard Strauss se Der Rosenkavalier.
“Ek het nooit gesê ek verlaat die operaverhoog finaal nie,” het Fleming kort daarna die saak reggestel. “Ek het dit nooit, nooit, nooit vir enigeen gesê nie. Ek dink dit het mense mislei. Hulle vermoed nou ek gaan aftree.”
Gerugte dat sy aan aftree dink, doen al ‘n geruime tyd die rondte. In 2014 het ‘n Australiese musiektydskrif al aangedui dat sy nog drie jaar op die verhoog oor het. In die onderhoud met The New York Times hét sy byvoorbeeld verwys na haar mentor en vriendin, die sopraan Leontyne Price, wat in 1985 op 58 die verhoog vaarwel toegeroep het. In ‘n gesprek oor aftrede het Fleming opgemerk: “My gids in die hele proses, wanneer ek daaroor dink wat om te doen, is Leontyne Price.”
LEES OOK: Klassieke klanke: Arnold Schönberg
Die 58-jarige Fleming het egter gesê sy het aan die koerant gesê sy oorweeg dit om afskeid te neem van ‘n aantal ou rolle wat sy die afgelope paar dekades as ’t ware haar eie gemaak het – soos dié van die Marschallin, ‘n rol wat sy die eerste keer op 35 gesing het, Dvorak se Rusalka en Desdemona in Verdi se Otello – en nuwe operas aan te pak.
Fleming het immers die afgelope ruk meer op konsertuitvoerings en opnames begin fokus. Einde verlede jaar het sy Letters from Georgia, ‘n nuwe liederesiklus deur die Amerikaanse Pulitzer-pryswenner Kevin Puts in Florida uitgevoer. En vroeër vanjaar het sy Distant Light, ʼn nuwe CD, uitgebring met “Knoxville, Summer 1915” van Samuel Barber; The Strand Settings, ‘n nuwe siklus wat die Sweedse komponis Anders Hillborg op vyf tekste van die Kanadees-Amerikaanse digter Mark Strand vir haar geskryf het; en drie liedere deur die Yslandse sangeres Björk.
Sy het pas opnames vir die komende rolprent Bel canto gedoen waarin haar stem as die sangstem vir Julianne Moore gebruik word. Dié prent waarin Moore die rol van ‘n Amerikaanse sopraan tenoor Ken Watanabe vertolk, word volgende jaar uitgereik.
Fleming is die afgelope paar jaar by die Metropolitan Opera in New York se Live in HD-projek betrokke, verfilmde weergawes van Met-produksies wat wêreldwyd in rolprentteaters vertoon word. Haar oogmerk dat meer mense aan opera blootgestel moet word, strook met haar jongste regstreekse aanlynforum vir die uitvoerende kunste, nRapt, met die motto: “Bring die verhoog na jou toe.”
LEES OOK: Klassieke klanke: Claude Debussy
In ‘n onderhoud met The Telegraph, die Britse dagblad, het sy verlede jaar gesê die probleem (in die VSA) is dat ouditoriums te groot is om aanpasbaar te wees. “Ons het kleiner ruimtes nodig waar verrassings kan plaasvind en waar enigiets kan gebeur.
“Op die oomblik is daar te veel produksies van dieselfde ou repertorium, met regisseurs wat al harder probeer om te vernuwe en hase uit hoede te pluk en in die proses die musiek as ‘n soort klankbaan te gebruik vir die storie wat hulle besig is om te vertel.”
Afgesien van al haar belangstellings en die magdom ysters wat sy in die vuur het, is dit sang en uitvoerings wat op die oomblik voorkeur bly geniet, sê sy. “ʼn Mens sê nooit nooit nie.”