Ons musiekman Christiaan J de Swardt luister na klawerjazz, vioolverruklikheid en opera-intrige
Christiaan J de Swardt
Klawerprentjies
Die Amerikaanse jazz/fusion-pianis en komponis Armando Anthony (Chick) Corea (73) kán met klawers toor! Op die dubbelalbum Portraits bied hy opwindende improvisasies en omskep die konsertsaal in ’n intieme ruimte wat die tuisluisteraar in die konsertgehoor se ervaring en applous vir sy kuns – met durf en prag – laat deel.
Hy bied onder meer preludes deur Skriabin en bagatelles deur Bartók, klits ’n verrassende Wagner-oomblik by, vertolk werke van onder andere Bud Powell en interpreteer selfs Stevie Wonder se Pastime Paradise eiesoortig. Met sy vrye tegniek en emosiegekleurde musikale verbeelding bied dié album ’n luisterryke beeld van die moderne jazz-klavier. (Universal)
Artistieke skoonheid
Min mans kan ’n mooi vrou met ’n musiekinstrument weerstaan! Dit is juis waarom Nicola Benedetti onlangs haar naels gewys het toe kritici beweer het glansryke vroulike klassieke musici bereik welslae oor hul sensualiteit, eerder as om hul artistieke vermoë. Dié opmerking, meen Nicola, grens aan seksisme!
Toegegee, sy lyk soos ’n rolprentster, maar sy hét ook ’n ontsaglike musikale talent. Sedert haar albumdebuut in 2004 het Nicola die een toekenning na die ander ingepalm: van die BBC Young Artist of the Year tot die Classical Brit Award.
Dié katjie word nie met ’n bakkie room getem nie! Sy meen klassieke musiekkunstenaars is kunstenaars met die meeste integriteit en het in gegeurde taal gesê sy’s sat daarvoor dat mense meen seks verkoop haar musiek. En sy sal nie vir ’n prikkelfoto poseer om haar albums te verkoop nie, want dit sal haar dan ’n leeftyd neem om haar integriteit terug te kry.
Op haar jongste album, The Violin, bied sy concerto’s deur Vivaldi, Tsjaikofski en Max Bruch. Die meeste van die werk hierop kom egter van haar vorige albums. Hier is slegs drie nuwe opnames: Brahms se Hongaarse dans no 5, Chopin se Nocturne no 20 en Monti se Czárdás.
Maar as jy nie haar vorige albums in jou versameling het nie, kan jy dié een gerus aanskaf en self vasstel waarom haar tegniek as onberispelik beskou word.
Selfs verleidelik virtuoos, ja! (Universal)
Opera-intrige
Verdi se opera Simon Boccanegra was ’n ramp toe dit die eerste keer op 12 Maart 1857 by die Teatro La Fenice in Venesië opgevoer is. Sy uitgewer het hom eers twee dekades later kon oortuig om die opera te herbedink. Die hersiene weergawe, met die nou bekende raadsaaltoneel, is die meesterstuk waarna ons hier luister. Dit behels ’n komplekse, somber plot oor politiek, ontvoering, liefde, konkelry, verraad en versoening … Deesdae is dit die gegewe vir ’n gesofistikeerde speurfliek!
Dis die verhaal van Simon Boccanegra (letterlik: Simon, die Swartmond), ’n gereformeerde seerower wat hooflanddros van Genua word. Babas word by geboorte omgeruil, families vervreem en politieke intrige dreig om sy bewind omver te werp.
Plácido Domingo met sy tenoortimbre se DVD-vertolking van die titelrol tel moontlik tussen die teatraal-oortuigende weergawes, hoewel die opera se donker palet en die rolle van die drie hoofkarakters eintlik vir ’n laer manlike stem geskryf is. Dit is veral waarom die Amerikaanse liriese bariton Thomas Hampson (58) se vertolking van Simon op dié produksie aangrypend is. Die trio word voltooi deur deur twee Italianers: die enorme basstem van Carlo Colombara (50) as sy aartsvyand Jacopo Fiesco en die bas-bariton Luca Pisaroni (39) as die konkelaar Paolo Albiani.
Ook met die opkomende sopraan Krístine Opolaís (tegnies geslyp met vokale krag en pragtimbre) as Maria Boccanegra/Amelia Grimaldi, die Maltese tenoor Joseph Calleja (met ’n aantreklike stemtoon) as die minnaar Gabriel Adorno en die Litause bas-bariton Igor Balkan as die plebejer Pietro. Wat ’n spanningsvolle luisterervaring!
In dié aflewering van Oppinoot verpoos ons by die verbeeldingswêreld van die pianis Chick Corea, die vioolbetowering van die Skotse violis Nicola Benedetti en al die intriges van Giuseppe Verdi se Simon Boccanegra – ’n opera met ’n proloog en drie bedrywe. Toemaar, jy hoef nie Italiaans te verstaan nie! Die lywige CD-boekie beskryf elke toneel bondig en bevat die libretto in verskeie Europese tale; ook Engels.
En moenie ’n oomblik dink katterigheid is tot die populêre musiekmark beperk nie; daar is selfs seksisme in internasionale klassieke sfere …