Ons musiekman Christiaan J de Swart swoeg deur ’n aantal CD’s deur nuwelingsangeresse en spog met Nádine se puik album
Christiaan J de Swardt
Oppinoot is daarvan oortuig party platemaatskappye en/of -vervaardigers beywer hulle om resensente beroertes of hartaanvalle te besorg of minstens tot drank te dryf! Dit was nie ’n verrassing toe ek onlangs verneem daar is resensente en musiekkeurders by radiostasies wat net na die eerste dertig sekondes van ’n snit luister voordat die CD in ’n herwinningsak gebêre word nie. Hier by Oppinoot doen ons dinge egter effens anders. Ons luister tot drie keer na ’n CD, dikwels om te probeer vasstel waarom dit uit die ateljee ontsnap het.
Dan kom jy op rare verskynsels af, soos Jacqueline se debuutalbum Dis hier en nou – sogenaamde vocal trance-musiek.
Dit klink soos ’n temende non op dwelms in monotoon met elektroniese stembewing van die eerste noot tot die laaste noot van die soveelste eendersklinkende, vervelige snit – ondanks verdienstelike lirieke op onder meer Vinkel en koljander, Die donker verdwyn en Stoksielalleen.
Ore wat op dié genre ingestem is, sal moontlik meen dat Jacqueline wat, terloops, talle toekennings as danser in die style freestyle, slowdance, hustle en rock ’n’ roll verwerf het, knap gevaar het. Vir my is dit ’n vreemde verskynsel! (Greylead Records)
Maar Oppinoot staan sterk, want dis ons werk. Die aktrise Carly Bailey se album Hier kom dit nou word volgende nadergetrek. Nou toe nou! Sy koer onder meer met liedjies hoofsaaklik deur die aktrise Marleé van der Merwe “Ek wil jou wyfie wees/ Ek wil vir jou ’n bietjie meer van my lyfie gee”.
Jy vergewe dié vergrype, luister nuuskierig voort, ontdek ’n aantal vrypostige, selfbemagtigende snitte (onder meer #AsJyMyNaamOpsoek) én dan die selfbeeldspieëljuweel Wie is sy? (uit die pen van Catherine Jones), waarna jy weer aangeval word deur ’n rits rock-terterige rymkletsnommers, maar kan dan darem tog ’n bietjie troos put uit die mooi slotsnit Was my spore. (Skratch Music)
En toe wink die 19-jarige model en aktrise Sharoney (Viljoen) ook nog … Eintlik mag ek nie hiervan hou nie, sommer reeds oor die titel van haar debuutalbum In ons fairytale. Maar dit is dêm aangename, vars en verfrissende vermaak! Moontlik deels omdat die meeste van die liedjies uit die pen van Hugo Ludik en Reynardt Hugo van die treffertrio ADAM kom.
Met deeglike sang- en drama-opleiding het Sharoney reeds heelwat TV-, verhoog- en rolprentwerk gedoen: die perfekte suksespakkie, boonop mét tonne talent! Dis selde dat elke liedjie op ’n album tref. Die dosyn hierop is almal wenners – met Jy doen dit vir my en Jy is die een (in duet met Christoff de Beer) tussen Oppinoot se gunstelinge.
Dis heerlike, goeie popmusiek! (Muse Productions/ Starburst Promotions)
Volwasse Nádine is puik
Sedert ek Nádine (Hoffeldt) die eerste keer op 13-jarige ouderdom met die liedjie Krappies en krefies sien optree het, het sy die afgelope 18 jaar stelselmatig met talle treffers ontpop in die sangeres wat sy moet en kan wees – met verkope van oor die halfmiljoen CD’s en talle buitelandse optredes. Sy is nou ook TV-aanbieder van die program Musiekroulette op SABC2.
Haar 12de album is, naas This Time I Know it is for Real, haar eerste werklik volwasse kontemporêre popalbum. Op Skildery ontgin sy die volle omvang van haar vokale strekwydte en vertolkvermoëns. Daar is musiekliefhebbers wat haar met Celine Dion vergelyk. Oppinoot steier egter daar verby, bloot omdat ons nie juis ooghare vir haar stemtoertjies het nie. Want Celine stel vokale vertoon bó die lied. Op 33 verstrengel Nádine haar nie in daardie strik nie. Sy benut haar suiwer stemprag en -krag wel met intieme emosie en soepel gimnastiek, maar sy respekteer ook die struktuur van die melodie en die betekenis van die lirieke, soos veral blyk uit haar vertolking van die Engelse bonussnit hierop, Juvenile.
Johan Oberholzer (ook die musikale regisseur), Vaughan Gardiner en Ernie Bates se liedjies is deurslaggewend in Nádine se interpretasie van die 13 nuutskeppinge wat van oorspronklikheid getuig. Die repertoire bied ’n aangename genrebalans tussen ballades (Tyd), joligheid (Hout op die vure), nostalgie (Ou murasie) en haar eie ritmeskepping Gaan groot of gaan huis toe.
Wanneer jy ’n kunstenaar se ontwikkeling deur die jare gevolg het, is jy jaloers trots op sy of haar welslae. My bors bons vir Nádine! Soos een van die liedjies nooi: Soen my glimlag. (Nádinemusiek/ Coleske Artists).