Ons musiekman Christiaan J de Swardt kyk en luister na twee ballet-DVD’s waarin Carlos Acosta besonderse vertolkings lewer
Christiaan J de Swardt
Die Britse balletdanser Carlos Acosta (41), wat in Kuba gebore is, word internasionaal erken as die grootste danser van sy generasie. Hy het hom in 1998 by The Royal Ballet aangesluit. Verlede jaar is hy as Commander of the Order of the British Empire (CBE) vir sy bydrae tot ballet vereer. Carlos het die stereotipe beeld van die romantiese en tragiese held in veral drie bekende balletuitvoerings drasties verander: Romeo & Juliet, Manon en Spartacus. Ons kyk hier na die twee laasgenoemdes. Albei balletuitvoerings is reeds in 2008 opgeneem toe Carlos 35 jaar oud was. Die DVD’s bevat opwindende bonusmateriaal oor die vervaardiging van die produksie en onderhoude met die sterre. Die kleurryke DVD-boekies bied die nodige beskrywings van die onderskeie tonele. Gun jouself ’n ongelooflike ervaring op die grootste skerm met die beste kringklank moontlik! Albei DVD’s word deur Decca/Universal uitgereik.
Spartacus: ’n atletiese vryheidsmarathon
Die ballet Spartacus is ’n skouspelagtige marathon van atletiese Sowjet-gimnastiek en ideologiese temas; die Bolsjoi-balletgeselskap se toonvensterstuk. Sedert die ballet in 1968 geskep is, is geen danser buite Rusland genooi om saam met die geselskap op te tree nie. Heelwat het sedertdien verander, maar die tema van onreg, onderdrukking en brassery is in 2015 nog net so aktueel soos destyds. Dié DVD-produksie van die Bolsjoi-balletgeselskap is in Parys verfilm ná triomfantelike vertonings in Moskou en Londen. Dit ontgin Carlos Acosta se talent ten volle en hy dans én vertolk met ’n viriliteit wat van fisieke vaardigheid en innerlike finesse getuig. Sy spronge toon gespierde krag en sy pirouette is stomend. Hy sny soos blits deur die lug en boei en verlei met vonk. Met sy mengsel Kubaanse, Spaanse en Afrikabloed lewer hy ’n vertoning wat heelparty van die Russiese dansers soos trippelende feetjies laat lyk! Carlos se vertolking word gekenmerk deur groot gebare, dramatiese gesigsuitdrukkings en ’n intensheid in sy oë wat sy hart en siel weerspieël. Hy vuur die drama aan. Van die eerste oomblik wat jy hom sien – vasgeketting en verneder, met ’n wilde bos hare, stoppelbaard en verwilderde oë – tref sy woede; ’n man wat vryheid begeer en bereid is om daarvoor te moor én te sterf. Hy lewer monoloë sonder stem. Carlos word ondersteun deur Nina Kaptsova in die rol van Spartacus se vrou, Phrygia, Alexander Volchkov as die onstabiele Romeinse heerser Crassus, Maria Allash as die bose en dekadente Aegina en ’n magdom soliste van die Bolsjoi-teater. Die gegewe ontknoop in drie tonele, met minimalistiese, maar effektiewe stelinkleding en beligting. Die Bolsjoi-orkes, gedirigeer deur Pavel Klinichev, se uitbundige en melodramatiese interpretasie van Aram Khatsjatoerjan se musiek verskaf die klankdoek waarteen dié orgie, kermis en veldslag met choreografie deur Yuri Grigorovich voltrek word. Wát ’n kragtoer! Tydsduur: 133 + 43 Minute
Manon: ’n mallemeulerit
Die choreograaf Kenneth McMillan het maar net ’n manier om opera en ballet uitdagend en vermaaklik aan te bied. Hier gebruik hy die sjarmante Carlos Acosta as Des Grieux en die pragtige Spaanse ballerina Tamara Rojo in die titelrol in Prévost se tydlose storie van Manon: ’n produksie van The Royal Ballet, met sensuele musiek deur Jules Massenet, uitgevoer deur die orkes van die Royal-operahuis, gedirigeer deur Martin Yates. Dié 40 jaar oue ballet herleef byderwets op dié HD-DVD met ’n weelderige stel, stemmingsvolle beligting en asemrowende kostuumontwerpe deur Nicholas Georgiadis. Manon is die mees kontemporêre en teenstrydige tragiese heldin, aanvanklik ’n onskuldige meisie wat haar skoonheid misbruik en die slagoffer van prostitusie word. Des Grieux is ’n teologiestudent wat deur sy liefde vir Manon verblind word en die opofferings is ingrypend. Albei dansers lewer briljante solowerk en hul duette is skitterkuns. Tussen die ander karakters is Monsieur GM (Christopher Saunders), ’n ouer man wat Manon begeer, bederf en korrupteer. Wat volg, is ’n gefuif (met selfs ’n skeut komedie), wraak, ’n verkragting én moord. Die verhaal ontvou in drie tonele en is ’n verhalende mallemeulerit wat die kyker tot ná die laaste pas de deux in verwondering laat. Daar is ’n magdom ondersteunende dansers en byspelers en elkeen verdien kameratyd, met soveel fyn detail wat andersins op die verhoog verlore sou gaan. Moenie ’n oog knip nie! Tydsduur: 117 + 45 minute