In Junie is Lulu, die opera wat by die dood van Alban Berg in 1935 onvoltooid gelaat is, aangebied op die Holland Festival in Amsterdam. Dié produksie met William Kentridge as regisseur, het in die media oor die algemeen goeie resensies gekry.
Die Nederlandse Nasionale Opera het die volledige weegawe van dié opera – die laaste bedryf is eers in 1979 deur Friedrich Cerha voltooi – aangebied in samewerking met die Metropolitan Opera in New York en die English National Opera in Londen. Die dirigent voor die Koninklijk Concertgebouw-orkes is Lothar Zagrosek.
Die Nederlandse Het Parool het gemeen Kentridge het daarin geslaag om die gehoor ’n sleutel te bied tot dié opera met sy “absurde, deurgekonstrueerde chromatiese musiek wat heelwat van die gehoor verg” met behulp van sy swart-wit tekeninge en projeksies daarvan.
Volgens de Volkskrant was die Kentridge se ontwerp die hoogtepunt, met die res van die regie “iets van ’n driloefening. Die interaksie tussen die karakters het volgens dié koerant se resensent iets laat blyk van “die opwinding van ’n oggend op kantoor”.
Die Oostenrykse dagblad Der Standard het benadruk dat Lulu in dié weergawe uitgebeeld word as ’n eenvoudige, selfs ongesofistikeerde jong vrou wat ingesuig word in die draaikolk van wellus – anders as ander produksies waarin sy óf “’n vamp” óf as “’n interloper” verbeeld word.
Lulu
Berg het die verhaal van die opera saamgestel uit twee toneelstukke van die Duitse dramaturg Frank Wedekind wat handel oor Lulu, die aantreklike danseres wat met haar sjarme van vele mans slagoffers maak. Alle mans, en ook een vrou, begeer haar.
Met elke nuwe man klim Lulu die sosiale leer. Sy is berekend, maar word self die prooi van ander se planne.
Ná die moord op haar man, dr. Schön, en met die ontknoping in die derde bedryf gee Lulu haar oor aan prostitusie.
Skuld of onskuld? Dis die skarnier waaraan dié Berg-opera hang.
William Kentridge
William Kentridge (60) is alom bekend as visuele kunstenaar, veral vir sy eiesoortige hantering van die tekenkuns. Dié kombineer hy met film, animasie en teaterregie. Sy vorige operaproduksies sluit in The Magic Flute (Mozart) en The Nose (Sjostakowitsj).
Kentridge was in 2012 gas van die Holland Festival met sy kameropera Refuse the Hour.
Kyk hier na ’n kort onderhoud met William Kentridge oor die produksie van Lulu
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ src=”https://www.youtube.com/embed/6ANi5ToniKs?rel=0″ allowfullscreen=””]
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ allowfullscreen=”” src=”https://www.youtube.com/embed/xjy0hZt9Fo0?rel=0″]
DVD-opname
Op Blu-Ray is ’n opname van Lulu beskikbaar wat gemaak is op die Salzburg-fees van 2011. Die videoregisseur is deur die Britse meester Brian Large. Die Weense Philharmoniker word gedirigeer deur Franz Grundheber en in die rolbesetting is Patricia Petibon (Lulu), Pavol Breslik en Michael Volle. Dié opname met onderskrifte onder meer in Engels is beskikbaar by www.amazon.com.
Nota Lulu word van 5 November tot 3 Desember in die Metropolitan Opera in New York aangebied. ’n Verfilmde weergawe van dié opera sal later beskikbaar wees in Cinema Nouveau-teaters in Johannesburg en Kaapstad. Foto: Clärchen & Matthias Baus