Suid-Afrikaanse dirigente jonger as 33 kan aan dié kompetisie deelneem wat Len Van Zyl in die lewe geroep het omdat daar so min aandag gegee word aan voortgesette opleiding van dirigente
Johan Myburg
Die derde Len van Zyl-dirigentkompetisie het in Junie vol in swang gekom toe agt finaliste aangewys is wat in Februarie sake sal moet uitspook om die gesogte eerste prys te wen.
Deel van die prys is ’n maand lange internskap by die Amerikaanse Philadelphia-orkes en ’n studiebeurs vir twee maande by die beroemde dirigent Victor Yampolsky aan die Northwestern University in Chicago. Die wenner kry ook die geleentheid om ter gelegener tyd saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes op te tree.
Suid-Afrikaanse dirigente jonger as 33 kan aan dié kompetisie deelneem wat Len van Zyl in die lewe geroep het omdat daar so min aandag gegee word aan voortgesette opleiding van dirigente. Van Zyl is ’n voormalige advertensie- en bemarkingsghoeroe en raadslid van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.
Ná ‘n meesterklas van drie dae saam met Yampolsky in Kaapstad is agt finaliste uit 16 gekeurde kandidate in Junie aangewys wat deurdring na die eindronde op 14 Februarie. Die agt moet by dié geleentheid die Kaapstadse Filharmoniese orkes dirigeer voor die beoordelaars: Richard Cock, bekende Johannesburgse dirigent en koormeester; Brandon Phillips, eerste wenner van die Len Van Zyl-kompetisie; Victor Yampolsky; en Berhard Gueller, internasionaal gerekende dirigent.
Die agt finaliste is Chad Hendricks (Kaapstad), Reghardt Kühn (Stellenbosch), Andre Oosthuizen (Potchefstroom), Russell Scott (Durban), Grant Snyman (Port Elizabeth), Charl van der Merwe (Kaapstad), Schalk van der Merwe (Pretoria) en Jaco van Staden (Pretoria).
Die begeleiers tydens die uitdunrondes was die Kaapstadse pianist François du Toit en José Dias.
Nadat Phillips in 2010 die die kompetisie gewen het, is hy as dirigent en direkteur van die Kaapstadse Filharmoniese Jeugorkes aangestel. Hy het sedertdien by geleentheid al die Unisa Musiekstigting Simfonie-orkes en die feesorkes vir die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees gedirigeer.
Onlangs het hy die Miagi-jeurgorkes in Duitsland en Nederland gedirigeer.
In 2013 was Xavier Cloete die wenner van die tweede Len van Zyl-komptisie. Hy het pas sy debuut saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes gemaak.
Phillips sowel as Cloete was vol lof oor hulle studie-ervarings in die VSA en die verruiming wat dit teweeggebring het in hul loopbaan as dirigent.
Van Zyl meen klassieke musiek is ’n belangrike pilaar in die kultuurlewe van enige gemeenskap. In Suid-Afrika is dit lewend, maar klassieke musiek het al die steun en ondersteuning wat ’n mens kan bied nodig om sukses en verdere groei te verseker.
“Dis wonderlik dat die derde kompetisie meer inskrywings gelok het as wat ons verwag het,” het hy bygevoeg. “En dit is boonop gerusstellend om te sien daar is soveel talentvolle jong dirigente wat na vore kom.”
Wie is Len van Zyl?
Benewens die feit dat van Zyl voorsitter van die Suid-Afrikaanse advertensiemaatskappy Lindsay Smithers-FCB was, was hy ook president en uitvoerende hoof van Foot Cone & Belding, die grootste advertensiemaatskappy in Philadelphia in die VSA. Van 1992 tot 1995 was hy die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse buitelandse handelsorganisasie (SAFTO). Hy het ook op die ontwikkelingskomitee van die Philadelphia-orkes gedien en was lid van die Metropolitan-operagilde.
FOTO (heelbo): Voor van links is Richard Cock, Brandon Phillips, Victor Yampolsky, Len van Zyl, Louis Heyneman, Shirley de Kock Gueller en Shade Janson. Tweede ry: Edwin Mitas, Liam Burden, Godfrey Rahube, David Nkosi, Reghardt Kuhn, Grant Snyman, Jaco van Staden en Keith Moss. Derde ry: Charl van der Merwe, Chad Hendricks, Dane Coetzee, Schalk van der Merwe, Daniel Keet en Andre Oosthuizen. Agter: François du Toit en José Dias. Russell Scott was afwesig toe die foto geneem is.