‘Dit lyk nie vir my moontlik om hierdie era met sy vliegtuig, atoombom en radio in die ou vorms van die Renaissance of enige ander vervloë kunsvorm te verbeeld nie,’ het Jackson Pollock opgemerk
Deur JOHAN MYBURG
Terwyl Europa sin probeer maak het van die ná-oorlogse bestel ná 1945 en met die Koue Oorlog in aantog, het die sentrum van die kunswêreld van Parys na New York geskuif.
Dié skuif het egter nie oornag gebeur nie. Die New Yorkse museum vir moderne kuns is in 1929 en die “museum vir nie-objektiewe skilderkuns”, later bekend as die Guggenheim, in 1939 geskuif. Tot en met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het kuns in die VSA – veral ná die Depressie – ‘n ongekende opbloei beleef, ‘n opbloei wat onlosmaaklik aan ‘n ekonomiese opswaai gekoppel was.
Die na-oorlogse kuns was grootliks begaan oor identiteit, en die groeiende selfvertroue in die VSA was instrumenteel in dié opbloei. Verskeie vooraanstaande Europese kunstenaars het hulle in die VSA gaan vestig – van Josef Albers tot die surrealistiese broederskap met onder andere André Breton en Max Ernst en ook Marcel Duchamp en Man Ray.
In 1942 het Peggy Guggenheim haar galery, The Art of this Century, in New York geopen, met ‘n lang lys Europese kunstenaars wat werk daar vertoon het – onder andere Jean Arp, Georges Braque, Giorgio de Chirico, Salvador Dalí, Max Ernst, Alberto Giacometti, Wassily Kandinsky, Fernand Léger, André Masson, Roberto Matta, Joan Miró, Pablo Picasso en Yves Tanguy. Amerikaanse kunstenaars het ingesluit Alexander Calder, Joseph Cornell, David Hare, Willem de Kooning, Robert Motherwell, Jackson Pollock, Richard Pousette-Dart, Ad Reinhardt, Mark Rothko en Charles Seliger.
In 1936 het die American Abstract Artists (AAA) beslag gekry en verskeie lansies vir Amerikaanse abstraksie (teenoor Europese abstraksie) gebreek.
Die nadruk in die VSA op persoonlike verantwoordelikheid ná die oorlog het soomloos by ‘n meer en meer ontluikende Amerikaanse selfvertroue aangesluit en het aanleiding gegee tot ‘n soort hoop wat Parys (en Europa) nie meer kon bolwerk nie. New York (en die VSA) was des te meer aanloklik. Teen 1945 het die aandag van die kunswêreld die Atlantiese Oseaan finaal oorgesteek.
Die 1950’s was die ontstaantyd van Abstrakte Ekspressionisme, gevolg deur Nieu-Dada, Pop, Minimalisme en verskillende vorms van konseptuele kuns. Al dié rigtings het tussen 1945 en 1970 na vore gekom in wat ‘n mens breedweg na-oorlogse Amerikaanse kuns kan noem (en wat aan die een kant van moderne kuns en aan die ander kant kontemporêre kuns onderskei moet word).
“Dit lyk nie vir my moontlik om hierdie era met sy vliegtuig, atoombom en radio in die ou vorms van die Renaissance of enige ander vervloë kunsvorm te verbeeld nie,” het Jackson Pollock opgemerk.
Abstrakte Ekspressionisme, of AbEx, het die moontlikhede gebied waarna Pollock op soek was. Hoewel dit nie ‘n formele beweging of skool was nie, het Abstrakte Ekspressionisme kunstenaars soos Pollock, Willem de Kooning, Mark Rothko en Clyfford Still byeengebring wat voorkeur vir spontaneïteit, monumentale skaal en ‘n uitdrukking van gevoel gemeen gehad het.
Vroeë Abstrakte Ekspressionisme kan verdeel word in wat genoem word “action painting” met nadruk op die energieke merk wat die kunstenaar maak, en “color field painting”, met nadruk op oënskynlik drywende vlakke kleur. Van eersgenoemde was Pollock ‘n vername eksponent en van laasgenoemde Rothko en Barnett Newman.
Nadat Newman in die 1940’s heelwat surrealistiese werke gelewer het, het hy in die 1950’s sy kenmerkende minimalistiese skilderye bestaande uit groot vlakke kleur, geskei deur dun vertikale lyne (wat hy “zips” genoem het) geskilder.
Sy lewe lank het Newman nie die erkenning gekry wat hy verdien nie. Dit het eers ná sy dood gekom.