Die tweede Elizabeth Connell-prys vir dramatiese soprane is tans aan die gang en die wenner word in September in Sydney, Australië, aangekondig.
Johan Myburg
Die afgelope maand het die semifinaliste oudisisies afgelê in Sydney, San Francisco, New York en Londen en op 19 September ding die vyf finaliste mee om dié prys, in die lewe geroep deur die Suid-Afrikaans gebore sopraan Elizabeth Connell.
Connell, wat in 2012 dood is, het in haar testament sowat R9,5 miljoen nagelaat vir die oprigting van dié prys vir jong dramatiese soprane.
Die eerste wenner van dié prys verlede jaar was die Poolse sopraan Anna Patrys. Luister na Patrys se weergawe van “Liebestod” uit Wagner se Tristan und Isolde tydens die eindronde van die kompetisie op 13 September 2014. Die pianis is David Harper.
Elizabeth Connell
Elizabeth Connell
Elizabeth Connell is in 1946 in Port Elizabeth gebore, het aan Wits gestudeer en in 1970 ’n beurs gekry om in Londen te gaan studeer.
Ná haar debuut op Wexford-operafees in Ierland in 1972, het sy die volgende jaar haar debuut in Australië gemaak in Prokofiëf se War and Peace tydens die opening van die Sydney-operahuis. Dit was die begin van ’n besondere band wat Connell haar loopbaan lank gehad het met Opera Australia.
Met apartheid wat hoogty gevier het in Suid-Afrika het sy moeite gehad om in Brittanje werk te kry. Toe sy wel in 1975 aan die eerste aand van die Proms kon deelneem, het haar loopbaan koers gekry en het sy gereeld in Covent Garden opgetree. In 1980 het sy haar debuut in Bayreuth gemaak as Ortrud in Lohengrin en later as Brangäne in Tristan und Isolde.
Hoewel sy haar loopbaan begin het as mezzosopraan en veral Wagner-rolle haar eie gemaak het, het sy later as sopraan uitgeblink onder meer as Kostelnicka in Janácek se Jenufa, as Bellini se Norma, as Abigaille in Verdi se Nabucco en Ariadne in Strauss se Ariadne auf Naxos in voorstellings vir Opera Australia; as Leonore in Beethoven se Fidelio vir die Berlynse Staatsopera; en as die Färberin in ’n produksie van Strauss se Die Frau ohne Schatten in Frankfurt en vir die Deutsche Oper Berlin.
In 2004 het Connell die rol van Leonore vertolk in Beethoven se Fidelio tydens die tiende viering van die aanbreek van die demokratiese bestel in Suid-Afrika. Moises Parker het die rol van Florestan vertolk in dié produksie wat op Robbeneiland aangebied is.
In 2008 is sy lof toegeswaai vir haar vertolking van die titelrol in Puccini se Turandot in die Royal Opera House in Londen, ’n rol wat sy ook gesing het in Sydney, Hamburg en Praag. Luister na Connell se “In questa reggia” uit Giacomo Puccini se Turandot. Dié opname is in Februarie 2011 in Praag gemaak. Die was haar laaste operaoptrede.
In 2012 sou sy ook as Turandot in Melbourne optree, maar siekte het dit verhoed.
Haar laaste optrede was op 27 November 2011 in Hastings in Engeland. Luister na die aria “La luca langue” uit Giuseppe Verdi se Macbeth. Voor die klavier is Stephen Rose.
[iframe width=”350″ height=”197″ frameborder=”0″ src=”https://www.youtube.com/embed/yBg_8LZ1rqE?rel=0″ allowfullscreen=””]
Luister ook na Connell se encore op 27 November 2011 was Ernest Charles se “When I have sung my songs to you, I’ll sing no more”.
Elizabeth Connell is op 65-jarige ouderdom op 18 Februarie 2012 aan kanker dood.
Luister na ’n onderhoud van bykans ’n uur met die Australiese ABC Classic fm waarin Connell praat oor haar loopbaan, oor dirigente met wie sy saamgewerk het en bowenal oor tegniek. Benewens die insig wat Connell bied is dit die ingeligte gesprekvoerder, Margaret Throsby, wat ’n mens só beïndruk in dié onderhoud.
Oorweeg dié opnames
Elizabeth Connell se Schubert Lieder met Graham Johnson (klavier), Hyperion Records Complete Schubert Edition.
Mahler, Simfonie no. 8. Met Elizabeth Connell, Edith Wiens, Felicity Lott, Trudeliese Schmidt, Nadine Denize, Richard Versalle, Jorma Hynninen, Hans Sotin. London Philharmonic met Klaus Tennstedt (dirigent). EMI